Johannesburg. - Die amptelike werkloosheidskoers het van 25,2% in die eerste
kwartaal tot 25,3% gestyg met 61 000 werkgeleenthede wat in die tweede kwartaal
tot niet gegaan het.
Die land het volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se
arbeidsmagpeiling dus 1,102 miljoen poste verloor sedert begin verlede jaar – 870 000 in 2009, nog
171 000 in die eerste kwartaal en die jongste 61 000 in die tweede
kwartaal.
Die werklike werkloosheidskoers het in die tweede kwartaal egter
gestyg van net onder 40% tot 41%, volgens die Buro vir Marknavorsing aan Unisa
wat ook uitsetsyfers in die verskillende ekonomiese sektore gebruik om
werkloosheid te meet.
“Volgens die Amps-syfers (wat deur die advertensiebedryf vir
bemarking gebruik word) is die werkloosheidsyfer nóg hoër, op 63%,” sê prof.
Carel van Aardt, direkteur van die buro.
Veral werkloosheid onder jeugdiges het skrikwekkende afmetings
aangeneem en het in dié kwartaal vir die eerste keer tot meer as 50% gestyg in
die ouderdomsgroep 15 tot 24 jaar. Die amptelike werkloosheidskoers in dié
groep, wat waarskynlik ’n onderskatting is, staan op 51,3%.
Indiensneming in die formele sektor het in die tweede kwartaal met
1,4% gekrimp en 129 000 poste is verloor, maar die informele sektor het 5,7% meer mense
in diens geneem en het met 115 000 poste gegroei.
Die landbou het met 32 000 werkgeleenthede gekrimp en
werkgeleenthede in private huishoudings het met 14 000 gedaal – ’n aanduiding
dat die druk op verbruikers nog glad nie verlig is nie.
Van Aardt sê die groei in geleenthede in die informele sektor is
eintlik net mense wat een of ander ekonomiese aktiwiteit aanpak om te probeer
oorleef.
Hy wys daarop dat SSA sowat 1 miljoen mense, wat vroeër as werkloos
geklassifiseer is, oorgeskuif het na die kategorie van ontmoedigdes wat nie meer
werk soek nie en dus nie as werkloses beskou word nie.
Volgens SSA se syfers het die vervaardigingsektor in die kwartaal
nóg 53 000 werkgeleenthede verloor, wat beteken
dat dié belangrike bedryf met 217 000 poste
gekrimp het sedert ’n jaar gelede – ’n inkrimping van 11,6%.
Die sorgwekkende is dat poste soos
masjienoperateurs en tegnici die meeste van die verlore poste is. Volgens Van Aardt is dit die bykomende
produksievermoë wat in die tydperk 2002 tot 2008 opgebou is wat nou tot niet
gemaak word.
“Noudat dit lyk asof dié maatskappye weer begin groei, wag hulle
eers om te sien of die groei volgehou gaan word,” sê hy. Dis nietemin positief
dat die werkloosheidskoers stadiger toeneem.
“Die arbeidsmag reageer drie tot ses maande later as ander
ekonomiese aanwysers. Ons vooruitskattings dui daarop dat ons in die derde
kwartaal steeds werkgeleenthede gaan verloor, maar
nog minder as in die tweede kwartaal.
“Die arbeidsmark kan egter in die vierde kwartaal weer begin groei,
waarskynlik met tussen 0,1% en 0,2%,” sê Van Aardt.