Johannesburg. - Suid-Afrikaners kan vandeesweek ’n goeie aanduiding kry of hulle ’n
rentekoersgeskenk van die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) kan
verwag.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) het ’n besige dataweek met onder meer
indiensnemingsdata wat môre gepubliseer word en die jongste
verbruikersprysindeks (VPI) en produsenteprysindeks (PPI) wat oormôre en
Donderdag bekend gemaak word.
VPI-inflasie het in April verras en tot 4,8% op ’n jaargrondslag
gedaal en ekonome verwag dat die aanwyser in Mei selfs nader aan die middelpunt
van die Reserwebank se inflasieteiken van 3% tot 6% kon daal.
Dit is onder meer danksy voedselprysinflasie wat steeds daal en ook die sterk rand en swak volgehoue swak
verbruikersvraag wat handelaars se vermoë om pryse te verhoog, beperk.
Me. Carmen Nel, ekonoom van Rand Aksepbank (RAB), sê as Mei se
VPI-inflasie verras deur onder 4,5% te wees, en die olieprys bly stabiel, kan
inflasie in die derde kwartaal maklik tot onder 4% daal. Dit sal die verwagtinge van nog ’n
rentekoersdaling volgende maand heelwat groter maak.
Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) publiseer môre die
resultate van sy jongste opname oor inflasieverwagtinge. Die opname behoort ’n
goeie aanduiding te gee van wat ontleders en vakbonde verwag die vlakke van
VPI-inflasie in die komende kwartale sal wees.
PPI-inflasie was in April 5,5% op ’n jaargrondslag en kon volgens
Nel in Mei tot bo 8% op ’n jaargrondslag geklim het. Dit is egter hoofsaaklik
vanweë die lae basis van 2009 en is nie noodwendig ’n aanduiding dat
VPI-inflasie sal begin klim nie.
“Gegewe die wisselvalligheid in die PPI skenk ons nie te veel
aandag aan die aanwyser nie, tensy daar breë aanduidings is van prysdruk wat op
pad is. Dit was tot dusver beslis nie daar nie, veral nie in die
voedselkomponente nie,” sê Nel.
SSA publiseer ook môre indiensneming- en inkomstedata vir die
eerste kwartaal.
Me. Annabel Bishop, ekonoom van Investec, sê hierdie data kan ’n
daling toon in die aantal mense wat in die eerste kwartaal werk gehad het en sal
die kans op nog ’n rentekoersdaling van ’n halwe persentasiepunt verhoog.
Die skynbare gebrek aan diepte in die ekonomiese herstel kan ook
vanoggend bevestig word wanneer die Reserwebank sy leidende aanwyser vir April
publiseer. Die aanwyser het die afgelope tyd gedaal, wat daarop dui dat
ekonomiese omstandighede in die tweede helfte van vanjaar moeiliker as in die
eerste helfte kan wees.
Die bank se kwartaalverslag vir die eerste kwartaal word Donderdag
gepubliseer. Die verslag sal onder meer die tekort op die lopende rekening vir
die kwartaal bekend maak en ook toon of die huishoudelike verbruiksbesteding en
kapitaalvorming verder herstel het.
Kleinhandelverkope het in April met ’n sterker as verwagte 3,2% op
’n jaargrondslag gegroei, maar Moody’s Analytics het Vrydag in ’n verslag
gewaarsku dat vebruikers steeds versigtig is om geld uit te gee en dat hulle
veral sku is om skuld te maak om groot aankope te doen.
“Swak indiensnemingsvooruitsigte en volgehoue onsekerheid oor
toekomstige inkomste sal verbruikers veral aanmoedig om skuld verder af te betaal en eerder te spaar as te bestee,”
het Moody’s gesê.