Verwante Artikels
Top Stories
Mei 21 2012 05:00
Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.
Mei 21 2012 05:00
Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.
Mei 21 2012 05:00
Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.
Kaapstad. – Seardel is voornemens om
1 500 werkers af te lê weens margedruk, maar sal die wind van voor kry van
Sactwu, wat ’n nie-regstreekse belang in die klerevervaardiger het.
“Ons hoop om binne die konsultasietydperk van 60 dae saam met die
vakbond ’n oplossing te vind. Ons glo dit sal teen einde Maart wees,” het mnr.
Stuart Queen, uitvoerende hoof van Seardel, aan Sake24 gesê.
Die land se grootste klere-en-tekstielvervaardiger het met die
bekendmaking van sy tussentydse syfers in November gesê sy klere-afdeling se
ommeswaai neem langer as wat verwag is en hulle sal sterker moet ingryp om dit
reg te ruk.
Seardel het in die ses maande tot
einde September op positiewe vlakke begin verhandel, maar met ’n skrale
toegeskryfde wins van R1,4 miljoen. Dit was egter heelwat beter as die
toegeskryfde verlies van R71,3 miljoen van ’n jaar tevore.
Die klere-afdeling het egter ’n groter bedryfsverlies as in die
vergelykende ses maande gely. Die bruto marges het ook met 4,7% tot 18,9%
gedaal, juis weens die druk op marges in die klerevervaardigingsafdeling.
Daar is verskeie jakkalsies wat die tekstielwingerd verniel, soos
onwettige invoer en doeanebedrog; mededinging deur verskaffers in die plaaslike
klerebedryf wat nie die minimum loon betaal nie; asook mededinging deur lande
wat swakker lone betaal.
Die groep sê hy het geen keuse as om werkers af te lê om die marges
te verbeter nie.
Seardel is in 2008 staande gehou
deurdat Hosken Consolidated Investments (HCI) ’n belang van 70% in die
vervaardiger verkry het. Sactwu is ’n meerderheidsaandeelhouer in HCI deur ’n
beleggingstrust.
Mnr. André Kriel, hoofsekretaris van Sactwu, het aan Nellie Brand gesê Seardel se
aankondiging was heeltemal onverwags en die vakbond het nie ’n rol in die
besluitneming gespeel nie.
Sactwu beskou sy belegging in Seardel
en sy rol as vakbond volgens Kriel as onafhanklik. “Ons sit byvoorbeeld nie in
die direksie van Seardel nie, want ons wil konflik vermy sodat ons ons rol as ’n vakbond kan
uitvoer soos by enige ander maatskappy.”
Die vakbond gaan die afleggings teenstaan.“Ons dink dit is ’n groot
probleem as ’n mens kyk na die verspreiding van die werkers. Dis omtrent 700
werkers in die Malmesbury-gebied – dit is ’n droewige gebied en ons kan nie
toesien dat mense in groter probleme gedompel word nie. Dieselfde geld
Ladismith, wat reeds die laags betaalde streek in die land is.”
In antwoord op Sake24 se vraag of Sactwu sy invloed in HCI gaan gebruik om
die werkverliese te keer, het Kriel gesê hulle gaan alle moontlikhede ondersoek
– “insluitende die kwessie van ons aandeelhouding in die maatskappy”.
Seardel het gister op die JSE
onveranderd op 77c gesluit.