Verwante Artikels
Top Stories
Mei 21 2012 05:00
Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.
Mei 21 2012 05:00
Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.
Mei 21 2012 05:00
Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.
Kaapstad. – Kleinhandelaars, motorhandelaars,
finansiëledienstegroepe, foonverskaffers, hotelle en verskaffers van vermaak kan
almal moed skep uit die jongste lesing van First National Bank (FNB) en die Buro
vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) se verbruikersvertrouensindeks.
Dit het in die vierde kwartaal effens verbeter.
“In die algemeen is die lesings van verbruikersvertroue in sterk,
positiewe gebied, veral in byna al die kategorieë vir eie finansiële
vooruitsigte. Dis ’n goeie anker vir voortgesette sake-uitbreiding,” sê dr. Cees
Bruggemans, hoofekonoom van FNB.
Die verbetering van 1 indekspunt tot +5 in die vierde kwartaal is
eintlik so effentjies dat dit prakties eintlik onveranderd is. Dis egter veel
beter as die derde kwartaal se daling van 7 indekspunte.
Volgens Bruggemans is dit goeie nuus vir Kersverkope en
huishoudelike verbruik volgende jaar.
Die verbetering in verbruikersvertroue teenoor die vorige kwartaal
se verswakking is vanweë ’n effens hoër persentasie verbruikers wat verwag dat
hul huishoudelike finansies gaan verbeter en ’n ietwat laer persentasie wat
reken dis die verkeerde tyd om duursame goedere te koop.
Dis egter grotendeels teengewerk deur ’n verdere afname in die
persentasie verbruikers wat verwag dat die ekonomiese situasie in Suid-Afrika
oor die volgende 12 maande gaan verbeter. FNB meen nuusberigte oor die vallende
markte en swak ekonomiese groei het baie mense die skrik op die lyf gejaag en
vandaar die swakker verwagtinge vir ’n verbetering in die ekonomie.
“As ons dieper in die navorsing delf, is dit duidelik dat wit
verbruikers die sterkste terugkeer na vertroue maak. Dis moontlik omdat die
dalings in die derde kwartaal ten opsigte van ekonomiese en hul eie finansiële
vooruitsigte oordrewe was.”
Die hoërinkomste-verbruikers se ekonomiese uitkyk het verbeter,
maar die middel- en laerinkomste-verbruikers se ekonomiese verwagtinge het
verswak.
Laasgenoemde se verwagting vir hul eie finansies was aansienlik
meer positief.
In die algemeen het Engels-, Afrikaans- en Nguni-sprekers se
verwagtinge vir hul eie finansies verbeter, wat volgens Bruggemans moontlik ook
daarop dui dat die dalings van die vorige kwartaal oordrewe was en dat die
ergste nie gebeur het nie. Sotho-sprekers se vertroue in hul persoonlike
finansies het egter verswak.
“Die verbruiker is nog op ’n goeie plek ten spyte van stygende
inflasie, wat groei in reële inkomste benadeel. Die jongste
verbruikersvertrouensoorsig toon moontlik dat die ergste nie gebeur het nie soos
wat heelwat verbruikers in die middel van die jaar verwag het. Gevolglik is die
positiewe oortuigings versterk en dit dryf verbruikersbesteding aan.”