Johannesburg. – Die JSE se indeks van alle aandele het gister 0,68% sterker afgesluit op 34 371
punte – nog ’n hoogtepunt – deels danksy ’n sterk styging in Anglo American se aandeelprys.
Anglo het met 3,34% verstewig ná die
nuus dat die Switserse hulpbronmakelaar Glencore moontlik met die mynreus
Xstrata gaan saamsmelt. Daar is gegis dat die nuwe reus sy visier dalk op Anglo sal instel.
Anglo dra volgens sy markwaarde ’n
gewig van 9% in die JSE se indeks van alle aandele.
Glencore en Xstrata se aandeelprys het ook albei skerp gestyg ná
die aankondiging en dit het Europese beurse help verstewig.
Die euro het egter gistermiddag teruggesak omdat kommer oor
Griekeland beleggers senuagtig hou.
Mnr. Jean-Claude Juncker, voorsitter van die eurogebied se komitee
van ministers van finansies, het gister gesê Griekeland se onderhandelinge met
sy krediteure “is besonder moeilik” en dit het die hoop laat vervaag dat dit gou afgehandel sal word. Juncker
het ook gesê verlede week se vergadering van die Europese Unie (EU) was
onvoldoende om die streek se skuldkrisis op te los.
Mnr. Matthew Sharrat, ekonoom van Suid-Afrika by Bank of America
Merrill Lynch (BofAML), sê daar is nog baie wat verkeerd kan loop in
Europa.
“Die mark moet nog aanvaar dat wanneer Griekeland se probleme
opgelos is, staan Portugal gereed om die Grieke se plek in te neem.”
Sharrat sê die Europese Sentrale Bank (ESB) het vrese oor die
Europese bankstelsel besweer deur likiditeit beskikbaar te stel, maar nog nie
die streek se staatskuldprobleme opgelos nie.
“Die idee is dat banke staatskuld sal begin koop as jy hulle vol
likiditeit prop, maar dit gebeur nog nie.”
Marksentiment het egter gistermiddag laat weer verbeter nadat Amerikaanse aansoeke om
werkloosheidsvoordele meer gedaal het as wat verwag is.
Die rand het teen gistermiddag laat
met net meer as 1% verstewig tot R7,60 teenoor die dollar.
Die goudprys was ook op sy hoogste vlakke sedert middel November en
was gistermiddag laat op $1 758 per fynons.
Mnr. John Morris, beleggingstrateeg by BofAML, sê hoër
kommoditeitspryse ondersteun die JSE se lopie.
“ 'n Groot dryfveer vir ons mark is steeds rand-kommoditeitspryse.
Die randpryse van koper, goud en platinum is naby aan hul
rekordhoogtepunt.”
BofAML verwag dat goud oor die volgende 12 maande, danksy lae
rentekoerse en die beskikbaarheid van likiditeit, tot so hoog as $2 000 per
fynons kan klim.
Morris sê Suid-Afrikaanse portefeuljebestuurders laai tans hul
portefeulje met mynbou-aandele.
“Hulle sien mynbou- en olie-aandele
as regverdig gewaardeer, terwyl banke en kleinhandel duur lyk.”