Verwante Artikels
Top Stories
Mei 21 2012 05:00
Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.
Mei 21 2012 05:00
Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.
Mei 21 2012 05:00
Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.
Johannesburg. – Die staking by Xstrata se plaaslike bedrywighede kan vandag of môre
beëindig word nadat die departement van minerale bronne Maandagaand by die
dispuut oor die myngroep se winsdeling-skema ingegryp het.
Die partye het in Pretoria met adv. Sandile Nogxina, wat onlangs as
direkteur-generaal van die departement afgetree het en nou die minister van
mynbou se spesiale adviseur is, vergader. Daar is glo ooreengekom dat die skema
wel geskep sal word.
Xstrata het verlede week in reaksie
op die staking gesê hy skrap die plan om jaarliks 3% van sy nabelaste plaaslike
wins onder die plaaslike werkmag te verdeel.
Die vakbond NUM het onderneem om
vandag te stem oor sy staking, wat Sondagaand begin het. Dit word in “goeder
trou” gedoen, maar beteken nie dat die staking verby is nie, sê mnr. Lesiba
Seshoka, die NUM se woordvoerder.
Daar was gister op ’n vergadering van vakbondverteenwoordigers glo
min steun vir die staking se beëindiging.
Volgens ’n verklaring van die departement is daar ingestem dat die
skema “strook met die regering se beleid”. Dit is ’n vae bepaling waaroor die
departement se woordvoerder, me. Zingaphi Jakuja, haar nie wou uitlaat nie. “Ons
gaan nie voorskryf wat hulle moet doen nie,” het sy aan Sake24 gesê.
Esops, oftewel winsdelingskemas word nêrens in wetgewing
voorgeskryf nie, maar word wel in die mynbouhandves gesteun. Die verwysing na
“regeringsbeleid” beteken dus waarskynlik dat Xstrata se skema ook ’n swartbemagtigingstema kry, iets
wat hy wou vermy omdat dit sou neerkom op gelyke winsdeling.
Hoewel die handves nie uitdruklik bepaal hoe aandeleskemas hul
dividende behoort te verdeel nie, is die bevoordeling van die onderste
beroepsvlakke ’n voor die hand liggende kenmerk.
Volgens Seshoka het die departement minstens die onderhandelinge
weer aan die gang gekry en Xstrata oorreed om nie
die skema te skrap nie.
Volgens hom het Xstrata nou ook “in
beginsel” die NUM se standpunt as legitiem
aanvaar. Dit is dat alle werkers ewe veel uit die skema kry en dié op hoër
beroepsvlakke nie meer as ander nie.
Xstrata en die NUM is sewe dae gegee om
hul dispuut op te los, maar dit is onseker wat daarna moet gebeur.
“Die
departement wil nie die partye se onderhandelinge voorspring nie,” sê
Jakuja.