Johannesburg. – Nog ’n dag, nog ’n sperdatum is misgeloop, maar
beleggers is nietemin optimisties dat Griekeland
stadig, maar seker ’n ooreenkoms sal bereik oor voorwaardes vir ’n tweede
hulppakket waardeur hy ’n morsige wanbetaling van sy staatskuld sal vermy.
Die JSE het gister saam met ander ontluikende markte geklim terwyl
Griekeland se gesprekke oor besuinigingsmaatreëls voortgesit is.
Die JSE se indeks van alle aandele het met 0,74% of 252 punte tot
34 227 geklim.
Dit is gelei deur die hulpbronindeks, wat met 1,1% gestyg
het.
Mnr. Lucas Papademos, die Griekse premier, het gister weer met
politieke leiers ontmoet nadat die vergaderings vir ’n tweede keer in soveel dae
uitgestel is.
Eergister se oponthoud was net nog ’n haakplek in die voltooiing
van ’n pakket wat sedert Julie al op die tafel is, berig Bloomberg.
Die toutrekkery in Athene kan ’n baie belangrike deel van die
tweede pakket vertraag: ’n skuldruiltransaksie waardeur die lenings wat die
regering aan die private sektor skuld bykans gehalveer kan word.
’n Formele aanbod vir die transaksie moet op 13 Februarie gedoen
word sodat alle prosedures betyds voltooi kan word – dus voordat Griekeland se
skuld op 20 Maart betaalbaar is.
Papademos het eergister met verteenwoordigers van die Europese
Kommissie, die Europese Sentrale Bank en die Internasionale Monetêre Fonds
vergader om die laaste besonderhede van die tweede hulppakket te
bespreek.
Leners vereis dat amptenare instem tot streng
besuinigingsmaatreëls, maar min Grieke is hiervoor
te vinde.
- Data wat vandag bekend gemaak word, gaan waarskynlik wys dat
inflasie in China in Januarie gedaal het vergeleke met die vorige maand, volgens
’n peiling wat Bloomberg onder ekonome gedoen het.
’n Verlangsaming in die inflasiekoers sal die Chinese meer ruimte
gee om hul monetêre beleid te verslap.
China se inflasie kan in Februarie tot so laag as 3,2% daal van ’n
driejaarlikse hoogtepunt van 6,5% in Julie verlede jaar, het Bank of America
gesê.
- Op die markte het die Duitse DAX-indeks gister 0,56% hoër
gesluit, die CAC 40-indeks in Frankryk 0,52% hoër en die FTSE 100-indeks in
Londen 0,08% hoër.
Brent-ruolie het die sewende opeenvolgende dag gestyg en in ’n
stadium met 0,2% tot $116,48 per vat gestyg danksy ’n verslag wat gewys het dat
opgepotte voorraad gekrimp het in die VSA, die wêreld se grootste verbruiker,
berig Bloomberg.