24games Ancestry24 Answerit Blueworld Careers24 Channel24 Fin24 Sake24 Food24 GoTravel24 Health24 Kalahari.net Mobile My Account News24 Nuus24 Parent24 Property24 Spaces Sport24 Weather24 Wheels24 Women24

Kry toegang tot portfefeuljes, finansiele ontledings en -vergelykings en veel meer. Teken in met jou huidige Sake24 aanmeldingsbesonderhede. Probeer dit nou! Let daarop dat hierdie produk slegs in Engels beskikbaar is.

Data verskaf deur McGregor BFA
All data is delayed
Besig om te laai...
Waar's ek? Tuis

Britte se onderrok hang uit

Feb 09 2012 06:01 Andreas van Wyk

Verwante Artikels

Godsdiens en die reg

Wat huweliksvoorwaardes eintlik is

Swaartse straf nóg vir binnehandel

 

Top Stories

Petrol uitfasering tref dié motors

Mei 21 2012 05:00

Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.

Beloftes oor infrastruktuur bly leeg

Mei 21 2012 05:00

Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.

Chinese wil SA-wyn proe

Mei 21 2012 05:00

Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.

 
Share Share line Print
Haar Majesteit Elizabeth II, deur die grasie van God koningin van Groot-Brittanje en Noord-Ierland en van haar ander koninkryke en gebiede, hoof van die Statebond en verdediger van die Geloof, het pas haar troonbestyging 60 jaar gelede op 6 Februarie 1952 herdenk, ’n gebeurtenis wat in Junie vanjaar met groot prag en praal in Londen gevier gaan word.

Dit vestig weer eens die aandag op die Britse monargie, daardie oorblyfsel uit die Europese Middeleeue, en ook op ’n aanhangsel daarvan: die berugte Britse klassestelsel.

Verlede week het ’n vreemde voetnoot tot die wêreldwye finansiële krisis van 2008-’09 die inherente skynheiligheid van dié stelsel beklemtoon, soos ’n kommentator in die gesiene Duitse Frankfurter Allgemeine Zeitung dit gestel het.

Op die hoogtepunt van die bankborrel in 2004 is mnr. Fred Goodwin, die grootbaas van Royal Bank of Scotland (RBS), destyds Brittanje se grootste bank, op grond van sy meriete as bankier deur haar Britse Majesteit tot ridder geslaan. Daarna het Fred the Shred, soos hy uit sy jonger dae as die koelbloedige Londense beuel van ’n Australiese bankgroep bekend geraak het, egter ’n paar foute gemaak.

Nadat hy RBS deur oornames in die wêreld se vyfde grootste bank omgeskep het, het hy einde 2007 een tree te ver gegee tydens die oornamestryd vir die Nederlandse ABN Amro Bank. Soos die antieke Griekse heerser Pyrrhos het hy en sy Belgiese en Spaanse vennote wel die slag vir ABN Amro teen die Britse Barclays gewen, maar die oorlog verloor deur heeltemal te veel te betaal net toe internasionale markte begin wankel het.

Die uiteinde was dat RBS in Oktober 2008 deur die Britse belastingbetaler met £45 miljard gered moes word en dat sir Fred sedertdien as een van die hoofverantwoordelikes vir die daaropvolgende krisis beskou word. Nietemin was hy met sy gedwonge vertrek by die genasionaliseerde RBS op 1 Januarie 2009 die gelukkige ontvanger van ’n kontraktueel vasgelegde pen­sioenuitbetaling van £16 miljoen. Die Britse publiek was nie geamuseerd nie.

Vir die Londense regering onder premier David Cameron, besorg oor die goeie naam van die kapitalisme, was sir Fred skielik ’n verleentheid.
Dit het beteken dat hy hom moes aansluit by ’n baie eksklusiewe klub van omstrede figure: mense wie se ridderlike status en titel beëindig is. Op 1 Februarie is in Londen aangekondig dat Goodwin, soos vroeër reeds pres. Robert Mugabe van Zimbabwe en die tereggestelde Roemeense diktator Nicolae Ceaucescu, nie meer ’n sir is nie. Miskien het die vervreemding sedert Augustus 2011 van Goodwin en sy vrou van vele jare op grond van sy beweerde verhouding met ’n vroue-kollega by RBS ook hierin ’n rol gespeel.
Vir vele lede van die Londense establishment was die ontriddering van Goodwin ’n bietjie dik vir ’n daalder. Hy is per slot van rekening nooit aan enige misdaad skuldig bevind nie. Die voormalige voorsitter van die British Confederation of Industry, lord Digby Jones, het gepraat van ’n “lynch”-proses op die markplein.

