Dit is nie altyd prakties of kostedoeltreffend om elke transaksie in 'n onderneming te toets om voldoening met inagneming van risiko te verseker nie. Die fokus behoort eerder te wees op die wesenlike risiko waaraan 'n onderneming blootgestel is.
Volgens Julie Methven, uitvoerende hoof van die Compliance Institute of SA, behoort sowel die bestuur as die voldoeningsafdeling groter aandag aan hoërisikogebiede te gee. "Hulle moet bepaal wat belangrik is en dit deeglik aan die betrokke werknemers uitstippel," sê sy.
Die instituut het die raamwerk vir algemeen aanvaarde voldoeningspraktyk opgestel wat die beginsels, standaarde en riglyne vir SA ondernemings uiteensit.
"Hoewel risikotoleransie, veral ten opsigte van voldoeningsrisiko, sal help om vlakke van wesenlike belang te bepaal, moet die bestuur ook die potensiële invloed van die risiko's op die onderneming se strategie en die bereiking van sy sakedoelwitte evalueer," sê sy. "Alle ondernemings moet 'n mate van risiko aanvaar om sukses te kan behaal."
Talle sakehandboeke sal waarskynlik sê doeltreffende risikobestuur vereis dat die impak van inherent onseker gebeure en omstandighede bepaal moet word, met die klem gewoonlik op twee aspekte: wat die kans is dat die gebeure kan plaasvind (waarskynlikheid) en watter uitwerking dit sal hê indien dit wel plaasvind (invloed). Laasgenoemde sluit sowel kwantitatiewe as kwalitatiewe faktore in. Kwantitatiewe faktore is onder meer geldelike verliese of boetes, en 'n onderneming kan 'n vooraf opgestelde beskouing hieroor hê. 'n Maatskappy kan byvoorbeeld besluit dat 'n enkelbedragverlies van meer as R1 miljoen rampspoedig sou wees, terwyl bedrae van minder as R10 000 nie 'n wesenlike verskil maak nie. Kwalitatiewe faktore sluit in 'n negatiewe aanslag op die onderneming se beeld of reputasie.
Terwyl duidelike impakraamwerke ontwikkel kan word, is waarskynlikheidsevaluering dikwels nie so maklik nie. Dit geld veral projekte waar data oor risikowaarskynlikheid van vorige projekte nie beskikbaar of nie ter sake is nie. Die geloofwaardigheid en waarde van die risikobepalingsproses is groter as die gegewens sorgvuldig ingesamel word, as genoeg tyd daaraan bestee word en indien die regte instrumente gebruik word om inligting wat vir oordeelsbesluite nodig is, behoorlik saam te stel.
Omgekeerd word die proses ondermyn as waarskynlikheidsevaluering klaarblyklik heeltemal subjektief ('n raaiskoot) is. Dit is daarom belangrik om waarskynlikheid met 'n sekere mate van vertroue te kan bepaal. Alternatiewe tegnieke vir die evaluering van risikowaarskynlikheid moet gebruik word sodat subjektiwiteit uit dié wesenlike element van die risikobestuursproses geskakel kan word.
"Die maatskappy moet ook besluit of die faktore gewoonlik as van wesenlike belang beskou sou word," sê Methven.
In die finansiëledienstebedryf het dit byvoorbeeld onder meer te doen met reguleringsgoedkeuring, wat die uitwerking sou wees as 'n bedryfslisensie opgeskort word, moontlike geldwassery, misdrywe in die mark, geldelike bedrog of binnehandel.
Van die faktore wat oorweeg moet word, is of die nodige beheermaatreëls beskikbaar is om voldoening te verseker, of dit toereikend en doeltreffend is, hoe ingewikkeld die reguleringsvereistes is en die kundigheid en doeltreffendheid van die mense in die onderneming.
Methven sê dis belangrik om so objektief moontlik te wees wanneer risiko geëvalueer word, en die vlak waar optrede vereis word of dit by die topbestuur of reguleerders aangemeld word, moet omskryf word. "Risiko-evalueringskale moet eerstens gebruik word om die risiko wat 'n bepaalde wetlike vereiste in die geheel vir 'n maatskappy inhou, te ondersoek en dan moet die vernaamste voorwaardes bekyk word," sê sy.
'n Maatskappy kan byvoorbeeld besluit dat voldoening aan die wet op finansiële intelligensiesentrums (Fica) van groot belang vir sy sake is weens die swaar strawwe wat opgelê kan word as die wet oortree word. Die belangrike bepalings van Fica sal dan nagegaan word en in rangorde geplaas word volgens die uitwerking wat die oortreding van elk van die bepalings sou hê.
Methven sê: "Sodra daar besluit is watter reguleringsvereistes hoog op die prioriteitslys geplaas word, kan die vernaamste vereistes waaroor verslag gedoen moet word, bepaal word. Dit help die voldoeningsafdeling verantwoordelik om vas te stel watter artikels in die wet besondere aandag verdien en om seker te maak dat dit as standaard by voldoeningsverslae ingesluit word."
Geen ondernemings sal uiteraard dieselfde definisie aan vlakke van wesenlike belang heg nie, maar Methven sê dis belangrik dat daar in roetineverslagdoening op aspekte van hoë risiko gefokus word, veral waar dit 'n uitwerking kan hê op die bereiking van die maatskappy se sakedoelwitte. "Dit kan beteken dat die voldoeningsfunksie meer sakegeoriënteerd moet word en dat nou met die bestuur saamgewerk word om oplossings te vind. Dit moet gereeld gedoen word, want risiko verander deurentyd."