Gebruiksooreenkoms vir Sake24
Lees asseblief die volgende bepalings en voorwaardes baie versigtig deur, want jou
gebruik van Sake24 se webtuiste, -dataprodukte, -soekenjin en ander dienste is aan
jou aanvaarding van en voldoening aan die bepalings en voorwaardes (hierna die “bepalings”),
asook die Gebruikersreëls onderworpe.
1 Inleiding
1.1 Ons (Media 24 Beperk, wat deur sy afdeling Sake24 optree) is die eienaar van
dié webtuiste.
1.2 Sake24.com is ’n portaal wat finansiële inligting, rekenaars, instrumente en
nuusartikels op sowel ’n gratis as slegs-vir-intekenare-grondslag bied. Die tuiste
bied ook ’n soekenjindiens, asook verskeie sekondêre dienste, byvoorbeeld advertensie-,
webjoernaal- en kletsdienste.
1.3 Deur enige van ons dienste te gebruik, bevestig jy dat jy die bepalings en voorwaardes
wat hierin uiteengesit word, gelees het, dit begryp en daardeur gebind word, ongeag
hoe gereeld jy dié dienste gebruik.
1.4 Ons is ’n lid van:
1.4.1 die Internet Service Provider Association (“ISPA”), waarvan die besonderhede
hier gevind kan word: http://www.ispa.org.za, en ons volg die ISPA-gedragskode,
wat op http://www.ispa.org.za/code/code_of_conduct.shtml gevind kan word; en
1.4.2 die Online Publishers Association of South Africa, waarvan die besonderhede
hier gevind kan word: http://www.online-publishers.org.za/.
1.5 Die bepalings en voorwaardes wat op ons dienste van toepassing is, word hieronder
uiteengesit.
2 Hoe en wanneer mag ’n gebruiker die inhoud van die webtuiste gebruik?
2.1 Ons gee jou ’n lisensie om die inhoud van hierdie webtuiste te besigtig, te
kopieer, af te laai en te druk, met die volgende voorwaardes:
2.1.1 die inhoud word (onderworpe aan 2.2 hieronder) slegs vir persoonlike, opvoedkundige
en/of nie-kommersiële doeleindes gebruik; en
2.1.2 enige kopie van inhoud van die Sake24 se webtuiste sluit die volgende kopieregkennisgewing
in: Sake24 ©.
2.2 Inhoud van Sake24 se webtuiste sal vir geen kommersiële of nieprivate doeleindes
sonder geskrewe vooraftoestemming gebruik word nie.
2.3 Jy mag Sake24 se webtuiste net vir wettige doeleindes besoek en gebruik.
2.4 Die gebruik van die inhoud van Sake24 se webtuiste in elektroniese uitknipseldienste
of persoonlike nuusdienste sal slegs toegelaat word as sodanige elektroniese uitknipseldiens
of persoonlike nuusdiens:
2.4.1 ’n kort opsomming van die artikel gee en nie die hele artikel, soos dit op
Sake24 se webtuiste verskyn, weergee nie;
2.4.2 Sake24 as die bron van die inhoud erken;
2.4.3 ’n korrekte en werkbare hiperskakel na die bron van die inhoud of artikel
op Sake24 se webtuiste bied;
2.4.4 aan skrywers, joernaliste, fotograwe en derdeparty-agentskappe erkenning gee,
soos wat hulle op die Sake24-webtuiste erken word; en
2.4.5 die datum by die opsomming van die inhoud insluit waarop die inhoud van die
Sake24-webtuiste verkry is.
2.5 Jy mag net klein en redelike hoeveelhede inhoud aanhaal wat op die Sake24-webtuiste
beskikbaar is as die aanhalings tussen aanhalingstekens geplaas word, die skrywer
erken word en ’n hiperskakel na die aangehaalde inhoud as ’n voetnoot by die aanhalings
gebied word.
2.6 Niemand mag die Sake24-webtuiste sonder die geskrewe vooraftoestemming van Sake24
omraam nie.
2.7 Afgesien van bona fide-operateurs van soekenjins en jou gebruik van die soekgerief
wat op die Sake24-webtuiste verskaf word, mag niemand enige tegnologie of toepassings
(waaronder webkruipers en webspinnekoppe) sonder ons geskrewe vooraftoestemming
gebruik om inhoud van die Sake24-webtuiste vir enige doeleindes te deursoek of te
kopieer nie.
3 Wat gebeur as ’n gebruiker die webtuiste misbruik?
3.1 As enigiemand die inhoud van die Sake24-webtuiste op ’n manier gebruik wat die
bepalings oortree wat hierin uiteengesit word:
3.1.1 behou ons die reg voor om skadevergoeding van die persoon te eis; en
3.1.2 sal ons op hoegenaamd geen manier aanspreeklik wees vir enige skade, verlies
of aanspreeklikheid wat uit die gebruik van die inhoud deur só ’n persoon of enige
derde party spruit nie.