Só word jy lid van hoër klasse

Hoe word iemand soos Fred Goodwin, die seun van ’n Skotse elektrisiën, lid van die Britse ­hoër klasse? Eerstens deur adellike geboorte in die manlike linie as erfgenaam van ’n hertog, markies, graaf, burggraaf of baron. Tot 1999 het die titel ook outomatiese lidmaatskap van die Britse hoër huis (House of Lords) behels.

Die tweede moontlikheid is deur verheffing deur Haar Majesteit, die “bron van eer”. Sedert 1984 word oorerflike titels slegs aan lede van die koninklike familie toegeken, soos toe die koningin se kleinseun William in 2011 met sy huwelik tot hertog van Cambridge verhef is. Daar was net een uitsondering op hierdie praktyk, en wel in 1991, toe oud-premier Margaret Thatcher se man, Denis, met ’n oorerflike baronet-status vereer is.

Deesdae word daar twee keer per jaar (op Nuwejaarsdag en op die amptelike verjaardag van die koningin) ’n lys met die name van ongeveer 1 350 ontvangers van eerbewyse uit die hand van Haar Majesteit gepubliseer. Die lyste word opgestel deur die regering van die dag en die meeste mense daarop ontvang lidmaatskap van die een of ander burgerlike orde (bv. die Most Exellent Order of the British Empire) of een van ’n horde medaljes.

Sogenaamde “life peerages” (nie-oorerflike baronskappe), geskep in 1985, word ook so aangekondig. Die meeste ontvangers van hierdie lewenslange adellike status is regters van die hoogste Britse hof en oud-politici.

Die laagste gediertes in hierdie statussirkus is die sirs met óf oorerflike baronettitels óf onoorerflike ridderskappe, soos Goodwin s’n. Hulle is nie adellik nie, maar bly “commoners”.

Danksy die Romeins-Hollandse reg en die sterk republikeinse tradisie in die Afrikaanse gemeenskap het Suid-Afrika die belaglikhede van die Britse klassestelsel grotendeels gespaar gebly, ten spyte van die meer as honderdjarige koloniale Britse bewind aan die Kaap en verder noord. Daar was slegs een toekenning van ’n oorerflike titel van baron, en wel in 1910 aan Johannes Hendrik de Villiers, die eerste hoofregter van die Unie, as lord Henry de Villiers, die eerste baron van Wynberg. (Die huidige vierde baron, Alexander Charles de Villiers, gebore in 1940, woon in Nieu-Seeland en het geen seuns uit sy drie huwelike nie. Die titel gaan dus met hom uitsterf.)

Tussen 1840 en 1924 is ook 13 oorerflike sirskappe (baronetcies) aan Kaapse politici en Randse mynbase toegeken, onder andere aan die Graaff-familie vir stamvader David se steun aan die Britse magte tydens die Anglo-Boere-oorlog van 1899-1902. Verder is ’n paar appèlregters en politici vereer met nie-oorerflike titels van “sir” .

In 1925 het die Unie-regering onder genl. Hertzog besluit dat daar geen verdere koninklike eerbewyse aan Suid-Afrikaners verleen mag word nie.

Soos met die keiser in die sprokie, begin die klere van die Britse monargie in die verskillende koninkryke al hoe deursigtiger word. Welverdiende respek vir die persoonlikheid en optrede van Elizabeth II hou tans republikeinse strewes in veral Australië en Kanada in bedwang, maar wanneer die onindrukwekkende Charles III ná sy moeder se dood die troon bestyg, gaan die naaktheid baie sigbaar word. - Prof. Van Wyk, ’n regsgeleerde, is ’n voormalige rektor van die Universiteit van Stellenbosch.
 

 
 
OuBaas Julio

Ek het dit al voorheen genoem op hierdie blog: ek hou van rose. Maar rose is nie NET die blom nie: dis die hele pakket: wortel, stam, dorings, blare en blom. En dit gaan oor hulle interaksie met die grond, lug en lig, wind, water en jou sintuie. Want rose kan jy sien, voel en ruik…dalk selfs... Lees hulle blog...

Onlangs opgedateer

Regstellings

Sake24.com is daartoe verbind om joernalistiek van hoë kwaliteit te lewer. Indien ons 'n fout begaan, lig ons asb. in deur 'n e-pos te stuur na regstellings@sake24.com.

Ons sal die fout regmaak, en onderworpe aan redaksionele diskresie, die regstelling in dié boks plaas en lesers na die regte berig verwys.
Loading...