Die Gautrein se beleërde busdiens kos die treinstelsel byna ’n
tiende van sy passasiers. Dít gaan die konsessiehouer, Bombela, duur te staan
kom.
Gautengers het al gewoond geraak aan gereelde nuus dat
busbestuurders staak en die diens glad nie of net gedeeltelik beskikbaar
is.
Volgens mnr. Jack van der Merwe, uitvoerende hoof van die
Gautrein-bestuursagentskap (GMA), is daar daagliks nagenoeg 31 000 ritte. In die
afgelope week, toe die busbestuurders gestaak het, het die getalle met 3 000
afgeneem.
Die vraag is: Wie gaan daarvoor betaal, en hoeveel?
Volgens Van der Merwe is die Gautrein uit die staanspoor beplan met
maatskaplik-ekonomiese doelwitte soos werkskepping en die ontwikkeling van klein
ondernemings in gedagte. Daar is baie geleenthede vir Bombela geskep om werk aan
klein ondernemings uit te kontrakteer.
Sekere kritieke subkontrakte, soos sinjalering, is geïdentifiseer
as sleutelkontrakte, wat die GMA die reg gee om die bestuur daarvan oor te neem
indien dit nodig raak.
Die busdiens is nie ’n sleutelkontrak nie en die GMA kan dus nie die kontrak met die Gautrein-busmaatskappy,
Mega Express, wat deel is van die Unitrans-groep, beëindig nie.
“As ons dit sou doen, sal Bombela vra met wie ons dit wil vervang.
As ons ’n plaasvervanger kry, sal ons die risiko moet dra.”
Dít is nie die GMA se funksie nie. Hy plaas deur boetes druk op
Bombela sodat die konsessiehouer self sy subkontrakteurs tot orde roep.
Bombela moet sekere uitkomste lewer, wat insluit dat die treine
minstens 98% beskikbaar en 98% betyds moet wees. As dié doelwitte nie behaal
word nie, word ’n vaste boete aan Bombela opgelê. Verder is daar ’n
dreigklousule waarvolgens strafpunte vir onderprestasie bymekaargetel word wat
tot die beëindiging van die konsessie-ooreen- koms kan lei. Daar is op die oomblik nie sprake hiervan nie,
sê Van der Merwe. Dié punte begin elke jaar weer by nul.
“Die busdiens is op die oomblik in die rooi,” sê Van der Merwe.
Boetes vir die onbetroubaarheid van die diens sal Bombela ’n paar honderdduisend
rand uit die sak jaag.
Die moeiliker vraag is hoe dit op langer termyn die gebruik van die
diens sal beïnvloed en wat die langtermynskade aan die Gautrein-handelsnaam sal
wees. Dit het finansiële implikasies, ook vir belastingbetalers.
Die Gautengse regering het ’n inkomstewaarborg aan die
konsessiehouer gegee. Dié waarborg was nodig om die risiko van die
konsessiehouer te beperk en daarsonder sou daar geen belangstelling van die
private sektor gewees het nie.
Volgens die waarborg word alle inkomste – soos uit treinkaartjies,
buskaartjies, parkeerplek en advertensies op die stasies – opgetel. As dit
minder as ’n sekere minimum is, betaal die provinsie die res.
Van der Merwe raam dat die provinsie in die huidige boekjaar tot
R280 miljoen sal opdok.
Boetes vir wanprestasie, soos wanneer die busse nie loop nie, word
van dié bedrag afgetrek.
As die busse nie loop nie, kan dit op
die lange duur die totale benutting van die stelsel benadeel, wat beteken die
regering sal sy hand dieper en dieper in die sak moet steek. Dít kan tog nie werk nie.
Van der Merwe sê die regering en Bombela stoei tans oor hierdie
kwessie.
Hy verwag egter dat die opening van die oorblywende deel van die
spoorlyn tussen Rosebank en Parkstasie in Johannesburg die toepassing van die
kontrak soos dit oorspronklik beoog is, sal vergemaklik.
Die passasierstal sal na verwagting met tussen 17% en 20% toeneem
wanneer dié deel open omdat dit passasiers tot in die Johannesburgse middestad
sal neem.
Die Gautreinstelsel het teoreties die vermoë om 250 000 passasiers
per dag te vervoer, maar die huidige mikpunt is 100 000, sê Van der Merwe.
Tans is die treine in die spitstyd vol en die GMA het Bombela reeds
versoek om meer agt-wa-treine per dag te gebruik.
Hy sê passasiers se ritte is langer as wat aanvanklik verwag is,
wat beteken dat ’n sitplek kwalik meer as een keer per rit verkoop kan word. Dit kan egter
verander namate beplande eiendomsontwikkelings langs die roete voltooi
word.