3.2 Naas enige bepaalde uitsluitings van aanspreeklikheid wat hierin vervat is en
tensy hierin uitdruklik anders gemeld word, bevestig die partye dat Media24 nie
vir enige verlies of skade, regstreeks of onregstreeks, spesiaal, voortspruitend
of andersins aanspreeklik sal wees wat jy of jou agente of aangewesenes ly wat om
hoegenaamd enige rede ontstaan nie, waaronder growwe nalatigheid en doelbewuste
of bedrieglike wangedrag, ongeag of dit die gevolg van die oortreding van dié bepalings
en voorwaardes deur Media24 of enige optrede of nalatigheid aan die kant van Media24
of sy werknemers is, en ongeag of dit regstreeks of onregstreeks deur die dienste
of die gebruik daarvan veroorsaak is, en jy vrywaar Media24 van enige sodanige aanspreeklikheid.
3.3 Enigiemand wat enige van die oortredings begaan wat in artikels 85 tot 88 van
die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (EKT) uiteengesit word, sal,
ongeag strafregtelike vervolging, aanspreeklik wees vir alle aanspreeklikheid, verlies
of skade wat Sake24 ly en/of te beurt val.
4 Wie besit die intellektuele eiendom van die webtuiste?
4.1 Jy besit die kopiereg op die inligting wat jy plaas. Let egter asseblief daarop
dat wanneer jy inhoud op Sake24 se webtuiste plaas, jy Sake24 en al sy relevante
vennote ’n onbeperkte en tantièmevrye lisensie gee om die plasing te herpubliseer
of as deel van ’n geredigeerde samestelling of andersins te verkoop.
4.2 Alle intellektuele eiendom op die Sake24-webtuiste, ingesluit, maar nie beperk
tot nie, inhoud, ontwerpelemente, programmatuur, databasisse, teks, grafika, ikone
en hiperskakels is die eiendom van of aan Sake24 gelisensieer en word as sodanig
deur plaaslike en internasionale wetgewing en verdrae teen oortredings beskerm.
Onderworpe aan die regte wat aan jou gelisensieer word soos in punt 2 uiteengesit,
word alle regte op intellektuele eindom op die Sake24-webtuiste uitdruklik voorbehou.
4.3 “Sake24” is ’n geregistreerde handelsmerk en jy stem in om nie die Sake24-handelsmerk
of die “24”-merk as ’n element of ’n domeinnaam of ’n subdomeinnaam te gebruik nie,
ongeag die feit dat die gebruik van só ’n domeinnaam of registrasie dalk ingevolge
handelsmerk- en/of konstitusionele wetgewing toegelaat word. Wanneer jy versoek
word om dit te doen, sal jy onmiddellik ophou om só ’n domeinnaam te gebruik en
dit op jou eie koste aan Media24 Beperk oordra.
5 Wie mag dié bepalings en voorwaardes verander?
5.1 Ons hou uitdruklik die reg voor om die volgende enige tyd en sonder voorafkennisgewing
aan jou geheel en al na ons eie diskresie te doen:
5.1.1 dié bepalings en voorwaardes te verander; of
5.1.2 die inhoud en/of dienste beskikbaar op die Sake24-webtuiste te verander; of
5.1.3 enige aspek van die Sake24-webtuiste of -diens(te) beskikbaar op die Sake24-webtuiste
te staak; en/of
5.1.4 die programmatuur- en apparatuurvereistes te verander wat nodig is om toegang
tot die Sake24-webtuiste te verkry en dit te gebruik.
6 Hiperskakels na derdeparty-tuistes
6.1 Ons kan hiperskakels na webtuistes bied wat nie deur ons beheer word nie en
sulke skakels impliseer glad nie dat die inhoud van sulke teikentuistes aanbeveel,
daarmee saamgestem of dit ondersteun word nie.
6.2 Ons het nie redaksionele beheer oor die inhoud van sulke teikentuistes nie en
sal hoegenaamd glad nie om watter rede ook al aanspreeklik wees vir die toegang
tot, onvermoë om toegang te verkry of inhoud wat op of deur sulke teikentuistes
beskikbaar is nie.
7 Hoe veilig is ’n gebruiker op dié webtuiste?
7.1 Ons sal redelike stappe doen om die inligting wat jy verskaf en wat van jou
verkry word, teen ongemagtigde toegang en/of bekendmaking te beskerm. Ons bied egter
geen waarborg of voorstelling dat die inhoud veilig sal wees nie.
7.2 Ons is onder geen wetlike verpligting om enige inhoud of kommunikasie van en
na die Sake24-webtuiste te enkripteer of om digitale geldigheidsvasstelling van
enige bladsy op die Sake24-webtuiste te bied nie.
