Kaapstad. – Die grootste transaksie in die geskiedenis van die
mynbedryf het gister formeel op dreef gekom met ’n
aankondiging deur Xstrata dat Glencore 2,8 van sy eie aandele aanbied vir elke
Xstrata-aandeel – ’n prys van $41 miljard vir die 66% van Xstrata wat Glencore
nie reeds besit nie.
Dit gaan ’n nuwe mynreus, die wêreld se vierde grootste, skep met
’n markwaarde van sowat $90 miljard.
Twee voormalige Suid-Afrikaners, mnre. Mick Davis (53), uitvoerende
hoof van Xstrata, en Ivan Glasenberg (55), uitvoerende hoof van Glencore, sal
aan die hoof van die nuwe reus wees. Davis gaan die uitvoerende hoof van die
nuwe maatskappy wees en Glasenberg sy adjunk.
Die res van die direksie bestaan uit vier verteenwoordigers van elk
van die twee bestaande maatskappye.
“Die direksie van Xstrata is uiters begaan daaroor dat die huidige
topbestuur in beheer van die nuwe maatskappy moet wees vanweë die
kapitaalprogram waarmee Xstrata besig is,” het mnr. Trevor Reid, finansiële
direkteur van Xstrata, in ’n telefoonkonferensie uit Londen gesê.
Reid gaan ook die finansiële direkteur van die nuwe maatskappy
wees.
Volgens hom is daar geen aansporingsgeld wat aan Glasenberg
verskuldig is indien die transaksie slaag nie, maar Davis gaan vir drie jaar ’n
retensiebetaling ontvang.
Die ruilkoers verteenwoordig ’n premie van 15,2% op Xstrata se aandeelprys op 1 Februarie, die dag waarop die transaksiepoging
bekend geword het, en ’n premie van 27,9% op
Xstrata se gemiddelde aandeelprys oor die vorige drie maande.
Dis moeilik vir buitestanders om ’n waardasie te doen van Glencore
– meer ’n handelshuis vir grootmaat-hulpbronne soos steenkool, ystererts,
aluminium, katoen en suiker. Gisteraand was daar aandeelhouers van Glencore wat
gekla het dat die ruilkoers te laag is.
Albei maatskappye se aandeelprys het ook skerp gedaal nadat die
transaksie aangekondig is, maar Glencore het weer effens verstewig en die dag
uiteindelik 1,14% laer afgesluit. Xstrata het die dag egter 4,84% laer as die
vorige dag afgesluit.
Glencore het sowat 2 800 werknemers wat sy bemarkingsbedrywighede
hanteer en nog 54 800 werknemers wat by sy nywerheids- en mynbou-eenhede in 30
lande werk. Hy beskik onder meer oor ’n vloot van 203 skepe.
In sy laaste boekjaar het sy bedryfsinkomste $4,1 miljard
beloop.
Sedert Xstrata verlede week aangekondig het dat hy en Glencore oor
die moontlike samesmelting praat, word druk bespiegel dat die transaksie tot nog
samesmeltings gaan lei – waarskynlik tussen die nuwe maatskappy en óf Rio Tinto
óf Anglo American.
Tydsberekening sal deurslaggewend wees vir ’n moontlike aanbod vir Anglo American of Rio Tinto.
Davis het kort ná die aankondiging gesê hy verwag dat die
transaksie in die derde kwartaal van vanjaar gesluit sal word. Daarna sal dit
minstens ’n jaar duur voordat die samesmelting afgehandel is, maar dit sal
waarskynlik heelwat langer duur.
Die samesmelting van BHP van Australië en Billiton in 2001 het
sowat twee jaar geduur voordat dit afgehandel is.
As die twee maatskappye saamsmelt, sal die nuwe groep ’n jaarlikse
omset van $209 miljard (R1 582,13 miljard) hê.