Adri van Zyl in Johannesburg
adri.vzyl@sake24.com
Die maklikste en goedkoopste manier vir lede van pensioenfondse om beter voorsiening te maak vir aftrede is ’n groter bydrae tot ’n werkgewerspensioenfonds.
’n Bydrae van net 2% meer as wat die werknemer verplig is om te betaal, kan uiteindelik ’n groot verskil maak aan die maandelikse bedrag wat ná aftrede ontvang word (lees die tabel).
Groter bydraes deur werknemers word nie deur alle fondse toegelaat nie, maar dit is die moeite werd om uit te vind of jou fonds dit wel toelaat. Sommige fondse laat ook eenmalige bydraes van enkelbedrae toe.
Uit statistieke blyk dit dat 25% van alle lede van pensioenfondse minder as 12% van hul salaris tot hul pensioenfonds bydra. Dié persentasie is wat die departement van maatskaplike ontwikkeling aanbeveel, terwyl die Wêreldbank ’n werknemerbydrae van tussen 10% en 13% aanbeveel.
’n Groter bydrae tot ’n pensioenfonds is een manier om seker te maak dat jy ná aftrede die aan?bevole 75% van jou laaste salaris ontvang. Teen huidige bydraekoerse sal net 62% van alle lede van pensioenfondse dit regkry, blyk uit navorsing van Alexander Forbes.
Uit navorsing van Ou Mutual Konsultante en Aktuarisse (Omac) blyk dit dat die meeste mense ná aftrede net tussen 25% en 30% van hul laaste salaris kry.
Daar is verskeie voordele daaraan verbonde vir werknemers as hulle die bydrae verhoog, maar daar is ook ander faktore wat hulle in ag moet neem.
Bydraes kan net verhoog word as die reëls van die fonds dit toelaat. Dit is beslis die goedkoopste manier om bykomende voorsiening te maak vir aftrede, sê mnr. John Anderson, hoof van konsultasiestrategie by Alexander Forbes.
Mnr. Craig Aitchinson, besturende direkteur van Omac, sê die eerste stap as jy wil weet of ’n groter bydrae nodig is, is om vas te stel of dit wat reeds gespaar is, genoeg is om in die behoeftes ná aftrede te voorsien. Dié inligting word nie noodwendig in die state van die pensioenfonds aangedui nie, maar dit is beskikbaar.
Die tweede aspek wat mense in gedagte moet hou, is belasting – en dit hang af van persoonlike omstandighede.
Aitchinson sê vir mense wat ’n hoë persentasie belasting op onttrekkings aan die pensioenfonds gaan betaal, is ’n uittree-annuïteit ’n beter opsie. Lede moet ook in gedagte hou dat bydraes tot voorsieningsfondse nie van belasting afgetrek kan word nie, maar belastingaftrekkings word ná aftrede toegelaat. Die bykomende bydraes wat werknemers betaal, is nie van belasting aftrekbaar nie.
Ander beleggings soos uitkeerpolisse of effektetrusts kan ook gebruik word, maar die belastingimplikasies moet in ag geneem word.
Nog een van die voordele om die bydrae tot die werkgewerfonds te verhoog, is dat die beleggings ontwerp is as langtermynbeleggings. Daar word algemeen aanvaar dat mense vir minstens 40 jaar 15% van hul maandelikse salaris moet spaar om gerieflik af te tree.
Dit verseker ’n goeie opbrengs op die belegging omdat dit vir ’n lang tyd ’n hoë persentasie van die beleggings in aandele hou.
’n Ander manier waarop mense hul bydrae tot ’n pensioenfonds kan verbeter, is deur later af te tree – mits die maatskappy dit toelaat.
Aitchinson sê deur die aftree-ouderdom uit te stel van 60 tot 65 jaar, kan die uiteindelike pensioenbedrag tussen 20% tot 30% hoër wees.
Deur aftrede uit te stel, word nie net meer gespaar nie, maar die tydperk ná aftrede is ook korter, wat die beskikbare maandelikse bedrag verhoog.