7.3 Jy mag geen skadelike kode, soos rekenaarvirusse, aan die Sake24-webtuiste of
die bediener of die rekenaarnetwerk wat die Sake24-webtuiste ondersteun, stuur of
probeer stuur nie, ongeag of dit op doelbewuste of nalatige wyse geskied.
7.4 Waar enigeen kodes aan die Sake24-webtuiste stuur wat skade veroorsaak, hoe
dit ook al gebeur, vrywaar jy Sake24 hiermee en stel Sake24 vry van alle aanspreeklikheid,
skade en verliese wat weens sulke skadelike kodes gely word.
8 Verwydering en korrigering van inhoud
8.1 Jy word aangemoedig om inhoud wat op die Sake24-webtuiste beskikbaar is wat
onwaar, onjuis, lasterlik, onwettig, skendend en/of skadelik is, aan ons bekend
te maak, en ons onderneem om sulke inhoud of enige deel daarvan reg te stel en/of
te verwyder as jy aan ons redelike gronde bied om die beweerde aard van die inhoud
te bewys.
8.2 As sulke inhoud op ’n derdeparty-tuiste is waarheen ons ’n hiperskakel bied,
onderneem ons om redelik te probeer om só ’n hiperskakel te verwyder.
9 Hoe sal ’n gebruiker dispute met die eienaar van die webtuiste oplos?
9.1 Die Sake24-webtuiste word in die Republiek van Suid-Afrika gehou, beheer en
bedryf. Om dié rede sal die Suid-Afrikaanse wetgewing wat deur die Suid-Afrikaanse
howe gehandhaaf word, die gebruik van of onvermoë om die Sake24-webtuiste, sy inhoud
of dienste te gebruik, en dié bepalings en voorwaardes beheer.
9.2 Alternatiewe dispuutoplossing: Onderworpe aan die reg om ’n hof of bevoegde
owerheid om dringende en/of tussentydse verligting te nader, sal alle dispute ten
opsigte van:
9.2.1.1 toegang tot die Sake24-webtuiste;
9.2.1.2 die onvermoë om toegang tot die Sake24-webtuiste te verkry;
9.2.1.3 die dienste en inhoud beskikbaar op die Sake24-webtuiste; of
9.2.1.4 dié bepalings en voorwaardes vir arbitrasie ingevolge die reëls van die
Arbitration Foundation of South Africa vir ’n versnelde proses verwys word en sodanige
arbitrasieproses sal in Engels in Kaapstad geskied. Die arbitrasie-uitspraak sal
finaal wees en die onsuksesvolle party sal die suksesvolle party se koste volgens
’n skaal tussen ’n prokureur en ’n eie kliënt betaal. Die reëls van die Arbitration
Foundation of South Africa kan van die volgende webtuiste afgelaai word: http://www.arbitration.co.za.
9.3 Die taal wat tydens die dispuutoplossingsproses gebruik sal word, sal Engels
wees.
9.4 As ons in gebreke bly om enige reg of bepaling uit te oefen of af te dwing wat
in dié bepalings en voorwaardes gevind word, sal dit hoegenaamd nie ’n afstanddoening
van só ’n reg of bepaling beteken nie.
10 Onderskepping en kontrolering van kommunikasie
10.1 Onderworpe aan die bepalings van die Wet op die Regulering van die Onderskepping
van Kommunikasie (ROK), Wet 70 van 2002, stem jy in om ons die reg te gee om alle
kommunikasie wat jy of jou personeellede en werknemers na die Sake24-webtuiste stuur
of daarop plaas, te onderskep, te versper, te sif, te lees, uit te wis, bekend te
maak en te gebruik. Die ROK-wet kan van http://www.polity.org.za/pdf/RegOfInterOfCommAct70.pdf
afgelaai word.
11 Volledige ooreenkoms en skeibaarheid
11.1 Dié bepalings en voorwaardes verteenwoordig die volledige ooreenkoms tussen
ons en jou en sal voorkeur bo enige skadeloosstellings en/of regskennisgewings kry
wat aan enige kommunikasie en/of plasings geheg is wat ons van jou ontvang.
11.2 As ons in gebreke bly om enige reg of bepalings uit te oefen of op te dwing,
sal dit hoegenaamd nie die afstanddoening van só ’n reg of bepaling beteken nie.
11.3 Ingeval enige bepaling of voorwaarde wat hierin uiteengesit word, om enige
rede onopdwingbaar of ongeldig blyk te wees, sal sodanige bepalings(s) en voorwaarde(s)
van die res van die bepalings en voorwaardes afgeskei word. Die oorblywende bepalings
en voorwaardes sal afdwingbaar en toepaslik bly.
