Kaapstad. - In
’n bisarre ontwikkeling in die koolstofmarkte het twee miljoen koolstofpermitte
die afgelope twee weke uit die Europese koolstofmark weggeraak.
Dit
blyk dat kuberkrakers vir van die verdwynings
verantwoordelik was. Die eerste voorvalle het voorverlede week kop uitgesteek
toe ’n koolstofhandelaar in die Tsjeggiese Republiek aangemeld het 475 000 van
sy koolstofpermitte is weg en na Estland oorgedra. Die totale waarde van die
koolstofpermitte wat verdwyn of gesteel is, word op sowat €29 miljoen geraam, het
Bloomberg New Energy Finance berig. Die totale omset op die
Europese koolstofmark was verlede jaar €90 miljard.
Die
Europese koolstofmark het die verhandeling van koolstofpermitte in ’n aantal
lande gestaak en hul koolstofregisters is gesluit totdat verseker kon word dat
voldoende sekuriteitsmaatreëls ingestel is.
Die
lande waaruit koolstofpermitte verdwyn het, is Oostenryk, Griekeland en die
Tsjeggiese Republiek.
Die
Tsjeggiese koolstofregister gaan luidens Bloomberg nog ses weke
of langer gesluit bly. Amptenare het bevind 14 van die 27 EU-lidlande het nie
voldoende sekuriteitsmaatreëls vir hul
koolstofregisters nie. Kritici gebruik die voorval as nog ’n voorbeeld waarom
die koolstofmark nie ’n doeltreffende manier is om kweekhuisgasvrystellings te
verminder nie. Mnr. Gregor Paterson-Jones, uitvoerende hoof van Sterling
Waterford Securities, sê dit is ’n rekenaarveiligheidskwessie eerder as ’n
bedryfskwessie.
“Die
koolstofmark is veral in die EU tot dusver baie suksesvol om die
kweekhuisgasvrystellings deur nywerhede te meet en die vermindering daarvan op
te dwing. Meer kan gedoen word, maar dit het te doen met die werklike teikens
wat gestel word eerder as met die meganisme waardeur die verminderings
gereguleer word. Die markmeganisme is baie suksesvol om ’n platform te skep
vir ontwikkelde ekonomieë om in die
groen-projekte van ontwikkelende ekonomieë te belê.”
Sterling
Waterford het ’n koolstofkrediet-skuldbrief wat in rand op die JSE verhandel wat
deur ’n kontrak met BNP Paribas in Londen onderskryf word. Hy benadruk die
diefstal van die EU-koolstofpermitte het geen uitwerking op dié
beleggingsinstrument nie.
Boonop
is dit net die kontantmark-gedeelte van die Europese koolstofmark waarvan
verhandeling tydelik gestaak is. Die meeste verhandelings in die koolstofmark
vind in die termynkontrak-mark plaas, sê Paterson-Jones.
Me.
Emily Tyler, onafhanklike konsultant en klimaatsveranderingsekonoom, sê dit kon
in enige finansiële mark gebeur het wat nie voldoende sekuriteitsmaatreëls het
nie. Sy meen die voorval kan die nasionale tesourie se saak sterk om voorkeur te
gee vir ’n koolstofbelasting eerder as ’n
koolstofverhandelingsmark.
Mnr.
Kevin James, uitvoerende hoof van Global Carbon Exchange, sê die probleem met ’n
koolstofbelasting, soos reeds gesien met die koolstofbelasting op nuwe voertuie
wat verlede jaar in Suid-Afrika ingestel is, is dat dit blykbaar net as nog ’n
inkomstestroom beskou word wat die staatskoffers aanvul. James glo dus die
koolstofverhandelingsmark met al sy gebreke is steeds ’n beter manier om
uiteindelik kweekhuisgasvrystellings te verminder omdat dit projekte finansier
wat positief is vir die omgewing.
Ontwikkelende
lande soos Suid-Afrika behoort die geleenthede van die VN se Skoon
Ontwikkelingsmeganisme en ander vrywillige skemas te benut om finansies,
vaardighede en tegnologie van ontwikkelde lande te verkry vir volhoubare ontwikkeling, sê James.
Hy
glo die vrywillige koolstofmark in Afrika behoort beter bemark te word omdat dit
toegankliker is. Die vraag na vrywillige koolstofkrediete neem voortdurend toe
danksy maatskappye wat koolstofneutraal wil word. Suid-Afrikaanse maatskappye
het ’n groot vraag na koolstofkrediete, maar bitter min is beskikbaar.