Die JSE het Donderdag in ’n verklaring gesê MTN Business, sy diensverskaffer, het stappe gedoen om die
tegniese probleme wat Dinsdag verhandeling tot stilstand geruk het, op te
los.
Dié stappe sal gegrond wees op sy ontleding van die situasie,
waarin hy onder meer ’n verbeterde moniteringstelsel sal inspan.
Die probleme het ontstaan toe internasionale dataverbindings om
09:00 die verbreek is weens veelvuldige transmissie-foute op MTN se
netwerk. Gevolglik kon verhandeling nie plaasvind op die JSE se
kontant-aandelemark nie. Verhandeling is eers om 15:00 hervat nadat die fout
herstel is.
Hoewel verhandeling ook op 12 Julie 90 minute lank onderbreek is,
het die JSE en MTN nog nie vasgestel wat dié dag die probleme veroorsaak het
nie. In dié stadium is die vermoede dat die twee voorvalle nie met mekaar
verband hou nie. Die JSE het Dinsdag sy verhandeling met een uur verleng tot
18:00 en sowat 70 000 transaksies het dié dag plaasgevind.
Die JSE sê hy is spyt
oor hy verhandeling moes staak, maar dis genoodsaak deur “?’n uiterste geval van
netwerk-ineenstorting”.