Kaapstad. – Die Suid-Afrikaanse mynbedryf het die wêreldwye opswaai
in hulpbronne misgeloop omdat die regering foute
begaan het, maar daar is geen sprake van nasionalisering in die bedryf
nie.
Só het mnr. Trevor Manuel, minister van beplanning in die
presidensie, gister hier op die Mynbou-indaba gesê.
Onsekerheid oor eiendomsreg in die bedryf is dalk verantwoordelik
vir sowat ’n derde van beleggers se skuheid, maar die grootste probleem was die
onderbesteding aan infrastruktuur soos water, spoorgeriewe, hawegeriewe en
elektrisiteit wat hoër uitsette in die mynbedryf sou kon rugsteun, het Manuel
gesê.
“As dit gedoen word, is daar geen rede waarom mynuitset nie binne
’n dekade kan verdubbel nie. Dit impliseer groei van 7% per jaar in die
mynbedryf.
“Die regering het in wese hiermee misluk en die planne om dit reg
stel, is in ’n gevorderde stadium. In sommige gevalle word dit reeds in werking
gestel,” het Manuel gesê.
Dit is ook waar dat prysbeleid vir belangrike infrastruktuur in die
mynbedryf “suboptimaal” was. “Pryse was te laag en het nie tred gehou met die
ekonomiese koste om die infrastruktuur in stand te hou nie. Wanneer dit gebeur,
lei dit tot moeilike aanpassings, soos nou in die energiebedryf.”
Die Nasionale Beplanningskommissie se beleggingsplan, wat hopelik
teen Mei vanjaar gefinaliseer sal word, maak in besonderhede voorsiening vir die
infrastruktuur om die platinumbedryf in Noordwes (die sogenaamde “westelike
been”) en die steenkoolreserwes in die Waterberge te ontgin, het Manuel
gesê.
Die plan bevat ook voorstelle vir die bou van nog
ystererts-spoorlyne, steenkoollyne en hawe-infrastruktuur, en vir toekomstige
energiebehoeftes.
Daar was egter fout met die prysbeleid van ou infrastruktuur wat
nie herhaal mag word nie.
“Die staat sal in vennootskap met die private sektor in dié
infrastruktuur belê, maar die prysbeleid daarvoor sal reg moet wees.
“Die staat kan ’n gedeelte van die risiko daarvoor aanvaar, maar hy
kan nie dienste op lang termyn subsidieer nie.”
Hy het ook gerusstellings uitgespreek oor moontlike hoër belastings
soos voorgestel word in die ANC se navorsingsdokument. Daar sal breedvoerig met
die mynhuise beraadslaag word voordat enige belastingveranderinge aangebring
word.
“Mynhuise en die Kamer van Mynwese weet met die inwerkingstelling
van die Wet op die Ontwikkeling van Petroleum- en Minerale Hulpbronne het die
kwessie van mynboutantieme ter sprake gekom.
“Ons kon kortpad vat en dit net eenvoudig in werking stel. Die
mynbedryf weet egter dat ons pynlik konsulterend was in ons benadering
hieroor.
“Vandag het ons ’n stelsel van myntantieme. As daar enige
verandering daaraan is, is ek baie seker dat die ministeries van finansies en
minerale bronne ’n langtermynsiening daaroor sal inneem en dit nie net eendag
uit die bloute sal instel nie.”