12 Skadeloosstelling en aanspreeklikheidsbeperking
12.1 Onderworpe aan die bepalings van artikel 43(5) en 43(6) van die EKT-wet, indien
toepaslik en sover dit deur wetgewing toegelaat word, sal Media 24 Bpk., wat deur
ons afdeling Sake24 optree (ingesluit ons werknemers, verskaffers, netwerkoperateurs,
vennote, verbonde entiteite en agente), nie teenoor jou aanspreeklik wees vir enige
skade, verlies of aanspreeklikheid van hoegenaamd enige aard wat jy ly nie, waaronder
verlies of skade wat spruit uit:
12.1.1.1 toegang tot die Sake24-webtuiste;
12.1.1.2 toegang tot webtuistes wat aan die Sake24-webtuiste gekoppel is;
12.1.1.3 onvermoë om toegang te verkry tot webtuistes wat aan die Sake24-webtuiste
gekoppel is;
12.1.1.4 inhoud wat op die Sake24-webtuiste beskikbaar is; en
12.1.1.5 dienste wat op die Sake24-webtuiste beskikbaar is.
12.2 Die Sake24-webtuiste word op ’n “voetstootse” grondslag aan jou gebied en is
nie saamgestel om aan jou individuele vereistes te voldoen nie. Dis jou verantwoordelikheid
om jouself tevrede te stel dat die inhoud en dienste wat op en deur die Sake24-webtuiste
beskikbaar is, aan jou individuele vereistes voldoen en met jou rekenaarapparatuur
en/of -programmatuur versoenbaar is.
12.3 Inligting, idees en opinies wat op die Sake24-webtuiste uitgespreek word, moenie
as persoonlike advies of as ons amptelike opinie beskou word nie, en jy word aangemoedig
om professionele advies te verkry voordat jy op enige wyse optree wat met die inligting,
idees of opinies verband hou wat op die Sake24-webtuiste uitgespreek word.
12.4 Dié webtuiste is hoofsaaklik op mense in die Republiek van Suid-Afrika gerig
en ons sal daarom, in die mate wat Suid-Afrikaanse wetgewing dit toelaat, nie aanspreeklik
wees vir naamskending, beswaddering, belastering, privaatheidskending, persoonlikheidskending
of kopieregskending van hoegenaamd enige aard buite die grense van die Republiek
van Suid-Afrika nie.
12.5 Ons verkry inhoud van verskeie derde partye, byvoorbeeld koerante, nuusagentskappe,
markbronne en vryskutjoernaliste, en oefen nie redaksionele beheer oor die inhoud
uit wat sulke derde partye verskaf nie en ons dien slegs as ’n elektroniese verspreidingsplatform
vir sodanige derdeparty-inhoud. Ons sal daarom op hoegenaamd geen manier aanspreeklik
wees vir naamskending, privaatheidskending, persoonlikheidskending of kopieregskending
wat verband hou met inhoud op die Sake24-webtuiste wat nie deur ons of ons werknemers
geskep is nie.
12.6 Ons bied geen waarborg of voorstelling dat inhoud en dienste beskikbaar op
die Sake24-webtuiste in alle gevalle waar, korrek of foutvry is nie. Ons sal egter
alle redelike stappe doen om die gehalte en juistheid te verseker van inhoud wat
op die Sake24-webtuiste beskikbaar is.
12.7 Ons bied geen waarborg of voorstelling dat die Sake24-webtuiste te alle tye
beskibaar sal wees nie. Jy erken dat die Sake24-webtuiste vanweë bywerkings of om
ander redes buite ons beheer, waaronder, maar nie beperk tot nie, virusbesmetting,
kragonderbreking of natuurrampe, onbeskikbaar kan wees.
12.8 Hiperskakels na die Sake24-webtuiste van enige ander bron sal na die tuisblad
van die Sake24-webtuiste verwys. Ons sal op hoegenaamd geen manier aanspreeklik
wees vir enige skade, verlies of aanspreeklikheid wat uit die gebruik van die inhoud
van die Sake24-webtuiste spruit as toegang tot sodanige inhoud deur ’n hiperskakel
verkry is wat nie na die tuisblad van die Sake24-webtuiste verwys nie. Persone wat
aan inhoud naas die tuisblad van die Sake24-webtuiste wil koppel, doen dit op hul
eie risiko en onderneem om ons van enige verlies, aanspreeklikheid of skade te vrywaar
wat uit inhoud op die Sake24-webtuiste kan spruit as toegang tot sodanige inhoud
verkry is deur ’n hiperskakel wat nie na die tuisblad van die Sake24-webtuiste verwys
nie.
12.9 Waar inligting uit prys- of prestasiedata bestaan, is die data wat daarin bevat
word, van onder meer McGregor BFA, maatskappyverslae, finansiële verslae, tydskrifte
en ander bronne verkry wat gemeen is betroubaar is, en hoewel dit versigtig geverifieer
word, waarborg ons geen databerekeninge wat ons in dié verband gee nie en sal dit
moontlik nie volledig wees nie.
