Johannesburg. - “Ek
is nou maar nege dae hier,” sê mnr.
Bheki Sibiya, aangewese uitvoerende hoof van
die Kamer van Mynwese.
Hy
het die pos aanvaar, want dit is vir hom duidelik die mynbedryf is strategies
belangrik vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en op die vasteland in die
geheel.
“Die
mynbedryf word deur ’n hele aantal uitdagings in die gesig gestaar. As ek ’n
bydrae kan lewer om ’n paar daarvan op te los, gaan ek as individu vervuld
wees,” sê Sibiya, wat sy professoraat aan Wits se sakeskool neergelê het om die
top-pos by die kamer te aanvaar. Hy was van begin vanjaar tot verlede maand hoof
van die sakeskool.
Die
uitdagings van mededingende groei in die mynbedryf en transformasie maak hom
opgewonde. Om dié twee doelwitte te bereik, is die oorwegende tema in die
ooreenkoms wat die mynbedryf, vakbondleiers en die regering twee weke gelede
gesluit het.
“Daar
is bitter ernstige verbintenisse in dié dokument gemaak. Die magte wat hierdie
dokument onderteken het, gee my met dié aanstelling die geleentheid om te help
met die toepassing daarvan,” sê Sibiya. Sibiya handhaaf al jare lank ’n relatief
lae profiel in die sakesektor, maar het aansien verwerf as ’n uitmuntende regrukker, onder meer as uitvoerende direkteur van
lugvaart van Transnet, belas met die Suid-Afrikaanse Lugdiens, en as die eerste
uitvoerende hoof van Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa).
“Dit
was moeilik, want daar was 18 histories wit sakeorganisasies en 18 oorwegend en
histories swart organisasies wat probeer het om mekaar te vind. Die verwagtinge
van mekaar was onrealisties en ongeartikuleerd.
“Swart
organisasies het gemeen dat die wit organisasies kapitaalkragtig is en geld gaan
inbring en dat almal daarna vir altyd gelukkig saam gaan wees. Die wit
sakeorganisasies het weer van die swart organisasies verwag om politieke
geloofwaardigheid te verleen en gemeen dat hulle daarna geluk gaan beërwe.
“In
’n sekere sin was hulle reg, want pres.
Thabo Mbeki het Busa by ’n hele aantal
forums betrek, maar die uitdaging was die finansiering.
“Die
wit organisasies het Busa nie gefinansier in die mate wat nodig was nie,” sê
Sibiya.
Mnre.
Patrice Motsepe, eerste president van Busa, Attie du Plessis, voorsitter, en
Derek Cooper, voorsitter van die nuwe organisasie se finansiële komitee, het in
dié tyd sy hande vasgehou, sê hy.
“Cooper
het veral gehelp om wit sakeorganisasies te oorreed om meer by te dra as die
formule waarop ooreengekom is.”
Sy
moeilikste taak in die korporatiewe wêreld was die beëindiging van die diens van
mnr. Coleman Andrews as uitvoerende hoof van die SAL toe dit duidelik word dat
só ’n stap nodig is.
“Ek
het te doen gekry met een van die mees omvattende dienskontrakte wat ek nóg
gesien het. Ek het drie stelle regsgeleerdes geraadpleeg – en hulle was almal
duidelik daaroor: Julle sal hom moet betaal. Dit was vir my een van die
pynlikste dinge wat ek al ooit gedoen het – ons het hom ’n tjek van R113 miljoen
gegee,” sê hy.