Verwante Artikels
Top Stories
Mei 21 2012 05:00
Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.
Mei 21 2012 05:00
Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.
Mei 21 2012 05:00
Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.
Kaapstad. - Agri SA het vandeesweek ’n belangrike sege teen die
regering behaal oor eensydige beperkings wat op boere se regte geplaas is.
Dié keer gaan dit oor waterregte, nadat die hof
reeds ten gunste van Agri SA beslis het in ’n saak wat oor die oordrag van boere se mineraleregte gaan.
Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het
Vrydag beslis dat die departement van waterwese fouteer deur die regstel van
rasse- en geslagsdiskriminasie as oorheersende faktor in die toekenning van
waterregte te gebruik, terwyl tien ander faktore ook in ag geneem moet
word.
Die hof het die praktyk deur die departement van
waterwese as onbekwaamheid bestempel.
In die praktyk het dit daarop neergekom dat
kommersiële boere sukkel om waterregte van een
eienaar na ’n ander oor te dra omdat die owerhede dit nie wil goedkeur nie as
die aansoeke nie aan streng bemagtigingsvereistes voldoen nie.
Omdat die waterregte nie gebruik kan word nie, gaan
baie potensiële inkomste verlore.
Die saak spruit uit die aansoek van Goede
Wellington Boerdery om regte vir die gebruik van water uit die Bergrivier oor te
neem wat deur die buurplaas ECPA Boerdery gehou is. Die aansoek is eers deur die
departement van waterwese en toe deur die watertribunaal van die hand
gewys.
In die lig hiervan het Agri SA besluit om die
aansoek van Goede Wellington Boerdery in die hooggeregshof verder te voer.
Mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, sê die
organisasie het sedert 2007 met die departement onderhandel om ’n ooreenkoms te
probeer bereik oor die toepassing van art. 27(1) van die Nasionale Waterwet, Wet
36 van 1998.
“Talle aansoeke is afgekeur deur slegs voldoening
aan art. 27(1)(b) te vereis terwyl die ander vereistes oënskynlik ondergeskik
daaraan gestel is,” sê hy.
“Die artikel verwys na die behoefte om rasse- en
geslagsdiskriminasie van die verlede reg te stel.”
In sy uitspraak in die
Noord-Gautengse hooggeregshof het regter James Goodey beslis dat die departement
van waterwese en die watertribunaal ’n wesenlike regsfout begaan het deur die
behoefte aan regstellende aksie in art. 27(1)(b) as ’n oorheersende faktor te
beskou by die beoordeling van aansoeke om watergebruiksregte of die oordrag
daarvan.
Dié vereiste is net een van 11 relevante faktore
wat deur art. 27(1) in ag geneem moet word. Van die ander faktore is die
doeltreffende en voordelige gebruik van water en die sosiaal-ekonomiese impak
van watergebruik.
Die regter het ook beslis dat die besluit van die
watertribunaal in Goede Wellington Boerdery se geval nie net tersyde gestel moet
word nie, maar die oordrag van waterregte van ECPA Boerdery na Goede Wellington
Boerdery moet magtig.
Die departement is voorts gelas om saam met die
watertribunaal die regskoste te betaal omdat daar volgehou is met die verkeerde
toepassing van art. 27(1)(b).
Die optrede van die watertribunaal is aan
onbekwaamheid toegeskryf.