12.10 Die inligting wat op hierdie webtuiste gehou word, is nie rekeningkundige,
regs-, finansiële, beleggingskonsultasie- of ander professionele advies nie en voordat
jy op grond van sodanige inligting optree, behoort jy professionele spesialisadvies
in dié verband te bekom.
12.11 Jy dra al die risiko wat spruit uit die gebruik of gevolge vanweë die gebruik
van enige inligting en is alleen daarvoor verantwoordelik om die integriteit van
enige inligting na te gaan wat van die webtuiste verkry word.
12.12 Ons bied in baie gevalle dienste van derde partye of ons bied ons dienste
in samewerking met dié van derde partye aan.
12.12.1 In sulke gevalle is die volgende voorwaardes van toepassing:
12.12.1.1 ons bied sulke dienste aan onderworpe aan die bepalings, voorwaardes en
beperkings wat dié derde partye hef;
12.12.1.2 as dié derde partye sodanige dienste verander, opskort of afskaf, kan
ons ook die lewering van die diens aan die gebruiker sonder kennisgewing verander,
opskort of afskaf. Ons kan nogtans probeer om sodanige diens op ’n ander manier
te bied of deur ’n ander derde party te gebruik;
12.12.1.3 jy magtig ons om enige van jou persoonlike inligting aan daardie derde
partye te gee in die mate waarin dit nodig mag wees om die derde partye en ons in
staat te stel om die dienste aan jou te lewer; en
12.12.1.4 ingeval konflik tussen die derde party se bepalings en voorwaardes en
ons bepalings en voorwaardes voorkom, sal ons bepalings en voorwaardes geld.
12.12.2 As jy goedere, programmatuur of enige ander dienste deur enige van ons dienste
van ’n derde party verkry, verstaan jy en stem jy in dat:
12.12.2.1 ons nie ’n belangeparty in die kontrak tussen jou en die derde party is
nie;
12.12.2.2 ons onder geen verpligting is om die derdeparty-diens te monitor wat jy
gebruik nie;
12.12.2.3 die derde party vir alle verpligtinge ingevolge die kontrak verantwoordelik
sal wees, waaronder (sonder beperking) waarborge en magtigings;
12.12.2.4 jy die produk, programmatuur of diens en die toepaslike bepalings en voorwaardes
sal nagaan voordat jy die produk, programmatuur of diens verkry; en
12.12.2.5 jy vrywaar ons teen enige moontlike skade wat uit jou verkryging en gebruik
van die goedere, programmatuur of diens spruit.
12.12.3 Ons behou ook die reg voor om enige derdeparty-diens wat jy in samewerking
met ons diens gebruik, te verwerp of te weier.
13 Privaatheid
13.1 Ons, Media24 Beperk, wat deur ons afdeling Sake24 optree, sal alle redelike
stappe doen om jou persoonlike inligting te beskerm.
13.2 Persoonlike inligting beteken persoonlike inligting soos in die Wet op die
Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000, omskryf is.
13.3 Ons versamel, berg en gebruik persoonlike inligting vir die volgende doeleindes:
13.3.1 om jou te groet wanneer jy toegang tot die Sake24-webtuiste verkry;
13.3.2 om jou, onderworpe aan jou goedkeuring, van feite in te lig wat met jou toegang
en gebruik van die Sake24-webtuiste verband hou;
13.3.3 om jou, onderworpe aan jou goedkeuring, van ons kompetisies en spesiale aanbiedings
van ons en/of ons vennote of verbonde entiteite in te lig;
13.3.4 om aan jou gerigte reklame te bied wanneer jy toegang tot die Sake24-webtuiste
of die webtuistes van vennote of verbonde entiteite van Sake24 verkry; en
13.3.5 om niepersoonlik statistiese inligting oor besoekgewoontes, kliekpatrone
en toegang tot die Sake24-webtuiste saam te stel.
13.4 Die inligting wat hierbo uiteengesit is, word elektronies versamel deur koekies
te gebruik en word vrywillig deur jou verskaf wanneer jy op die Sake24-webtuiste
inteken. Jy kan die koekiegebruik onafhanklik deur jou blaaierstellings bepaal.
13.5 Ons besit en behou alle regte op niepersoonlike statistiese inligting wat ons
versamel en saamstel.
14 Sekuriteit
14.1 Dis geheel en al jou eie verantwoordelik om jou gebruikersnaam en wagwoord
geheim te hou, en ons beveel aan dat jy dit op ’n veilige plek hou en aan geen derde
party bekend maak nie.
15 Plasings op die Sake24-webtuiste
15.1 Jy kan jou persoonlike opinies, boodskappe en idees op die Sake24-webtuiste
en gespreksforums plaas wat op die Sake24-webtuiste beskikbaar is.
