Verwante Artikels
Top Stories
Mei 21 2012 05:00
Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.
Mei 21 2012 05:00
Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.
Mei 21 2012 05:00
Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.
Johannesburg. – Die Europese Unie (EU) het die tou waarmee hy Griekeland uit die skuldput
moet trek, so te sê om die land se nek vasgeknoop.
Daar is groot kommer oor die uitwerking wat die streng
besuinigingsmaatreëls wat vir ’n tweede hulppakket vereis is, op die Griekse
ekonomie sal hê.
Van die wêreldmarkte het hulle gister egter nie veel gesteur aan
die nuus dat die Griekse regering, die EU en die
Internasionale Monetêre Fonds (IMF) uiteindelik ’n ooreenkoms oor die tweede
hulppakket bereik het nie. Ontleders meen markte het die ooreenkoms al sedert
verlede week verdiskonteer.
Die JSE se indeks van alle aandele het die dag 0,11% sterker
afgesluit op 34 142 punte, terwyl Europese beurse in die rooi geboer het.
Die euro het gisteroggend verstewig, maar sy lopie het teen
laatmiddag begin verflou. Die rand het gisteroggend saam met die euro verstewig
tot R7,64 teenoor die dollar en teen vroeg gisteraand op R7,67 gestaan.
Die EU se ministers van finansies
het Maandagaand, ná 13 uur se onderhandelinge, die stappe gefinaliseer waarmee
Griekeland die verhouding van sy staatskuld tot sy bruto binnelandse produk
(BBP) teen 2020 tot 120,5% moet sny. Dit is net ’n fraksie vrygewiger as die
120% wat die EU en IMF aanvanklik vereis het.
’n Verslag wat verlede week aan die ministers voorgelê is, het
egter getoon dat Griekeland sonder verdere besuiniging by 129% sou uitkom.
Griekeland moet dus staatspensioene en -salarisse verlaag en
duisende staatsdienswerkers in die pad steek om die nodige besparingsvlak te
bereik.
Duisende Grieke het die naweek weer buite die parlementsgebou teen
dié maatreëls betoog.
Griekeland worstel reeds deur die vyfde jaar van ’n resessie en die
ekonomie het sedert 2008 met 16% ingekrimp.
Die Griekse werkloosheidskoers staan op 20% en volgens berigte is
die misdaadsyfer ook aan die toeneem.
Beperkte staatsbesteding sal dit ook vir die ekonomie moeilik maak
om vanjaar te groei omdat duisende Grieke nou minder sal hê om te bestee.
Me. Christine Lagarde, besturende direkteur van die IMF, het egter
gesê die bydraes van die private sektor en internasionale leners sal aan
Griekeland die ruimte bied om sy skuld weer op volhoubare vlakke te kry.
Sy sê die hulppakket sal, saam met die versterking van die
finansiële sektor, die weg baan vir ’n geleidelike herstel in Griekeland se
ekonomiese groei.
“Die strategie neem die opofferinge deur die Griekse burgers in ag
en sal die impak op die armste en mees kwesbare burgers probeer beperk,” het
Lagarde in ’n verklaring gesê.