Verwante Artikels
Top Stories
Mei 21 2012 05:00
Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.
Mei 21 2012 05:00
Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.
Mei 21 2012 05:00
Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.
Kaapstad. – Elke dag word daar oor die wêreld heen gemiddeld
24 miljoen artikels BIC-skryfbehoeftes verkoop. In Suid-Afrika het dié
handelsmerk pas sy beste verkooptyd agter die rug.
“Die begin van die nuwe skooljaar is
ons besigste tyd. Sowat 40% tot 47% van ons verkope word van November tot
Januarie gedoen. Interessant genoeg is die meeste daarvan in die naweek net
voordat die skool begin,” sê me. Millicent
Quoilin, BIC se bemarkingsbestuurder vir skryfbehoeftes.
BIC het in Frankryk ontstaan. In 1945 het mnre. Marcel Bich en
Edouard Buffard komponente vir vulpenne in ’n aanleg buite Parys vervaardig, die
potensiaal van balpuntpenne besef en in 1950 die eerste BIC-balpuntpen bekend
gestel.
Die gehalte en bekostigbaarheid van die balpuntpen het dit vinnig
gewild gemaak.
BIC is die leier in Afrika se skryfbehoeftemark en in Suid-Afrika
het dit ’n markaandeel van 52%. Dit het in 1957 die eerste keer op winkelrakke
hier verskyn – ’n jaar voordat dit in Amerika versprei is.
Volgens Quoilin is die topverkoper in Afrika hul balpuntpenne.
Veral die swart klikbalpuntpen is gewild. Asiatiese lande verkies weer
fynpuntpenne.
Die balpuntpenne word in groot maat in BIC se aanleg in
Johannesburg vervaardig. Die fabriek maak ook Koki-penne vir die uitvoermark wat
oor die wêreld heen versprei word.
In Suid-Afrika is die groep se grootste mededingers Staedtler en
Penflex, asook kleiner, onafhanklike vervaardigers. Volgens Quoilin word
namaaksels van die handelsmerk en goedkoop ingevoerde produkte toenemend
problematies vir skryfbehoeftevervaardigers.
Vervalsings is wêreldwyd ’n algemene probleem. Plaaslike rolspelers
is bekommerd omdat hulle met handelaars meeding wat moontlik nie die nodige
invoerheffings betaal nie.
“Die nagemaakte produkte se swak gehalte devalueer die hele
skryfbehoeftekategorie. Ons vind ook dat mense in tye soos nou, wanneer daar
druk op verbruikersbesteding is, meer geneig is om goedkoop ingevoerde produkte
te koop,” sê Quoilin.
Gevolglik het die internasionale resessie ook druk op BIC-verkope
geplaas, maar die maatskappy is steeds die grootste skryfbehoefteverskaffer in
Afrika, Latyns-Amerika, Europa en Indië en die tweede gewildste in Australië en
die VSA.
Sy skryfbehoeftes word trouens in meer as 3,2 miljoen winkels in
160 lande verkoop.