Die
landbousektor moet teen 2020 reeds 300 000 bykomende huishoudings op klein
landbou-eenhede vestig en 145 000 nuwe werkgeleenthede moet in die
voedselverwerkingsketting geskep word.
Die
lewensomstandighede van werkers op kommersiële plase moet ook aansienlik
verbeter.
Dít is die
bydrae wat die regering van die landbousektor verwag om sy Nuwe Ekonomiese
Groeiplan (NEG) te laat slaag.
Die
mikpunt van die NEG is om teen 2020 altesame 5 miljoen nuwe werkgeleenthede in
die land te skep met die oog op armoedeverligting.
Mnr.
Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het die afgelope week ’n
konferensie van Agri SA ingelig oor die verwagtinge wat van die landbousektor
gekoester word.
Hy het
erken dat die regering die afgelope aantal jare die landbousektor afgeskeep het,
maar gesê daar word nou met nuwe oë na die sektor gekyk om werk te skep en te
sorg dat die mense van die land nie honger gaan slaap nie.
Die nuwe
belangstelling in landbou kom nadat dié sektor tussen 1993 en 2007 sowat 300 000
werkgeleenthede afgeskaf het, wat bygedra het tot armoede in landelike gebiede.
Patel sê
selfs diegene wat op kommersiële plase werk, het dit nie breed nie – die
mediaanvergoeding van plaaswerkers in 2010 het R1 213 per maand beloop teenoor
die R3 683 per maand in die res van die formele sektor.
Hy het die
digtheid van trekkers per vierkante kilometer gebruik om aan te toon hoe sleg
die Suid-Afrikaanse landbousektor daaraan toe is.
In
Suid-Afrika is daar volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en
Landbou-Organisasie 43 trekkers vir elke 100 km2
bewerkbare grond. Dit is minder as in lande soos Botswana, China, Egipte,
Indië, Pakistan, Sri Lanka en Viëtnam.
Patel sê
daar is ongeveer 1 miljoen mense in die voormalige tuislande wat toegang tot
grond het, maar min daarmee uitrig omdat hulle dikwels te min grond het om
volhoubaar te boer en nie toegang het tot water, arbeid en insette soos kunsmis
en voorligting nie.
Die
regering het reeds met optrede begin, soos die departement van landbou wat saad,
trekkers en ander benodigdhede aan kleinboere verskaf.
Kartelle
in die waardeketting word opgebreek om te verseker dat kleinboere toegang tot
markte kan verkry terwyl gesprekke met kunsmisvervaardigers gevoer word om pryse
te verlaag.
Die
Nywerheidsontwikkelingskorporasie het reeds toestemming gekry om in die loop van
die volgende vyf jaar R5 miljard beskikbaar te stel vir die skep van nuwe
agri-ondernemings en die uitbreiding van bestaande ondernemings.
Patel sê
hulle verwag van die landbousektor dat meer in die sektor belê word en die
regering onderneem om ’n gunstiger beleggingsklimaat te skep.
Kommersiële
boere word ook gevra om vennootskappe met opkomende boere aan te gaan en hulle
deel van die voedselketting te maak.
Hy het ook
gepleit vir nouer samewerking tussen boere en die voedselverwerkingsketting, en
gesê die omstandighede van bestaande plaaswerkers moet aansienlik
verbeter.
Mnr.
Johannes Möller, president van Agri SA, sê daar sal min van kom as die regering
nie eers na sy eie arbeidswetgewing kyk nie. Dit is veral die voorgestelde nuwe
wet op verblyfsekerheid wat gaan veroorsaak dat meer mense op plase hul werk
verloor.
Die
voorgestelde wet bepaal dat arbeiders op plase ook hul eie boerderye mag
bedryf.
Daar is
ook ander voorbeelde waar staatsdepartemente duidelik nie saamwerk nie.
Die
departement van waterwese wil byvoorbeeld nie toelaat dat opkomende boere aan
wie waterregte toegeken word, dit in ’n saketransaksie met ’n kommersiële boer
kan deel nie.
Möller sê
om die plan te laat slaag, sal die regering opnuut na die beskerming van die
markte met invoerheffings moet kyk.
’n
Voorbeeld is die graanbedryf wat kwyn omdat die plaaslike mark nie teen goedkoop
gesubsidieerde ingevoerde graan beskerm word nie. As daar nie markte is nie, is
daar nie veel sin in verdere beleggings en pogings om opkomende boere te help
nie.
Hy sê
Agri SA is reeds besig met ’n paar aanvoorprojekte om kommersiële boere in
vennootskappe met opkomende boere te plaas waar daar vir albei finansiële
voordeel in die verhouding is.
Dr. John
Purchase, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer, sê hy verwag nie dat
boere meer mense in diens sal neem nie omdat hulle ’n stryd voer om koste te
bespaar.
Die
geleentheid om werk te skep, lê in die landbou-waardeketting.
Hy sê in
sommige vertakkings van die landbou, soos die meulenaarsbedryf, is daar die
geleentheid om kleiner meulens op te rig naby aan die plek waar die graan
geproduseer word, teenoor die huidige gebruik om die graan na groot stede aan te
ry, te maal en die meel dan weer na die landelike gebiede te neem.
Hy sê
verskeie lede van die besigheidskamer brei tans uit, wat tot verdere
werkskepping sal lei.