Verwante Artikels
Top Stories
Mei 21 2012 05:00
Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.
Mei 21 2012 05:00
Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.
Mei 21 2012 05:00
Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.
Johannesburg. – Sedert Jasco en Spescom sowat ’n jaar gelede “soos
roereier” saamgevoeg en geherstruktureer is, is die telekommunikasie- en
elektronikagroep se finansiële resultate “romeriger”.
Dit is ook volgens mnr. Pete da Silva, uitvoerende hoof van Jasco,
hoekom die groep se omset in die halfjaar tot einde Desember met 55% tot
R493,3 miljoen geklim het.
Jasco het gister sy tussentydse resultate bekend gemaak.
In die ooreenstemmende tydperk in 2010 en kort voordat die
telekommunikasiemaatskappy Spescom deur Jasco oorgeneem is, was Jasco se omset
R313,4 miljoen.
Aandeelhouers het die oorname
aanvanklik skerp gekritiseer, maar Da Silva meen Jasco se jongste resultate dui
op seepgladde integrasie.
Die groep se bedryfswins het met 30% gestyg tot R20,6 miljoen
teenoor die R15,9 miljoen van ’n jaar tevore. Sy eenmalige koste is ook laer op
R1,2 miljoen vergeleke met R4,2 miljoen in die vorige boekjaar.
Jasco sê die groter bedryfswins is danksy veral die
inligting-en-kommunikasietegnologie- (IKT) bedrywighede (dit sluit Spescom en
Jasco se geassosieerde maatskappy M-Tec in) wat goed gevaar het.
In die eerste ses maande van verlede jaar was M-Tec nog ’n
vrotterige appel wat ’n swak bydrae tot Jasco se totale bedryfswins gelewer het,
maar volgens Da Silva het sy bydrae in die laaste ses maande verbeter.
Die groep se verdienste per aandeel het met 130% gestyg, van 2,8c
tot 6,4c. Sy wesensverdienste per aandeel het met 96% tot 6,9c geklim vergeleke
met 3,5c ’n jaar tevore.
Da Silva sê Jasco se pad is nog lank nie geteer nie, maar hy het
baie van sy doelwitte bereik.
Volgens hom het die maatskappy onder meer ’n sterker handelsmerk
geskep, sy koste met R8 miljoen per jaar besnoei en sy organisatoriese strukture
afgeplat.
“Die groep se fokus gaan in die volgende ses maande steeds by M-Tec
en sy onderneming Enterprise Applications lê, sowel as by verdere
kostebesparings en die doeltreffende bestuur van bedryfskapitaal,” sê Da
Silva.
Volgens hom gaan ondernemings in die groep waar die fokus ontbreek,
uitgesny word. Om dié rede moet M-Tec en Enterprise Applications nog fyn
dopgehou word.