Johannesburg. – Die onbeskermde staking wat Impala Platinum
(Implats) se vlagskip-mynkompleks in Rustenburg verlam en tot die afdanking van
al 17 200 ondergrondse werkers gelei het, kom neer op ’n rebellie teen die National Union of Mineworkers (NUM) deur sy eie
lede.
Die uitkoms sal ’n deurslaggewende toets wees vir sy vermoë om as
die middelpunt van arbeidsverhoudinge in die platinumsektor op te tree.
Die NUM het juis by Implats sy oortuigendste monopolie op
onderhandelinge – dermate dat sy erkenningsooreenkoms met Implats feitlik ander
vakbonde verbied en hy alleen namens alle beroepsvlakke onderhandel.
Die staking spruit uit die NUM se instemming tot ’n groot verhoging
vir een kategorie werkers waaroor ander werkers diep ongelukkig is.
’n Kort staking van rotsboorders by Implats se no. 14-skag op
12 Januarie het binne ’n week in ’n staking van al 5 000 rotsboorders by die
kompleks ontaard.
Nadat die rotsboorders amper almal afgedank is, het die staking na
die hele werkmag uitgekring.
Twee weke later is steeds geen amptelike eise gestel of
onderhandelinge gevoer nie, want werkers weier om deur die NUM te onderhandel en
Impala weier om te onderhandel met ’n komitee wat die stakers aangewys het om
die vakbond te omseil.
Stakers met wie Sake24 in die afgelope week op ’n besoek aan Implats se
hostelle gepraat het, het gal gebraak oor hul vakbond en volgehou dat hulle dié
stryd sonder die NUM gaan stry.
Hulle eis ’n reuseverhoging vir laer beroepsvlakke, veral
rotsboorders, in reaksie op die eenmalige 18%-verhoging vir myners, ’n betreklik
hoë beroepsvlak.
Volgens Implats het die NUM dié selektiewe verhoging sonder besware
goedgekeur, maar die NUM sê nou hy was uit die staanspoor uit daarteen
gekant.
Stakers by Implats sê egter die NUM het “stilgebly” nadat die
verhoging aan die myners toegestaan is.
“Ons wil nie 18% hê, ons wil R9 000 hê – ná belasting,” het ’n
aantal rotsboorders aan Sake24 gesê. Dié werkers ontvang tans
sowat R6 000 per maand.
“Ons het ook dié syfer gehoor,” sê mnr. Bob Gilmour, Implats se
woordvoerder. Die myngroep weier egter om met enige verteenwoordigers buiten die
NUM te onderhandel.
Mnr. Sydwell Dokolwana, die NUM se streeksekretaris in Rustenburg,
het sulke eise afgemaak as ’n siniese werwingsfoefie van ’n mededingende
vakbond wat die staking aangegryp het om Implats-werkers te werf.
“Dit was sy werwingstrategie. Hulle het hier aangekom en vir mense
gesê: ‘Ons is met julle en sal veg tot die dood vir jul eise.’ ”
Dié mededinger is die Association of Mineworkers and Construction
Union (Amcu), ’n vakbond wat in 2003 van die NUM in Mpumalanga weggebreek het en
hom onlangs in die platinumbedryf gevestig het.
Amcu het in Oktober verlede jaar met ’n staking die
mynboukontrakteur Murray & Roberts Cementation (MRC) gedwing om hom te erken
by Aquarius Platinum se Everest-myn, waar MRC die werkmag verskaf.
Amcu het in 2010 ook by die myngroep Xstrata ’n staking uitgeroep
om erkenning te kry.
Stakers by Implats sê Amcu het op die toneel verskyn nadat die
rotsboorders reeds met hul staking begin het en hul eie komitee toegang tot die
mynbestuur geweier is.
Dit blyk nou dat die rotsboorders se komitee sy lot met Amcu
verbind het – ’n gevaarlike ontwikkeling in die platinumsektor met sy taamlik
onlangse geskiedenis van vakbond-oorlog (in die laat 1990’s).
Die rebellie van NUM-lede kom dus nie
uit die bloute nie.
Die NUM se ongewildheid onder dele van die Implats-werkmag is ook
in 2009 dramaties geïllustreer toe die vakbondleiers ’n onbeskermde staking
verbete probeer beëindig het. Mnr. Piet Matosa, adjunkpresident van die NUM, is
met klippe bestook toe hy stakers probeer toespreek het en het in die proses glo
’n oog verloor.
Die NUM kon ook verlede jaar tydens ’n onbeskermde staking by
Lonmin se Karee-skag nie daarin slaag om werkers terug by die werk te kry
nie.
Cosatu in Noordwes het in ’n verklaring Implats en Amcu gekap,
maar ook die stakers gemaan om hul ongelukkigheid met die NUM by Cosatu aan te