Kaapstad. - Die verlaging van 25% in die aansporingstariewe vir windkrag en
sowat 40% in dié vir sonkrag wat die Nasionale Energiereguleerder van
Suid-Afrika (Nersa) voorstel, is ’n terugslag vir
die hernieubare-energiebedryf, volgens dr. Kilian Hagemann, direkteur van G7
Renewable Energies.
Nersa het vandeesweek ’n hersiening van sy
hernieubare-energie-invoertariewe (Refit) vir openbare kommentaar gepubliseer.
Volgens Nersa is die hersiening nodig weens die daling in inflasie, en laer
finansieringskoste vanweë laer rentekoerse.
Die aanvanklike tariewe is in 2009 bekend gemaak. Toe is ’n
inflasiekoers van 8% en ’n nominale skuldkoste van 14,9% in die berekening
gebruik. Vir die jongste voorgestelde tariewe is ’n inflasiekoers van 6% en
skuldkoste van 9,93% gebruik.
Nersa se mandaat is om die tariewe vir die eerste vyf jaar jaarliks
te hersien en daarna elke drie jaar, maar nog geen projek is al op die been wat
volgens die tariewe betaal word nie, en dus het Nersa besluit om dit te hersien
sodat dit finansieel en ekonomies meer realisties is.
Belanghebbendes het tot 22 April tyd om kommentaar te lewer op die
besprekingsdokument waarin die voorgestelde hersiene tariewe vervat word.
Die R1,25/kWh wat windplase vir hul krag sou ontvang, is met 24,9%
tot 93,8c/kWh verlaag.
Die tarief vir fotovoltaïese sonkragprojekte van meer as 1 MW is
van R3,94/kWh met 41,3% tot R2,31/kWh verlaag.
Hagemann sê die hersiening is ’n verrassing vir ontwikkelaars en
investeerders in groenkrag, want daar was geen aanduiding van regeringskant dat
die tariewe hersien sou word net weke voordat die departement van energie en die
nasionale tesourie na verwagting ’n amptelike versoek om voorstelle vir
hernieubare-energieprojekte sou uitreik nie.
Die aansienlike belangstelling en investering in Suid-Afrika se
hernieubare-energiebedryf spruit juis uit die aantreklike invoertariewe wat in
2009 bekend gemaak is, en sakeplanne is op grond van dié tariewe opgestel.
“Watter boodskap stuur die hersiening in hierdie laat stadium aan
beleggers uit? Dit skep ’n omgewing van onsekerheid en dus hoër risiko. Dit sal
meebring dat hulle hoër opbrengste op hul belegging vereis of hul bloot aan die
mark sal onttrek,” sê Hagemann.
Volgens hom het die bedryf reeds meer as R200 miljoen aan
ontwikkelingskoste bestee aan verskeie groenkrag-tegnologieë – van windkrag tot
sonkrag en biomassa.
Nie een van die projekte het egter nog ’n kragkoopkontrak
onderteken nie, en die voorgestelde tariefaanpassings sal die meeste van die
projekte nou onlewensvatbaar maak.
Hagemann sê Nersa se besluit om die tariewe so skielik afwaarts aan
te pas, sal die oorspronklike doelwitte van die invoertariewe ongedaan maak. Die
tariewe is juis ontwerp as meganisme om private beleggers te lok om aan die
vroeë stadium van markontwikkeling deel te neem en ’n volhoubare
groenkragbedryf op te bou.
Dis ’n teenproduktiewe oefening wat tot ’n verlies aan huidige en
toekomstige investering sal lei en ’n verlies aan vertroue in Suid-Afrika se
vermoë om ’n sake-omgewing vir groenkrag te skep, meen Hagemann.
Rolspelers in die sonkragbedryf het vroeër gesê die invoertarief
vir fotovoltaïese sonkrag is te hoog, omdat tegnologiese verbeterings en
kosteverminderings dit moontlik maak om teen laer tariewe steeds winsgewend te
wees. Die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïesebedryfsvereniging (Sapvia), wat 11
fotovoltaïese-sonkragprodusente verteenwoordig, wou nie gister kommentaar lewer
op die voorgestelde hersiene tariewe nie.