Afrikaanse lesers wat passievol is oor hul
taal, het waarskynlik al opgemerk dat hul dagblaaie meestal Afrikaanse
advertensies dra, maar soms Engelse advertensies en, selfs erger, deels Engels
wat in ’n opskrif, slagspreuk en trefreël kop uitsteek.
Alte dikwels word Engelse pamflette en brosjures by Afrikaanse
dagblaaie ingevoeg. Boonop duik Anglisismes op wat nie behoorlik deur ’n
professionele vertaler met Afrikaans as huistaal
vertaal is nie.
Wie weet hoeveel lesers al kapsie gemaak gemaak het teen swak
vertaalde reklamekopie van maatskappye wat hul goedere en dienste aan hulle
probeer verkoop? As die lesers beledig genoeg voel, sal hulle dié verskaffers
eenvoudig vermy.
“Nalatigheid soos dié is onbeleefd teenoor Afrikaanse verbruikers.
Adverteerders moet bewus wees daarvan dat Afrikaanssprekendes én gebruikers van
ander inheemse tale in Suid-Afrika besonder lojaal aan hul onderskeie tale is,”
sê me. Marli Viljoen van Folio Vertaalkonsultante (Folio).
“Te meer, te midde van Engelse oorheersing stry hulle ’n volgehoue
stryd vir kulturele bewaring. Dis nie net ’n probleem van Afrikaans nie, maar van bykans alle tale oorsee, veral
kleiner tale, wat die ergste bedreig word omdat hulle beskou word as minder
ekonomies lewensvatbaar. Dié persepsie is dikwels gegrond op veronderstelling
pleks van statistieke.”
Daar moet rekening gehou word met die koopkrag van
Afrikaanssprekende verbruikers in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Sowat 6 miljoen
mense – 13% van die bevolking – praat Afrikaans as
eerste taal.
Bykans die helfte van dié Afrikaanssprekendes is in die middel- tot
hoë inkomstegroepe (LSM 9 tot 10). Onlangse navorsing toon dat 18% van
Afrikaanse huishoudings ’n inkomste van meer as R25 000 per maand het.
Dié situasie skep ’n dilemma vir mediahoofde. By Media24, wat talle
Afrikaanse titels in sy stal het, geld ’n beleid van “slegs Afrikaanse
advertensies vir Afrikaanse platforms” al lank.
Dit sou ’n verbintenis beteken tot vertaalde of herskepte
reklamekopie, asook die erkenning van die krag en potensiaal van Afrikaans as skeppende taal.
Om dié beleid toe te pas, is egter baie moeilik, deels weens druk
van sommige eentalige adverteerders wat nie die waarde vir hul handelsnaam
begryp van die vertaling van advertensies wat in Engels geskep is nie.
As jy weier om sodanige advertensies in Afrikaanse titels te plaas,
kan dit ’n rampspoedige impak op reklame-inkomste hê.
Kragtige advertensies soos die bekroonde werk by die onlangse
Pendoring-reklametoekennings kan die indruk wek dat alles pluis is in die wêreld
van Afrikaanse reklame.
Helaas verteenwoordig die Pendoring-wenners net ’n
sneeuvlokkie op die punt van die ysberg.
Die projekbestuurders van Folio in Kaapstad wat op grondvlak werk,
sê die standaard van Afrikaanse reklame bly stadig, maar seker verswak.
Folio se besturende direkteur, mnr. Philip Zietsman, onthou ’n tyd
toe die Afrikaanssprekende teikenmark met erns en agting bejeën is.
“Die skeppende afdeling van reklame-agentskappe sou Afrikaanse
vertalers uit die staanspoor geraadpleeg het. Ons is gevra of ’n konsep in Afrikaans sou werk; indien nie, sou hulle met ’n ander
skeppende strategie vorendag moes kom.”
Watter ander probleme duik gereeld op met betrekking tot Afrikaanse
reklame, en meer spesifiek die vertaling van Engelse advertensies in Afrikaans?
Sowel digitale as gedrukte publikasies is tot oorlopens toe vol van
saai en alledaagse advertensievertalings. In die ergste gevalle pryk die
advertensies met ’n “afgewaterde” Afrikaans.
In plaas daarvan om ’n professionele vertaler ’n fraksie van die
veldtogkoste te betaal, sal kliënte werknemers of vriende wat die taal kan
praat, maar geensins kundiges is nie, vra om die reklamekopie te vertaal.
Taalfoute kom algemeen voor. Die korrekte vertaling van die drie
Engelse woorde “Welcome study pack” is byvoorbeeld “Verwelkomingstudiepakket”.
Maar die uitleg van die advertensie maak nie voorsiening vir so ’n lang woord
nie, dus word proefnemings met koppeltekens gedoen soos
“Verwelkoming-studie-pakket” of “Verwel-komingstudie-pakket”. Lettertipes en
tipografie word verander en . . . humeure vlam op.
Oplaas kry vertalers die advertensie in die hande, net om uit te
vind die ontwerper het kennelik besluit om die koppeltekens na hul maai te
stuur, met drie los woorde tot gevolg: ’n steen des aanstoots vir lesers.
Agentskappe het onrealistiese spertye vir vertalings. Zietsman
vertel van ’n onlangse geval waar hulle net 30 minute vir ’n vertaling gehad
het. Toe hulle dit wel teen die verwagting in haal, was die agentskap
teleurgesteld “omdat dit nie skeppend genoeg was nie”!
Ná ’n verdere deurnagpoging was die skitterende Afrikaanse weergawe
vir “Having an appetite for investing is different to having the stomach for
it” met inagneming van die sinspeling op “aptyt”: “Is jou beleggersblaf groter
as jou beleggersbyt?”
Soos met die meeste skeppende werk, lyk dit op die oog af so
maklik, maar in werklikheid is dit allesbehalwe.
Agentskappe verskaf selde instruksies met die nodige
vertalingsvereistes. Die vertaling word dan soms verwerp word omdat dit “te
formeel” of “te loslit” is.
Ná die lewering van die vertaalde kopie word veranderinge dikwels
intern aangebring, sonder om dit na die vertalers terug te stuur. Gevolglik word
die risiko geloop dat interne redakteurs – dikwels tafeluitgewers wat nie Afrikaans as moedertaal praat nie – spel- en taalfoute
kan maak, wat tot ’n minderwaardige produk lei.
Maatskappye moet besef dat deur oorspronklike kopie in Afrikaans en ander inheemse tale vir hul teikenmarkte te
skep, of advertensies minstens professioneel te laat vertaal, hulle in hul
handelsnaam belê en handelsnaamlojaliteit bou.
Me. Franette Klerck, Pendoring se hoofbestuurder, stel dit baie
duidelik: “Aangesien die impak van ’n handelsboodskap in ’n teikenmark se
huistaal soveel groter is, pluk bemarkers wat op dié waarheid ag slaan,
finansieel ruimskoots die vrugte.”