Johannesburg. - Verbruikers dra steeds swaar aan ’n hoë skuldlas en dit sal nog geruime tyd duur voordat kredietverlening weer sterk
groei.
Uit die nuutste verslag van Absa Huislenings oor die verbandskuld
van huishoudings blyk dit dat die verhouding van skuld tot besteebare inkomste
in die eerste kwartaal van vanjaar steeds 78,4% was.
In Mei het die groei in verbandvoorskotte verder verlangsaam.
Lenings vir kommersiële en residensiële eiendom het in Mei op ’n
jaargrondslag met 3,4% toegeneem vergeleke met ’n toename van 3,6% in April. Dit
is ten spyte van die noemenswaardige daling in uitleenkoerse van 15,5% 18 maande
gelede tot 10% nou.
Die verhouding van uitstaande verbandskuld tot besteebare inkomste
was in die eerste kwartaal van vanjaar 47,8%, wat effens laer is as die 48,8% in die vierde kwartaal van verlede
jaar.
“Al het die skuldverhouding afgeplat, is die meeste huishoudings
nie beter daaraan toe nie,” sê mnr. Jacques du Toit, senior eiendomsontleder
van Absa Huislenings.
Die skuldverhouding van die meeste huishoudings het in Mei relatief
stabiel gebly. Die koste daarvan om verbandskuld te delg het in Mei gedaal tot
4,9% van besteebare inkomste, wat net effens laer
is as die 5,1% in April.
Die koste om verbandskuld te delg was nietemin in Mei die laagste
sedert laat in 2006 danksy ’n styging van 3,6% in die nominale besteebare
inkomste van huishoudings en ’n toename van net 1,5% in die verbandskuld. Die
verhouding van verbandskuld tot totale skuld van huishoudings het in die laaste
paar kwartale gestabiliseer op 61%.
Du Toit sê verbandskuld sal in die res van die jaar steeds met
minder as 10% groei. Verbruikers sal traag bly om ander skuld aan te gaan en
kredietverskaffers sal traag wees om krediet toe te staan aan skuldbelaaide
verbruikers.
Hy voorspel dat verbruikers eers weer aanstaande jaar ’n bietjie
beweegruimte sal hê om verdere skuld te maak omdat besteebare inkomste na
verwagting sal styg.
Rentekoerse sal na verwagting vir die res van die jaar dieselfde
bly.