Johannesburg. – Cell C maak hom gereed vir ’n ernstige aanslag om sy
markaandeel van mobiele telekommunikasie uit te brei.
Dié
maatskappy, wat tans sowat 14% van die plaaslike bedryf beheer, het vandeesweek
aangekondig dat mnr.
Alan Knott-Craig (59), voormalige uitvoerende hoof van Vodacom, op
1 April vanjaar die leisels by Cell C oorneem.
Knott-Craig word in
verskeie kringe as die vader van die plaaslike selfoonbedryf beskou.
Om ’n
betekenisvolle speler in die mark te wees, moet Cell C in die komende drie tot
vyf jaar sy markaandeel tot tussen 25% en 30% verhoog, sê hy.
Indien die
groep dit vermag, sal dit hom werklik ’n mededingende speler maak in ’n mark wat
deur Vodacom en MTN oorheers word.
Knott-Craig het die
afgelope week benadruk sy eerste prioriteit is om Cell C se netwerk te verbeter
tot een van wêreldgehalte.
Hy meen dit
is een van die probleme wat die maatskappy tot dusver gekniehalter het.
“Totdat
Cell C ’n wêreldklasnetwerk kan bou, is daar nie baie wat ’n mens kan doen nie,”
sê hy. “Die grondslag vir enigiets anders is ’n behoorlike netwerk.”
Die
maatskappy het reeds begin met dié projek en Knott-Craig sê daarom is
dit belangrik dat hulle in die volgende jaar of wat seker maak die netwerk is
inderdaad perfek.
Nog ’n
gebied wat hy meen aandag moet kry, is die verspreidingskanale, wat hy meen
“swak” is.
Indien Cell
C sy netwerk en verspreidingskanale kan uitswerk, is 70% van die stryd reeds
gewonne, sê hy. Hulle moet die “basiese goed” regkry, sê hy.
Verskeie
rolspelers het die afgelope week in reaksie gesê Knott-Craig is die regte
mens om Cell C, wat ten spyte van ’n groeiende omset nog nie ’n netto wins kon
toon nie, tot groter hoogtes te voer.
Die
maatskappy, wat tans sowat 9 miljoen intekenare het, het in 2001 tot die mark
toegetree.
Knott-Craig het Vodacom in
September 2008 verlaat ná 15 jaar by die maatskappy. ’n Handelsbeperking het hom
egter verhinder om voor April vanjaar weer tot die bedryf toe te tree.
In sy
afwesigheid het hy op sowat ses direksies en subkomitees gedien wat hom baie
besig gehou het. Hy en sy vrou het heelwat gereis terwyl hy natuurfoto’s geneem
het, sê hy.
In dié
tydperk het sy biografie, Second is Nothing, ook verskyn. Die
boek vertel die storie van Knott-Craig se lewe, die opkoms van die bedryf in Suid-Afrika,
en hoe ’n tweede hartaanval in 2006 sy lewe verander het.
Die
verstryking van die handelsbeperking het hom egter teruggelok na die bedryf en
Cell C het gelyk na die “interessantste, uitdagendste plek” waar hy kon werk.
Sy kontrak
met Cell C is vir drie jaar.
Knott-Craig volg in die
spore van mnr. Lars Reichelt, wat die selfoonmaatskappy in Julie verlede jaar om
“persoonlike redes” verlaat het.