Die
Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se ouditeure het by twee geleenthede verslae oor
aanmeldbare onreëlmatighede aan die
reguleringsliggaam vir ouditeure gestuur.
Mnr. Bernard
Agulhas, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure
(ORO), sê die raad het in 2006 en 2010 verslae van Deloitte ontvang.
Dis gister deur
mnr. Costa Qually van Deloitte bevestig.
Die verslae is ook
deur die ORO aan die verantwoordelike owerheid oorhandig, maar dis nie bekend
wat daarvan geword het nie.
Qually wou nie
kommentaar lewer op die inhoud van die verslae nie weens die
vertroulikheidsverhouding met sy kliënt. Hy kon ook nie kommentaar lewer op die
uiteinde van dié verslae nie.
Vrae het ontstaan
oor die rol van ouditeure ná die bekendmaking van die bevindinge oor die
forensiese ondersoek na die SAL se sake.
Sake24 het gister berig
dat die ondersoek daartoe gelei het dat die SAL nou sy oudhoof, mnr. Khaya
Ngqula, wil dagvaar vir bykans R31 miljoen.
Volgens Agulhas het
die verslae verband gehou met die nie-nakoming van die Wet op Openbare
Finansiële Bestuur.
Die 2006-verslag is
aan die destydse minister van openbare ondernemings, mnr. Alec Erwin, en die
departement van handel en nywerheid gestuur. Dit blyk dat Erwin taamlik sterk
gevoel het oor die aangeleentheid en die nakoming van die wet as kritiek beskou
het.
Volgens Qually
word die verslae nie net aan die ORO deurgegee nie, maar ’n kopie daarvan word
ook aan die direkteure van die instellings verskaf. Die verslae is in albei
gevalle aan die direksie van die SAL gegee.
Die 2010-verslag
is aan die departement van handel en nywerheid en die nasionale tesourie
gestuur. Die nasionale tesourie het die ontvangs van die verslag erken.
Volgens Agulhas
maak die verslae melding van nuttelose en verkwistende besteding. Die
besonderhede daarvan is nie bekend nie.
Die ORO het nie
die gesag om van regeringsdepartemente, ministers, die JSE, die Suid-Afrikaanse
Inkomstediens of direksies enige terugvoer op dié verslae te eis nie.
Agulhas het vroeër
gesê as die gebrek aan terugvoer beteken dat nie veel gedoen word nie, kan dit
die goeie bedoelings van die (oudit-)wet belemmer. Hy sê ministers sal optrede
op ’n hoër vlak móét dryf. “Ons taak is om die publiek te beskerm, maar ons kan
niks doen as diegene wat uiteindelik aanspreeklik is, niks doen nie.”