DIE wisselvallige mark het baie beleggers senuagtig gemaak oor volle blootstelling aan aandele. Pleks daarvan verkies hulle gebalanseerde of vasterentefondse. As die bestuurder in die kol is met batetoewysing vir dié fondse, kan die opbrengs lonend wees.
In wat ook na 'n teenstrydigheid lyk, het vasterentefondse positief gereageer op die jongste verlaging van rentekoerse. Prieur du Plessis, voorsitter van die Plexus-groep, sê die indeks van alle effekte het met 1,4% gestyg in die week toe die president van die Reserwebank, Gill Marcus, koerse met 0,5 persentasiepunt verlaag. "Die genoteerde-eiendomsektor het ook daarby baat gevind en 'n opbrengs van 2,2% vir die week gelewer. Die belangrikste vraag is: Wat is die vooruitsigte vir plaaslike vasterentebates?"
Cadiz se absolute-opbrengsfonds het in die onlangse Morningstar/FM-kompetisie 'n toekenning gekry en is eerste geplaas in die kategorie versigtige gebalanseerde fondse. Sy opbrengs was 11,2% per jaar oor die drie jaar tot einde Desember 2009, wat beter is as sy norm van VPI plus 3%, wat 11,18% per jaar was.
Bronwyn Blood, die portefeuljebestuurder, sê: "Hoewel ons selde op kort termyn verstommende opbrengste behaal, presteer die fonds stewig en konsekwent op langer termyn. Daar word van die fonds verwag om meer konsekwente opbrengste as 'n gewone inkomstefonds te lewer en hy doen dit ook; hy verminder ook die wisselvalligheid wat normaalweg inherent aan die effektemark is."
Sy voeg by dat die fonds geskik is vir konserwatiewe beleggers met 'n medium- tot langertermyn-benadering; dit is ook die tipe fonds wat baie beleggers nou verkies.
Du Plessis sê buitelanders is vanjaar betreklik groot kopers van SA effekte, met netto aankope van ongeveer R12,7 miljard. Hy waarsku egter: "Buitelanders is berug as wispelturige beleggers, en met die jongste koersverlaging het die plaaslike effektemark minder aantreklik geword."
Die vaste-inkomstespesialiste Atlantic Batebestuur het nie die verlaging van rentekoerse verwag nie en sê koerse moes nie verlaag gewees het nie. Sy fondse het nietemin baat gevind daarby.
"Ons mening is dat inflasie oor die volgende paar maande gaan daal en ons het ook nie 'n moontlike koersverlaging uit die oog verloor nie. Daarom het ons bates toegewys sodat ons voordeel kon trek as ons mening reg blyk te wees, en terselfdertyd het ons ook gesorg vir verskansing vir wat ons as 'n moontlike risiko beskou het, naamlik 'n verlaging van rentekoerse," sê Albert Botha, ontleder en portefeuljebestuurder.
Atlantic het groot blootstelling aan langtermyn-effekte gekry. Botha sê party is verkoop ná die onlangse lopie in effekte-opbrengste. "Daardeur kon ons 'n deel van die lopie in die bank kry. Dit beteken nie ons is skielik pessimisties nie - ons kan die mark te eniger tyd weer betree."
Du Plessis, wat bang is dat die wêreldekonomie 'n dubbele resessie kan beleef wat na opkomende ekonomieë soos SA sal oorspoel, wys daarop dat plaaslike effekte nie soos effekte in ontwikkelde markte reageer nie. "Hoewel flouer groei gewoonlik tot kleiner opbrengste op effekte en stygende kapitaalwaardes lei, is dit nie noodwendig die geval met effekte in opkomende markte nie omdat opbrengste styg wanneer internasionale ekonomiese groei verlangsaam, en omgekeerd. As wêreldgroei afneem, kan dit tot 'n grootskaalse afverkoop in ons mark deur buitelanders lei."
Moeilike tyd vir uittree-annuïteite
UITTREE-ANNU?EITE word gewoonlik beskou as die veilige en doeltreffende produk vir mense wat vir aftrede spaar. Verder hou beleggers in die hoër inkomstegroepe van uittree-annuïteite (UA's) omdat bydraes van belasting afgetrek kan word.
Dié situasie kan egter verander as gevolg van konsepwysigings aan regulasie 28 by die wet op pensioenfondse wat van effektetrusts 'n sterker beleggingsopsie maak, sê Darron West van Foord Asset Management. "Die strekking van regulasie 28 is om verstandige riglyne te gee vir die belegging van die bates van 'n aftreefonds. Die rasionaal is dat sonder sulke regulasies, beleggingsbestuurders, of beleggers self, die bates onvanpas of onoordeelkundig kan belê."
Hy sê die voorwendsel van die voorgestelde wysigings is om definisies op te knap en moderne ontwikkelings in finansiële markte in aanmerking te neem. "Dit hou egter ook 'n paar bykomende beperkings in, veral ook dat 'n UA-belegger moet seker maak van sy of haar individuele voldoening aan regulasie 28 se vereistes rakende beleggingspreiding. Dié beperkings kan op die ou einde 'n UA 'n fundamenteel minder wenslike produk maak omdat UA-kliënte wat die skynbare voordeel van die belastingaftrekking wil hê maar ook die vryheid om in suiwer aandele of suiwer buitelandse fondse te belê, nie meer dié keuse gegun sal word nie."
West aanvaar daar sal steeds argumente ten gunste van die UA wees op grond van die skynbare belastingvoordele, maar hy sê Foord se gedetailleerde en omvattende toets van dié vermeende voordele het tot verskillende gevolgtrekkings gelei. "In beginsel kry beleggers in 'n UA 'n belastingvoordeel op 'n betreklik klein beleggingsbedrag. Dié bedrag behoort aansienlik te groei en die gevolglike annuïteit, moontlik 'n groter bedrag, sal aan inkomstebelasting onderhewig wees. Daarteenoor, hoewel geen belastingaftrekking op 'n diskresionêre belegging in effektetrusts toegelaat word nie, is die latere onttrekkings hoofsaaklik aan die voordeliger kapitaalwinsbelasting onderhewig."
Hy sê Foord voer steeds aan dat gedissiplineerde beleggers beter daaraan toe is deur hul aftreespaargeld regstreeks in diskresionêre effektetrusts te belê pleks van in UA's, en die voorgestelde wysiging van regulasie 28 maak sy argument nog sterker.