“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van
jou af weg, want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan
as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.”
Dié Bybelse beginsel is presies wat
Accentuate gedoen het met sy besluit om sy
sukkelende filiaal Centurion Glass & Aluminium (CGA) te verkoop.
Aandeelhouers het só baie van die besluit gehou dat die groep se
aandeelprys met die bekendmaking daarvan met meer as 11% gestyg het.
Accentuate het met sy notering in
2006 uit twee afdelings bestaan, naamlik Floorworx, wat duursame
vloerbedekkings vir byvoorbeeld skole en hospitale verskaf, en Safic, wat
chemiese middels, onder meer vloerreinigers, verskaf.
In 2008, toe die konstruksiemark oorverhit was, het die groep CGA
aangeskaf in ’n poging om te diversifiseer.
Die rasionaal was dat CGA se glas- en alumiumprodukte pasgemaak
word en die bemarkingsgeheim, soos met die groep se vloerbedekkings, is om te
sorg dat die produk uitdruklik gespesifiseer word vir ’n
konstruksieprojek.
Accentuate meen nou hy het hom ’n kat
in die sak gekoop en is trouens besig met regstappe oor die beweerde
nie-nakoming van sekere waarborge. Die groep eis sowat R10 miljoen.
In die jaar tot einde Junie het CGA ’n verlies van R12,5 miljoen
gely, wat die res van Accentuate se wins van
R8,8 miljoen uitgewis het. Die groep het feitlik CGA se hele koopprys boonop in
die state afgeskryf en is besig met samesprekings om die onderneming van die
hand te sit. Die totale afskrywing is meer as R70 miljoen.
Die direksie sê CGA se buitensporige kostestruktuur is met 30%
verlaag, maar die onderneming slurp die bestuur se tyd en energie op terwyl
ander geleenthede verbygaan.
Accentuate meen nie dat die
marksegment waarin CGA betrokke is, in die volgende paar jaar gaan verbeter nie
en sal liewer voortaan daarop fokus om Floorworx en Safic, wat stewige
ondernemings is, uit te bou.
Dié ledemaat kan nie verder die hele liggaam verlam nie, het Accentuate besluit.
Floorworx het in moeilike handelstoestande die skerp daling in sy
omset van die eerste halfjaar gestuit en die daling vir die jaar beperk.
Die verdienste het met meer as R1 miljoen gestyg vergeleke met die
vorige boekjaar.
Safic het gevorder met die aanpassing van sy bemarkingsmodel. Dít
het sy gereelde kontrakinkomste verhoog tot 28% van die omset, wat die
maatskappy baie meer volhoubaar maak.
Die groep het heelwat belê in die opleiding van
skoonmaakpersoneellede van nuwe kliënte in die gebruik van Safic-produkte.
Dié belegging sal na verwagting in die nuwe boekjaar vrugte dra.
Accentuate beplan om die kontant uit die verkoop
van CGA te gebruik vir uitbreiding in die vloer- en verwante markte, organies en
deur verkrygings.
Mnr. Ralph Patmore, wat vir ’n dekade aan die stuur van sake was by
die boumateriaalgroep Iliad, is aangestel as leidende nie-uitvoerende
direkteur. Accentuate sê sy ervaring in dié mark sal van onskatbare waarde wees
in die groep se poging om sy markaandeel te vergroot.