Johannesburg. - Anglo Platinum (Angloplat) het uiteindelik 'n omskakeling van sy ou orde-mynregte na nuwe orde-regte gekry.
Dit is op 21 Julie goedgekeur, berig miningmx.com.
Die vertraging in die omskakeling het heelwat kommer in myn-sirkels veroorsaak - aangevuur deur 'n uitlating deur die minister van minerale, me. Susan Shabangu, dat sy die beginsel verwerp dat iemand wat een keer bemagtig is, bemagtig moet bly.
Angloplat het nie 'n bemagtigingsvennoot nie omdat hy eerder die weg ingeslaan het om eenhede van produksie te bemagtig. Dit is gedoen deur ooreenkomste met Northam Platnum, Anooraq Resources en Royal Bafokeng Platinum.
Intussen het die groep Maandag ’n verwaterde wesensverdienste van R10,24 per aandeel vir die
eerste ses maande van die jaar aangekondig - teenoor R1,64 in dieselfde tydperk
’n jaar gelede.
Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan hoër metaalpryse.
Wesensverdienste is op tot R2,56 miljard vir die halfjaar tot einde
Junie 2010 - van R402 miljoen in die eerste helfte van 2009.
Wins vir die periode was 12% hoër op R3,36 miljard met basiese
verdienste wat met 10% op is tot R13,14 per aandeel.
Verfynde platinum-produksie was 1 miljoen onse.
“Die teiken van 2,5 miljoen onse vir die volle jaar is steeds in
plek,” het die groep gesê.
Bruto verkope is op tot R20,9 miljard as gevolg van hoër dollarpryse
vir metale.
’n Bedryfswins van R3,78 miljard is gerapporteer - teenoor R525
miljoen verlede jaar.
Die groep het die vertroue uitgespreek dat die platinum-mark
stabiel sal bly as gevolg van die vraag na die metaal in motor-katalisators, berig
I-Net Bridge.