Verwante Artikels
Top Stories
Mei 21 2012 05:00
Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.
Mei 21 2012 05:00
Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.
Mei 21 2012 05:00
Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.
Kaapstad. – Mense uit arm plattelandse gemeenskappe het gister een
ná die ander opgestaan om te vertel hoe mynmaatskappye hul regte misken, vertrap
en die omgewing vernietig ten koste van hul gesondheid en lewenstandaard.
In ’n bespreking wat onder meer deur die Sentrum vir Omgewingsreg
gereël is om met die jaarlikse Mynbou-indaba saam te val, het me. Melissa
Fourie, direkteur van die sentrum, gesê die impak van mynbou op die omgewing is
’n ongemaklike waarheid wat nie by die Mynbou-indaba welkom is nie. Die impak
van verkeerde besluite en nie-voldoening aan omgewingswetgewing in die
mynboubedryf word uiteindelik in die omgewing gesien.
Mnr. Gebnezar Dladla van ’n gemeenskap naby St. Lucia in
KwaZulu-Natal sê sy gemeenskap is ernstig geraak deur mynbou in die omgewing,
maar hul regte is misken en die myn minag enige poging tot inspraak van die
gemeenskap se kant.
Mnr. Mashile Phalane van Tzaneen in Limpopo sê sy gemeenskap het
klagte teen die direkteure van ’n myn gelê weens onwettige mynbou. Een van die
direkteure is die vrou van ’n politieke leier in Limpopo.
Mnr. Samson Sibande, ’n boer van Belfast in Mpumalanga, het ’n
plaas van 215 ha, maar 30 ha daarvan bestaan uit ’n steenkoolmyn wat nou nog nie
gerehabiliteer is nie. Toe sy boorgat nie water kon verskaf nie, het hy water
uit dié gebied vir sy vee gegee en drie bokke het gevrek.
’n Mynboumaatskappy wat weer daar wou kom myn, het sy eiendom
sonder sy toestemming betree om steenkoolmonsters te versamel.
Me. Thelma Nkosi van Madadeni in Mpumalanga sê ’n mynmaatskappy het
die gemeenskap se watertoevoer en die speelgrond van die plaaslike skool
vernietig. Die gemeenskap het uiteindelik met baie moeite en regshulp daarin
geslaag om die myn te laat sluit.
Prof. Tumai Murombo van die Universiteit van die Witwatersrand wat
die paneelbespreking gelei het, sê hulle is nie gekant teen mynbou as ekonomiese
aktiwiteit nie, maar teen mynbou wat sleg is vir die omgewing en wat
onvolhoubaar is.
Phalane en Nkosi sê tradisionele stamhoofde word omgekoop om ten
gunste van die mynbase te wees en gemeenskappe is verdeeld. Dokumentasie oor beoogde mynbedrywighede is gewoonlik hoogs tegnies
en in Engels, wat dit vir die gemeenskap moeilik maak om dit te lees en
verstaan.
’n Delmas-gemeenskapslid sê in stedelike gebiede is dit net die
raadslede en burgemeesters wat bevoordeel word.