Minder besteding én minder besparing.
Dít is wat Suid-Afrikaanse verbruikers vir die res van die jaar
beoog, is in ’n ondersoek deur MasterCard se wêreldwye ondersoek na verbruikers
se bestedingsprioriteite bevind.
Die ondersoek skets ’n prentjie van verbruikers wat steier onder ’n
skuldlas wat hulle dwing om huishoudelike en diskresionêre besteding in te kort,
maar terselfdertyd steeds min oorlaat om te spaar.
Altesame 45% van die verbruikers wie se mening getoets is, het
aangedui hulle gaan hul besteding aan diskresionêre items, soos klere, uiteet en
verbruikerselektronika, inkort. Dit is beduidend meer as die 38% wat ses maande
gelede só gesê het.
Ses maande gelede het 47% gesê hulle gaan meer spaar. Dié syfer is
nou net 37%.
Die ondersoek wys dis onwaarskynlik dat die stewige ekonomiese
groei van 4,6% in die eerste kwartaal die res van die jaar sal voortduur. Me.
Kay Walsh, senior ekonoom by Deloitte Suid-Afrika, verwag groei van tussen 2% en
3%. “Ons verwag steeds ’n ekonomiese herstel, maar meer matig as
voorheen.”
Die ontsparingskultuur van verbruikers sal nie gou verander nie.
Dalende reële inkomste en werkverliese kan selfs verbruikers se penarie verder
vererger, sê sy.
Altesame 36% van verbruikers sê hulle gaan oor die volgende ses
maande minder spaar. In die eerste helfte van die jaar het 23% só gesê. Altesame
76% sê nou hulle inkomste is nie groot genoeg om te spaar nie.
Oor alle kategorieë het 77% van die verbruikers gesê hulle is
voornemens om minder as 21% van hul inkomste oor die volgende ses maande te
spaar. Dit is ’n styging van 9 persentasiepunte vergeleke met 68% ses maande
gelede.
Die aantal verbruikers wat kop bo water hou deur hul inkomste net
aan noodsaaklike huishoudelike items te bestee, het tot 58% gestyg – 18
persentasiepunte hoër as ses maande gelede. Huishoudelike items sluit in
skoolgelde, kos, vervoer, mediese uitgawes en versekering.
Walsh sê die meerderheid Suid-Afrikaners het nog altyd die grootste
deel van hul inkomste aan huishoudelike uitgawes bestee. Net die top-20% kon dit
bekostig om ’n wesenlike deel van hul inkomste te bestee aan diskrêsionere
uitgawes soos voertuie, mode en uiteet.
Die resessie en stram ekonomiese omstandighede raak ook nou dié
hoërinkomstegroepe.
Die grootste deel van besteebare inkomste in dié groep (44%) word
bestee aan klere en verwante toebehore en 33% aan uiteet en vermaak. Die aankoop
van verbruikerselektronika is teen 22% nou die derde grootste bestedingsitem en
het die opgradering van ’n huis (21%) verbygesteek.
Die ondersoek is vir die eerste keer na verskeie ander Afrika-lande
uitgebrei. Verbruikers in Nigerië, Kenia en Marokko huldig ander sienings oor
besteding as Suid-Afrikaanse verbruikers, het die opname getoon.
Gemiddeld 54% van Afrika-verbruikers buite Suid-Afrika sê hulle
gaan oor die volgende ses maande meer spaar teenoor Suid-Afrika se 37%. In Kenia
het 63% so aangedui en in Nigerië 84%.
Walsh sê Keniaanse verbruikers het ’n beduidend groter spaarkultuur
as dié in Suid-Afrika, veral vir opvoedkundige uitgawes.