Johannesburg. - Suid-Afrika
sal ná vandag die ware berekenings begin doen of dit werklik finansieel die
moeite werd was om die Wêreldbeker aan te bied.
Die
regering het reeds gesê hy het R38 miljard bestee.
Mnr.
Pravin Gordhan, minister van finansies, het vroeër gesê die staatsuitgawes en
inkomste uit die toernooi sal mekaar min of meer uitbalanseer.
Ekonome
verskil oor die totale besteding om die toernooi aan te bied en sê dit is baie
moeilik om te bepaal hoeveel die private sektor in afwagting van die toernooi
bestee het.
’n
Sake24-ondersoek het
bevind dat ramings van die privatesektorbesteding tussen R8 miljard en R57
miljard wissel. Dít beteken dat die totale koste van die toernooi tussen R46
miljard en R95 miljard kan beloop
Mnr.
Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, sê die private sektor kon ’n
geraamde R5 miljard aan akkommodasie bestee het en ’n bykomende R3 miljard aan
vervoer en ander vermaaklikheidsdienste soos restaurante.
Mnr.
Philip Cole, onafhanklike ontwikkelingsekonoom, sê die ekonomiese
menigvuldigereffek kan meebring dat die totale regstreekse en onregstreekse
koste van die toernooi in die omgewing van R95 miljard is.
Die
koste sal net verhaal word deur verhoogde handel oor die volgende jare.
Verskeie
sakeleiers het aan Sake24 gesê hulle sien reeds positiewe tekens
wat uit die toernooi vloei wat groter langtermynvoordele sal inhou.
Mnr.
Marius Heyns, uitvoerende hoof van die konstruksiegroep Basil Read, wat pas
teruggekeer het van ’n sakebesoek aan Frankryk en die Midde-Ooste, sê sy
ontvangs was “ongelooflik” danksy Suid-Afrika se suksesvolle aanbieding van die
toernooi.
Basil
Read het die Mbombela-stadion in Nelspruit saam met sy Franse vennoot, Bouygues,
gebou.
“Ek
kry oproepe vanaf Ekwatoriaal-Guinee, Angola en Libië om daar te kom stadions
bou.” Daar was ook belangstelling uit Uganda.
Europese
kliënte besef ook skielik hulle kan Suid-Afrikaanse konstruksiegroepe nooi om te
tender omdat hul handewerk ooglopend van ’n hoë standaard is.
“Die
welwillendheid teenoor Suid-Afrika in Afrika, die Midde-Ooste en Australië is
ongelooflik en kan beslis gekoppel word aan die suksesvolle aanbieding van die
toernooi,” sê Heyns.
Vir
Basil Read is die opbrengs uit die toernooi reeds baie groter as dit wat op die
inkomstestaat staan, sê hy.
Mnr.
Fred Platt, uitvoerende hoof van die Accentuate-groep, wat die vloerbedekking
vir nege van die wedstrydstadions en drie oefenstadions, asook dele van die O.R.
Tambo- en King Shaka-lughawens verskaf het, sê sy Europese verskaffers kyk
danksy die goeie mediadekking tydens die toernooi met ander oë na die
Suid-Afrikaanse mark.
“Europese
lande het Suid-Afrika nie tot dusver as ’n belangrike mark gesien nie, maar hul
houding verander.”
Mnr.
Tommy Edmond van Tourvest sê dié groep het ’n hele nuwe onderneming tot stand
gebring danksy die toernooi.
Tourvest
Event Activation Management (TEAM) het sowat 60 000 besoekers, die meeste
verbonde aan Fifa se groot borge, tydens die toernooi hanteer.
Edmond
sê die groep se sakemodel kan met enige groot byeenkoms ter wêreld ingespan word
en Tourvest het reeds ’n kantoor in Brasilië geopen met die oog op die volgende
Wêreldbeker-sokkertoernooi oor vier jaar daar en die latere Olimpiese Spele.
TEAM
het danksy die toernooi ’n splinternuwe kliëntebasis bygekry en sy paar honderd
personeellede het vaardighede ontwikkel wat hul waarde wêreldwyd verhoog.
“Ons
het baie meer baat gevind by die toernooi as wat uit vanjaar se syfers sal
blyk,” sê hy. Boonop het bykans al die gaste gesê hulle kom terug na Suid-Afrika
vir ’n vakansie.
Kaapstad-toerisme
meen ook die huidige 1,8 miljoen jaarlikse internasionale besoekers kan tot 3
miljoen jaarlikse besoekers aan Kaapstad toeneem as gevolg van die sowat 3
miljard mense wat wêreldwyd op televisie na die toernooi gekyk het.
InnStaff,
’n filiaal van die Kelly-werwingsgroep, het 7 500 werkers van nuuts gewerf en
opgelei in kliënteverhoudinge en gasvryheidsvaardighede, sê mnr. Peter Czakan,
besturende direkteur.
Dít
sluit 250 leerderskappe van tien maande vir algemene bestuurders in.
Hoewel
die algemene werkers wat in die stadionlosies gewerk het waarskynlik ná die
toernooi uit diens gestel sal word, sê hy die opleiding en ervaring in ’n
situasie van hoë druk sal hulle waarde in die arbeidsmark plaaslik en in die
streek verhoog.
Mnr.
Danie de Wet, eienaar van die De Wetshof-wynlandgoed buite Robertson, sê danksy
die Wêreldbeker-blootstelling sal internasionale wynverbruikers nie meer by
Suid-Afrikaanse wyne op die winkelrak verbyloop sonder ’n benul van wie en waar
die land is nie.
“Tweedens
word gehoop dat die hoë profiel wat Suid-Afrika danksy die toernooi het sy beeld
as verskaffer van goedkoop wyne kan verander na een wat wyne van gehalte en
waarde lewer,” sê De Wet.
Volgens
Reuters
het Investec Batebestuur verder buitengewone belangstelling van Japanse
beleggers bespeur nadat dié land na die tweede ronde van die toernooi
deurgedring het.
Mnr.
John Mackie, hoof van Afrika-beleggings by Stanlib, het aan Reuters gesê daar is
definitief groter belangstelling in Suid-Afrika as beleggingsbestemming uit
Europa.
Dít
word beskou as van die eerste “onberekenbare voordele” uit die toernooi.
Reuters het ook
berig dat Suid-Afrika die bedrag met rente gaan verhaal danksy ’n
herposisionering van ’n land geteister deur geweldsmisdaad tot een wat die
grootste sportgebeurtenis ter wêreld seepglad aanbied in ikoniese stadions en
voor geesdriftige sportgeesdriftiges wat hulle goed gedra.
“Mense
sit in Denemarke, Frankryk en Brittanje en sê dié stadions lyk baie beter as
enigiets wat ons het en dit lyk of alles werk en almal nog leef,” sê Mackie.