15.2 Jy onderneem om nie enige inhoud of materiaal op die Sake24-webtuiste of die
webtuistes van sy vennote te plaas, oor te dra of te koppel wat
15.2.1 onwettig, lasterlik, inbreukmakend, teisterend, onwelvoeglik, handelsreklame,
persoonlike bemarking, skeltaal, onwaar, onjuis of skadelik kan wees nie;
15.2.2 jy nie wetlik die reg het (soos kopiereg, handelsgeheime of sekuriteite)
om oor te dra of wat onderhewig aan ’n kontraktuele of fidusiêre verhouding (soos
in niebekendmakingsooreenkomste) is nie.
15.2.3 seksueel eksplisiet is nie;
15.2.4 enige persoon of entiteit voorstel of jou affiliasie met enige persoon of
entiteit vals verklaar of andersins wanvoorstel nie; en/of
15.2.5 doelbewus enige ander toepaslike wet of regulasie oortree nie;
15.2.6 terwyl ons tuiste of ’n vennoot se tuiste besoek en gebruik word, en ons
behou die reg voor om sulke inhoud te verwyder.
15.3 Jy word nie toegelaat om persoonlike data van ander gebruikers te versamel
of te berg nie.
15.4 Ons beheer nie jou plasings redaksioneel nie en sal op hoegenaamd geen manier
vir sulke plasings aanspreeklik wees nie. Ons behou egter die reg voor om heeltemal
na ons eie diskresie enige skeltaal of enige ander aanstootlike inhoud uit te sif.
15.5 Jou vrywaring stel ons skadeloos teen enige aanspreeklikheid, eis, skade of
verlies wat uit jou plasing(s) op die Sake24-webtuiste kan spruit.
16 Ooreenkoms ingevolge artikel 21 van die ETK-wet
16.1 Jy stem in dat:
16.1.1 Jy deur dié bepalings en voorwaardes gebind sal wees en dat sodanige ooreenkoms
in Kaapstad gesluit sal word wanneer jy vir die eerste keer toegang tot die Sake24-webtuiste
verkry of dadelik nadat jy jou instemming aangedui het soos tydens die “Teken my
in”-proses vereis;
16.1.2 databoodskappe (soos in die EKT-wet omskryf) wat jy aan ons adresseer, net
as deur ons ontvang geag sal word as ons daarop reageer;
16.1.3 databoodskappe (soos in die EKT-wet omskryf) wat ons aan jou adresseer, geag
sal word deur jou ontvang te wees wanneer jy in staat is om toegang tot die kennisgewing
te verkry;
16.1.4 databoodskappe (soos in die EKT-wet omskryf) wat die gebruiker aan ons adresseer,
geag sal word binne die geografiese grense van Suid-Afrika deur jou geskep en gestuur
te wees;
16.1.5 elektroniese handtekeninge, enkriptering en/of magtiging nie vir geldige
elektroniese kommunikasie tussen jou en ons vereis word nie; en
16.1.6 en bevestig dat databoodskappe wat van ’n rekenaar, IP-adres of mobiele toestel
wat jy normaalweg gebruik of wat jy besit, na ons gestuur word, persoonlik deur
jou gestuur en/of gemagtig is.
17 Beëindiging
17.1 As jy ’n ooreenkoms vir ’n vaste termyn vir die gebruik van ’n diens met ons
aangaan, mag jy nie die ooreenkoms voor die einde van die vaste termyn beëindig
nie.
17.2 In alle ander gevalle mag jy dié ooreenkoms beëindig deur jou bloot daarvan
te weerhou om die diens te gebruik.
17.3 Die beëindiging van dié ooreenkoms sal nie enige van ons regte beïnvloed wat:
17.3.1 voor die beëindiging onstaan nie; of
17.3.2 vanweë hul aard ná die beëindiging voortbestaan nie.
17.4 Ons behou die reg voor om jou inskrywing te staak of op te skort as jou rekening
onaktief word. Ons sal jou van sodanige beplande optrede in kennis stel by die e-posadres
wat met jou gebruikersidentiteit verbind word. As ons jou rekening op dié grondslag
beëindig, kan die gebruikersnaam wat met jou rekening verbind word, aan ’n ander
intekenaar gegee word.
17.5 Ons behou die reg voor om die verskaffing van die Sake24-webtuiste heeltemal
na ons eie en absolute diskresie en sonder voorafkennisgewing te beëindig en/of
jou toegangsreg te beëindig, byvoorbeeld en sonder beperking as:
17.5.1 ons jou optrede of gebrek aan optrede as ’n skending van hierdie bepalings
en voorwaardes beskou;
17.5.2 ons jou optrede of gebrek aan optrede beskou as die misbruik van dienste
wat deur hierdie webtuiste gebied word; of
17.5.3 gebeure buite ons redelike beheer, waaronder tegniese gebreke, die voortgesette
verskaffing van die Sake24-webtuiste verhinder.
