Pryse op die fabrieksvloer klim weer, toon die produksieprysindeks (PPI) vir Desember, wat gister deur Statistieke Suid-Afrika bekend gemaak is.
Op ’n jaargrondslag het die PPI vir die eerste keer in sewe maande gestyg. Dit was op 0,7% hoër as die konsensusverwagting van 0,1%. Sonder die uitwerking van elektrisiteitspryse sou dit steeds negatief gewees het. Duurder krag het 1,1 persentasiepunt tot die styging bygedra.
Die jongste PPI-syfers behoort nie ’n impak op die Reserwebank se planne vir die rentekoers te hê nie, sê mnr. Johan Rossouw, ekonoom van Vunani Sekuriteite. Die meeste ekonome verwag dat die koers vir die res van die jaar onveranderd sal bly.
Volgens mnr. André Roux, hoof van vaste inkomste by Investec Batebestuur, toon die jongste inflasiesyfers dat verlede jaar se skerp verlaging in die olieprys nou heeltemal deur die syfers gewerk het. Die laer olieprys het ’n hele paar maande daartoe bygedra dat PPI-inflasie negatief was.
Volgens Nedbank se groep ekonome is die terugkeer van PPI-inflasie eerder ’n weerspieëling van hoër hulpbronpryse as van druk van die vraagkant. Die jongste syfers sal daarom nie op kort termyn ’n nadelige uitwerking op verbruikersinflasie hê nie.
– Theunis Strydom