Johannesburg. – Die bedryfs- en ekonomiese probleme wat die platinumbedryf in Noordwes die laaste tyd onder groot druk plaas, het in die ses maande tot einde 2011 ook ’n wesenlike invloed op Aquarius se resultate gehad.
Die groep sê swakker platinumpryse, dalende produksie as gevolg van arbeidsprobleme en gedwonge mynsluitings ingevolge veiligheidswetgewing, asook vertragings met die instelling van gemeganiseerde mynboumetodes, het ’n negatiewe invloed op sy resultate gehad.
Hóé negatief blyk uit die feit dat die verdienste voor rente, belasting en waardevermindering met 69% afgeneem het, van $93 miljoen ’n jaar tevore tot $29 miljoen.Wat wel positief is, is dat hy darem steeds positiewe kontantvloei uit bedrywighede van $25 miljoen behaal het, 53% swakker as die vergelykende verslagtydperk se $54 miljoen.
Dit is egter nie meer genoeg om kapitaalbesteding en verkrygings te doen nie en dit moes gedoen word uit die groep se kontantreserwes, wat aan die einde van die ses maande $230 miljoen beloop het, sê mnr. Stuart Murray, uitvoerende hoof.
Platinumpryse het in die verslagtydperk verder onder druk gekom en is nou vir die eerste keer in dekades laer as die goudprys.
Die platinumprys is nou in dollar 21% laer as ’n jaar gelede, palladium 16% laer en rodium 30% laer.Die swakker rand het egter gehelp om die dalings teen te werk, want die randprys vir ’n mandjie metale was net 5% laer teenoor die vorige verslagtydperk.
Die kern van Aquarius se probleem is ’n 14%-afname in die produksie van platinumgroepmetale van 250 972 onse tot 215 453 onse. Dit het noodwendig daartoe gelei dat die produksiekoste per ons in dollar met 26% en in rand met 35% teenoor die eerste helfte van die vorige boekjaar gestyg het.
Aquarius sê die probleme, wat onder meer veroorsaak is deur swak beheer oor koste en ertsgrade, het daartoe gelei dat daar begin is om die huidige kontrak met Murray & Roberts, die mynkontrakteurs, te herbeding. ’n Nuwe voordeliger bedeling behoort teen die einde van die derde kwartaal ingestel te wees.
Een van die groot risiko’s die laaste tyd is die toepassing van art. 54 van die Wet op Gesondheid en Veiligheid in Myne waarvolgens ’n myn ná ’n noodlottige ongeluk gesluit kan word totdat die nodige ondersoeke afgehandel is.
Daar was in die verslagtydperk twee noodlottige ongelukke by Everest en een by Kroondal wat die lewe van drie werkers geëis het.By die Everest-myn het onderbrekings as gevolg van veiligheidswetgewing, ’n brand en onderhoudsprobleme daartoe gelei dat 36 skofte in die verslagtydperk verlore gegaan het wat ’n groot invloed op produksie gehad het.Die arbeidsonrus in Noordwes weens die opkoms van ’n nuwe vakbond, die Association of Mining and Contractors Union (Amcu), wat bedrywighede by Impala Platinum se Rustenburg-eenheid verlam, het ook daartoe gelei dat 13 dae by die Everest-myn weens ’n staking verlore gegaan het.
In ’n nuwe loonooreenkoms met Murray & Roberts se mynbou-afdeling is die nuwe vakbond erken.Produksie by Marikana en Kroondal word nog negatief beïnvloed deur die instelling van nuwe gemeganiseerde mynboumetodes, maar baie van die probleme is teen die einde van die verslagtydperk uitgepluis.
Verhoogde myntantième, huur- en lisensiegeld gaan die groep miljoene dollars per jaar kos.