18 Verbruikersbeskerming
18.1 Die aard van die dienste wat aan jou gelewer word, word in die vorm van inligting
gebied en is nie produkgegrond nie, en jy sal geen reg hê om enige diens terug te
gee wat van die Sake24-webtuiste gekoop is nie.
18.2 Jy kan klagtes ten opsigte van die Sake24-webtuiste by ons, Media24 Bpk., die
Advertising Standards Authority of die Consumer Affairs Committee indien.
19 Diensgeld en betaling ten opsigte van intekendienste
19.1 Let asseblief daarop dat om op sekere dienste in te teken of om sekere goedere
of dienste by ons te koop, daar van jou vereis word om afsonderlike ooreenkomste
met ons op ’n gebeurtenisgrondslag aan te gaan. Die bepalings en voorwaardes van
sodanige ooreenkomste sal aan jou oorgedra word voordat jy die transaksie aangaan.
19.2 Deur op ’n diens in te teken of te gebruik waarvoor ’n tarief gehef word:
19.2.1 stem jy in om die betrokke diensgeld te betaal wanneer dit betaalbaar is,
op die aangewese manier, ongeag of jy die diens gebruik of nie. In die algemeen
sal herhalende diensgeld maandeliks op die eerste dag van elke maand per debietorder
vooruitbetaalbaar wees; en
19.2.2 magtig jy ons om enige tyd wat ons meen gepas is, jou kredietgeskiedenis
na te gaan en jou persoonlike inligting (soos in ons Privaatheidsbeleid omskryf)
vir dié doeleinides aan ’n kredietburo te verskaf.
19.3 Alle diensgeld is vooruitbetaalbaar en nie terugbetaalbaar nie.
19.4 Jy sal die maandelikse tarief met ’n debietorder, sonder wisselkoers- en bankgelde,
betaal. In só ’n geval stem jy in om ’n debietordermagtiging ten gunste van ons
te onderteken, asook enige ander dokumente wat nodig is om sodanige debietorder
in te stel.
19.5 Jy magtig ons hiermee om jou bankier, soos jy dit op die registrasievorm aantoon,
opdrag te gee om periodiek alle bedrae wat ingevolge hierdie ooreenkoms deur jou
aan ons verskuldig en betaalbaar is, van jou bankrekening af te trek. Alternatiewelik
sal kredietkaartbetalings aanvaar word.
19.6 Die magtiging sal op enige bank van toepassing wees waar jy in die toekoms
’n bankrekening kan hê.
19.7 Behalwe waar ons ons reg opsê om betalings per debietorder te ontvang, sal
jy nie die debietordermagtiging opsê sonder om dit deur ’n nuwe debietordermagtiging
te vervang nie, en dan net as skriftelike kennisgewing dat jy beplan om die debietordermagtiging
terug te trek en deur ’n nuwe een te vervang, nie minder nie as 20 dae vooraf gegee
is.
19.8 As jy nie ’n debietorder- of enige ander bedrag om watter rede ook al betaal
wanneer dit verskuldig is nie, mag ons:
19.8.1 jou inskrywing op of gebruik van ’n diens opskort;
19.8.2 jou toegang tot die dienste beëindig en enige bedrae aan ons verskuldig eis.
19.9 Jy sal nie die betaling van enige bedrag wat aan ons verskuldig is, weens enige
beweerde skending van hierdie bepalings deur ons of om enige ander rede weerhou
nie, en ook nie enige verrekening doen ten opsigte van enige bedrag wat aan ons
verskuldig is nie.
19.10 Indien die wet dit vereis, mag ons betaling van jou ontvang en eis ten opsigte
van enige belasting op toegevoegde waarde of enige ander soortgelyke belasting of
heffing wat op die lewering van die dienste gehef word.
19.11 Tensy anders gemeld, sluit alle diensgeld Belasting op Toegevoegde Waarde
uit.
19.12 Ons mag bykomende diensgeld vir herverbinding hef as jy ons versoek om enige
diens te herstel wat beëindig is, ongeag of dit op ons of jou aandrang gedoen is.
