Johannesburg. - Die huismark is terug in die era van die deposito. Dit beteken dat
voornemende huiskopers sal moet spaar vir ’n deposito
voordat hulle ’n huis kan koop.
Absa wil hê huiskopers moet ’n deposito van minstens 15% van die waarde van die
eiendom neersit, het mnr. Luthando Vutula, bestuurshoof van Absa Huislenings, Maandag by die bekendstelling van Absa se kwartaallikse residensiële verslag
gesê. Dit kom neer op ’n lening-tot-waarde-verhouding van 85%.
Die lening-tot-waarde-verhouding is die verbandlening as
persentasie van die waarde van die eiendom.
Die bank wil dus hê dat die verbruiker die risiko van die
transaksie met die bank deel deur ’n deposito te betaal.
Op ’n huis van R1 miljoen gaan die deposito dus R150 000 beloop en
op R500 000, R75 000.
Dit beteken nie dat
100%-lenings nié toegestaan sal word nie, net dat die bank uiters selektief gaan
wees oor wie dit sal kry. Só ’n besluit sal op die kliënt se risikoprofiel
gegrond wees.
Bestaande
Absa-kliënte sal voorkeur kry hiervoor omdat die bank ’n geskiedenis het van die
kliënt se finansiële profiel.
Mnr. Jacques du Toit, senior eiendomsontleder by Absa se
huisleningsafdeling, sê dit maak dit moeiliker vir huishoudings om ’n huis te
koop en gaan dissipline verg. Hy sê huishoudings spaar bykans niks nie, soos weerspieël word in die netto
spaarkoers, waar huishoudings se netto besparing as persentasie van besteebare
inkomste op -0,1% was in die vierde kwartaal van verlede jaar.
Hy sê bekostigbaarheid gaan ’n belangrike faktor in die huismark
bly. Hoewel die bekostigbaarheid van huisvesting die afgelope twee jaar verbeter
het namate rentekoerse verlaag is en huispryse gedaal het, lyk dit asof
bekostigbaarheid nou weer onder druk kom.
Hy grond dié siening op die nuutste tendens in een van die
aanwysers van die bekostigbaarheid van huisvesting, naamlik die verhouding van
huispryse tot besteebare inkomste. Huispryse groei tans vinniger as besteebare
inkomste.
In die vierde
kwartaal van verlede jaar het huispryse met 4,4% op ’n jaargrondslag toegeneem,
heelwat vinniger as besteebare inkomste wat met 2,7% op ’n jaargrondslag
toegeneem het.