Johannesburg. – Beleggers in Europa en die VSA wat probeer wegkom van die onsekerheid in hul aandelemarkte, belê lukraak in Suid-Afrikaanse aandele sonder dat hulle behoorlik navorsing doen oor die vooruitsigte van die maatskappye. Dit verwring die aandeelprys van Suid-Afrikaanse maatskappye en dit is beslis nie aandele waarin ’n mens jou geld wil hê as die buitelandse stemming teen Suid-Afrika draai nie, sê mnr. Gavin Wood, hoof van beleggings van Kagiso Batebestuur.
Hy sê buitelanders het sedert begin vanjaar op groot skaal in Suid-Afrikaanse nywerheidsaandele belê wat verskans is teen die ekonomiese siklus en groot dividende betaal. Die aandele wat hulle kies, is meestal dié waarvan die prys verlede jaar goed gestyg het.
Wat opvallend is van die buitelanders se beleggingsgedrag is dat hulle skynbaar Suid-Afrikaanse aandele vermy wat blootstelling het aan ander lande, en hulle steur hulle niks aan wat in Suid-Afrika aangaan of die gehalte van die maatskappye nie. Voorbeelde hiervan is MTN en Sasol, wat negatief geraak word deur die verwikkelinge in Iran. Buitelanders toon wel ’n voorkeur vir beleggings in aandele van maatskappye wat ’n “Afrika-geur” het.
Die kleinhandelsektor is een sektor waarin die buitelandse beleggers hulle oënskynlik nie steur aan die vooruitsigte van die maatskappye nie en die waardasie van die aandele verwring.
Wood sê die prys-verdienste-veelvoud (p/v) van kleinhandelaandele is nou 18 vergeleke met die historiese gemiddelde p/v van 13. Dit is volgens Wood nie volhoubaar nie.
Die groot aankope van aandele van kleinhandelaars in Januarie het ses van hierdie maatskappye se aandeelprys tot nuwe hoogtepunte opgestoot (Mr Price, Spar, Foschini, Massmart, Shoprite en Clicks). Wood sê die faktore wat oor die afgelope jaar die verdienste van kleinhandelaars gesteun het, is ook nie volhoubaar nie – en daaraan steur die buitelanders hulle nie.Hy sê die besteebare inkomste van verbruikers het verlede jaar toegeneem, maar dit was hoofsaaklik vanweë salarisverhogings in die staatsdiens en ’n toename in maatskaplike toelaes.
Verbruiksbesteding word ook gesteun deur ’n kommerwekkende toename in ongesekureerde lenings, wat 63% van verbruikerskuld verteenwoordig.
’n Ommeswaai in rentekoerse en ’n tempering van salarisverhogings sal die voortgesette groei in die afset van kleinhandelaars bedreig, sê Wood.
Voorts het die kleinhandelaars in dié gunstige tydperk hul vloerruimte uitgebrei deur meer winkels te open. “Dit beteken dat hul bedryfskoste groter is, terwyl verkope in bestaande winkels nie toegeneem het nie.”
Ook opvallend van die buitelanders se beleggingsgedrag is dat hulle belê in die swaargewigte in die Suid-Afrikaanse indekse en hulle min steur aan die klein en middelslag-maatskappye.
Volgens Wood is die aandele wat buitelanders ignoreer, dié wat waarde bied vir Suid-Afrikaners.