19.13 Ons is daarop geregtig om die diensgeld van tyd tot tyd te wysig.
---
Bykomende bepalings
Nieprofessionele gebruik
Jy bevestig hiermee dat die gebruik van die Sake24-webtuiste en sy inhoud vir nieprofessionele
doeleindes is. Enige individu wat nie aan al die kriteria van ’n nieprofessionele
of private gebruiker wat hieronder uiteengesit word, voldoen en voortgaan om daaraan
te voldoen nie, sal as ’n professionele gebruiker beskou word. ’n Private gebruiker
is ’n gebruiker wat:
1) een van die volgende is:
a) ’n natuurlike persoon;
b) ’n maatskappy of beslote korporasie wat ingevolge die wette van die Republiek
van Suid-Afrika ingelyf en geregistreer is en waarvan die aandeelhouers of lede
die natuurlike persoon is waarna in a) hierbo verwys word en/of sodanige natuurlike
persoon se onmiddellike familielede (dit is ouers, grootouers, kinders, kleinkinders
en eggenoot van die natuurlike persoon waarna in a) hierbo verwys word) en waarvan
die bestuur en daaglike bedrywighede onder die beheer van sodanige natuurlike persoon
en/of die natuurlike persoon se onmiddellike familielede is; of
c) ’n trust wat by die meester van die hooggeregshof van enige afdeling van die
hooggeregshof van Suid-Afrika geregistreer is waarvan die begunstigdes die natuurlike
persoon waarna in a) hierbo verwys word en/of die natuurlike persoon se onmiddellike
familielede is; of
d) ’n oningelyfde entiteit wat op ’n nieprofessionele grondslag as ’n beleggingsklub
vir natuurlike en nie net regspersone nie (wat elk ’n “kwalifiserende private gebruiker
is”) bedryf word;
2) nie geregistreer is of van wie nie vereis word om te registreer as of gekwalifiseer
is of in enige hoedanigheid (regstreeks of onregstreeks) optree as ’n sekuriteitshandelaar,
beleggingsadviseur of batebestuurder by enige binnelandse of buitelandse finansiële
beurs, regulatoriese owerheid, professionele vereniging of professionele liggaam
wat deur enige wet erken word nie;
3) nie die diens regstreeks of onregstreeks vir hoegenaamd enige sake- of professionele
doeleindes gebruik nie (dit wil sê, die diens slegs gebruik vir die bestuur van
die persoonlike geld van die natuurlike persoon waarna in a) hierbo verwys word
en/of van sy of haar onmiddellike familielede en in omstandighede waarin die kwalifiserende
private gebruiker nie geld hef of ontvang nie); en
4) geen data van die diens aan enige derde party op hoegenaamd enige manier versprei,
publiseer of andersins verskaf of beskikbaar stel nie.
---
Aanvullend
|
AP
Associate Press-kennisgewing. Associate Press (AP)
teks, foto's, grafieke, audio en/of videomateriaal sal nie direk of indirek gepubliseer
word of herskryf word vir
uitsending, publikasie, of vir
herverspreiding in enige medium
nie.
Geen
AP materiale of enige
gedeelte daarvan mag in 'n
rekenaar gestoor word behalwe
vir persoonlike en nie-kommersiële doeleindes. Die Verbruiker
stel AP vry van enige
aanspreeklikheid vir vertragings, onakkuraathede, foute of weglatings in die materiaal of in die
versending of aflewering van die geheel of
enige gedeelte daarvan
of vir enige skade wat uit voorgaande
kan
voortspruit.
Kopiereg 2005 Associate Press.
Reuters
Alle regte voorbehou.
Hierdie materiaal mag
nie gepubliseer, uitgesaai,
herskryf of herversprei word
nie. Reuters Limited-kennisgewing.
Kopiereg
2005 Reuters Limited. Alle regte voorbehou. Reuters inhoud mag nie gestoor word nie. Persoonlike, nie-kommersiële
gebruik word spesifiek
hierby uitgesluit.
Die her-publikasie en her-verspreiding
van Reuters inhoud sonder
voorafgaande geskrewe toestemming van Reuters word uitdruklik
verbied.
Reuters
sal nie aanspreeklik
wees vir enige foute, weglatings, onderbrekinge
of vertragings in die verbinding met die Reuters-inhoud of vir enige skade wat daaruit voortvloei nie.
|
The Dow Jones Indexes™ word deur Dow Jones & Company Ing. saamgestel, bereken
en versprei en is vir gebruik gelisensieer. Alle inhoud van The Dow Jones Indexes™
© 2003 Dow Jones & Company Ing. – lees die bepalings en voorwaardes.
Deutsche se algemene bepalings:
Inligting mag slegs vir die doeleindes van eie gebruik gebruik word. Verder word
die gebruik, berging, kopiëring, vertoning, wysiging en/of oordrag van die inligting
vir enige ander doeleindes of die gebruik van die inligting vir sake- of private
doeleindes sonder geskrewe vooraftoestemming van Deutsche Börse AG verbied.
Deutsche Börse AG en die houers van derdeparty-regte behou alle intellektuele-eiendomsregte
op die inligting voor.
Deutsche Börse AG en die houers van derdeparty-regte aanvaar geen aanspreeklikheid
vir enige eis, verlies of skade wat spruit uit die vertoning van die inligting op
die webtuiste of enige gebruik van die inligting wat op die webtuiste vertoon word
nie.