Verwante Artikels
Top Stories
Mei 21 2012 05:00
Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.
Mei 21 2012 05:00
Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.
Mei 21 2012 05:00
Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.
Kaapstad. – Baie boere in die omgewing van Riviersonderend in die
Suid-Kaap wat voorheen melkbeeste gehad het, moes vinnig ander planne begin
maak omdat melkpryse verswak het.
Wat sommige as entrepreneurs reggekry het, is heel
verrassend.
Mnr. Teddy Kingwill en sy vrou, Desireé, van die plaas Concordia
het reeds 12 jaar gelede begin om kaas te maak. ’n
Buurman, mnr. Cansius Swart, het die melkboerdery gelos, RSE Online gestig en
doodkiste begin vervaardig. Hy het ook die Khomees-kampeerterrein langs die
Sonderendrivier ontwikkel wat sy vrou, Rykie, nou
bestuur.
Swart het die afgelope ses jaar navorsing oor die begrafnisbedryf
gedoen. Hy sê daar sterf daagliks gemiddeld 6 500 mense in die land wat ’n
aanduiding gee van hoe groot die mark is.
Voorheen het hy meubels gemaak, maar nou spits hy hom eerder toe op ’n produk wat goeie
mededinging bied.
“Ek het ’n produk van goeie gehalte. Met lae winsgrense en ’n groot
omset vorder ek goed in die mark,” het Swart gesê.
Van sy kiste gaan al na Namibië en Angola, maar Swart sê hy moet
nog meer op die Wes-Kaapse mark konsentreer.
Hy ontwikkel ook ’n doen-dit-selfpakket wat ’n grafsteen insluit
wat van China af ingevoer word.
Die Kingwills het ook al ’n goeie plaaslike afset vir hul
verskeidenheid kaasprodukte. “Ons het uit ’n boek geleer hoe om kaas te maak en toe later ’n kursus by Elsenburg gevolg. In die
begin het ons net gewone cheddar en gouda gemaak,” vertel me. Kingwill.
Die span is intussen versterk toe mnr. Ngoni Gonapanja, ’n
Zimbabwiër en “uitstekende kaasmaker” hom by hulle aangesluit het.
Deesdae maak hulle 15 verskillende
soorte cheddar en steeds die gouda. “Ons maak elke
week kaas – soms twee maal, soms drie maal. Dit duur sowat twee maande voordat
die kaas reg is om te eet.”
Me. Kingwill sê die kaas word van Jerseymelk gemaak en hulle
gebruik geen preserveermiddels of kleursel nie.
Net kruie of speserye – soos brandnetel, peper, mosterd en komyn –
word gebruik vir geur.
Hulle maak ook “troukoeke” van kaas.
Die Kingwills se grootste afsetpunt is elke Saterdagoggend by Greyton se mark.
Hulle verskaf ook baie kaas aan padstalle, gastehuise en restaurante in die
omgewing.