Haar Majesteit Elizabeth II, deur die grasie
van God koningin van Groot-Brittanje en Noord-Ierland en van haar ander
koninkryke en gebiede, hoof van die Statebond en verdediger van die Geloof, het
pas haar troonbestyging 60 jaar gelede op 6 Februarie 1952 herdenk, ’n
gebeurtenis wat in Junie vanjaar met groot prag en praal in Londen gevier gaan
word.
Dit vestig weer eens die aandag op die Britse monargie, daardie oorblyfsel uit die Europese
Middeleeue, en ook op ’n aanhangsel daarvan: die berugte Britse klassestelsel.
Verlede week het ’n vreemde voetnoot tot die wêreldwye finansiële
krisis van 2008-’09 die inherente skynheiligheid van dié stelsel beklemtoon, soos ’n kommentator in die gesiene
Duitse Frankfurter Allgemeine Zeitung dit gestel
het.
Op die hoogtepunt van die bankborrel in 2004 is mnr. Fred Goodwin,
die grootbaas van Royal Bank of Scotland (RBS), destyds Brittanje se grootste
bank, op grond van sy meriete as bankier deur haar Britse Majesteit tot ridder geslaan. Daarna het Fred the
Shred, soos hy uit sy jonger dae as die koelbloedige Londense beuel van ’n
Australiese bankgroep bekend geraak het, egter ’n paar foute gemaak.
Nadat hy RBS deur oornames in die wêreld se vyfde grootste bank
omgeskep het, het hy einde 2007 een tree te ver gegee tydens die oornamestryd
vir die Nederlandse ABN Amro Bank. Soos die antieke Griekse heerser Pyrrhos het
hy en sy Belgiese en Spaanse vennote wel die slag vir ABN Amro teen die Britse Barclays gewen, maar die oorlog verloor deur
heeltemal te veel te betaal net toe internasionale markte begin wankel het.
Die uiteinde was dat RBS in Oktober 2008 deur die Britse belastingbetaler met £45 miljard gered moes word
en dat sir Fred sedertdien as een van die hoofverantwoordelikes vir die
daaropvolgende krisis beskou word. Nietemin was hy met sy gedwonge vertrek by
die genasionaliseerde RBS op 1 Januarie 2009 die gelukkige ontvanger van ’n
kontraktueel vasgelegde pensioenuitbetaling van £16 miljoen. Die Britse publiek was nie geamuseerd nie.
Vir die Londense regering onder premier David Cameron, besorg
oor die goeie naam van die kapitalisme, was sir Fred skielik ’n verleentheid.
Dit het beteken dat hy hom moes aansluit by ’n baie eksklusiewe
klub van omstrede figure: mense wie se ridderlike status en titel beëindig is.
Op 1 Februarie is in Londen aangekondig dat Goodwin, soos vroeër reeds pres.
Robert Mugabe van Zimbabwe en die tereggestelde Roemeense diktator Nicolae
Ceaucescu, nie meer ’n sir is nie. Miskien het die vervreemding sedert Augustus
2011 van Goodwin en sy vrou van vele jare op grond van sy beweerde verhouding
met ’n vroue-kollega by RBS ook hierin ’n rol gespeel.
Vir vele lede van die Londense establishment was die ontriddering
van Goodwin ’n bietjie dik vir ’n daalder. Hy is per slot van rekening nooit aan
enige misdaad skuldig bevind nie. Die voormalige voorsitter van die British
Confederation of Industry, lord Digby Jones, het gepraat van ’n “lynch”-proses
op die markplein.
Só word jy lid van hoër klasse
Hoe word iemand soos Fred Goodwin, die seun van ’n Skotse
elektrisiën, lid van die Britse hoër klasse? Eerstens deur adellike geboorte in die manlike
linie as erfgenaam van ’n hertog, markies, graaf, burggraaf of baron. Tot 1999
het die titel ook outomatiese lidmaatskap van die Britse hoër huis (House of Lords) behels.
Die tweede moontlikheid is deur verheffing deur Haar Majesteit, die
“bron van eer”. Sedert 1984 word oorerflike titels slegs aan lede van die
koninklike familie toegeken, soos toe die koningin se kleinseun William in 2011
met sy huwelik tot hertog van Cambridge verhef is. Daar was net een uitsondering
op hierdie praktyk, en wel in 1991, toe oud-premier Margaret Thatcher se man,
Denis, met ’n oorerflike baronet-status vereer is.
Deesdae word daar twee keer per jaar (op Nuwejaarsdag en op die
amptelike verjaardag van die koningin) ’n lys met die name van ongeveer 1 350
ontvangers van eerbewyse uit die hand van Haar Majesteit gepubliseer. Die lyste
word opgestel deur die regering van die dag en die meeste mense daarop ontvang
lidmaatskap van die een of ander burgerlike orde (bv. die Most Exellent Order of
the British Empire) of een van ’n horde medaljes.
Sogenaamde “life peerages” (nie-oorerflike baronskappe), geskep in
1985, word ook so aangekondig. Die meeste ontvangers van hierdie lewenslange
adellike status is regters van die hoogste Britse
hof en oud-politici.
Die laagste gediertes in hierdie statussirkus is die sirs met óf
oorerflike baronettitels óf onoorerflike ridderskappe, soos Goodwin s’n. Hulle
is nie adellik nie, maar bly “commoners”.
Danksy die Romeins-Hollandse reg en die sterk republikeinse
tradisie in die Afrikaanse gemeenskap het Suid-Afrika die belaglikhede van die
Britse klassestelsel grotendeels gespaar gebly,
ten spyte van die meer as honderdjarige koloniale Britse bewind aan die Kaap en verder noord. Daar was
slegs een toekenning van ’n oorerflike titel van baron, en wel in 1910 aan
Johannes Hendrik de Villiers, die eerste hoofregter van die Unie, as lord Henry
de Villiers, die eerste baron van Wynberg. (Die huidige vierde baron, Alexander
Charles de Villiers, gebore in 1940, woon in Nieu-Seeland en het geen seuns uit
sy drie huwelike nie. Die titel gaan dus met hom uitsterf.)
Tussen 1840 en 1924 is ook 13 oorerflike sirskappe (baronetcies)
aan Kaapse politici en Randse mynbase toegeken, onder andere aan die
Graaff-familie vir stamvader David se steun aan die Britse magte tydens die Anglo-Boere-oorlog van
1899-1902. Verder is ’n paar appèlregters en politici vereer met nie-oorerflike
titels van “sir” .
In 1925 het die Unie-regering onder genl. Hertzog besluit dat daar
geen verdere koninklike eerbewyse aan Suid-Afrikaners verleen mag word nie.
Soos met die keiser in die sprokie, begin die klere van die Britse monargie in die verskillende koninkryke al hoe
deursigtiger word. Welverdiende respek vir die persoonlikheid en optrede van
Elizabeth II hou tans republikeinse strewes in veral Australië en Kanada in
bedwang, maar wanneer die onindrukwekkende Charles III ná sy moeder se dood die
troon bestyg, gaan die naaktheid baie sigbaar word. - Prof. Van Wyk, ’n regsgeleerde, is ’n voormalige rektor van die
Universiteit van Stellenbosch.