24games Ancestry24 Answerit Blueworld Careers24 Channel24 Fin24 Sake24 Food24 GoTravel24 Health24 Kalahari.net Mobile My Account News24 Nuus24 Parent24 Property24 Spaces Sport24 Weather24 Wheels24 Women24

Kry toegang tot portfefeuljes, finansiele ontledings en -vergelykings en veel meer. Teken in met jou huidige Sake24 aanmeldingsbesonderhede. Probeer dit nou! Let daarop dat hierdie produk slegs in Engels beskikbaar is.

Data verskaf deur McGregor BFA
All data is delayed
Besig om te laai...
Waar's ek? Tuis

Godsdiens en die reg

Jan 26 2012 07:00 Andreas van Wyk

Verwante Artikels

Wat huweliksvoorwaardes eintlik is

Swaartse straf nóg vir binnehandel

Vervolging ná aardbewing skud regswêreld

 

Top Stories

Petrol uitfasering tref dié motors

Mei 21 2012 05:00

Die beoogde uitfasering van loodvervangingspetrol gaan sekere motoreienaars geld kos.

Beloftes oor infrastruktuur bly leeg

Mei 21 2012 05:00

Geen van die staat se beloofde infrastruktuurprojekte het nog ’n werklikheid geword nie.

Chinese wil SA-wyn proe

Mei 21 2012 05:00

Verskeie SA wynmakers het reeds ingeskryf vir die toonaangewende Chinese Wyntoekennings-plegtigheid.

 
Share Share line Print
Ons Grondwet verbied enige diskriminasie op grond van onder meer geslag, ras, taal, geboorte en “seksuele oriëntering”. Terselfdertyd beskerm dit “vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening”.

In vele gevalle kan ’n botsing tussen hierdie twee beginsels ontstaan. Ortodokse Joodse gemeentes het slegs manlike rabbyne. En die meeste Christelike kerke is nie bereid om homoseksuele in kerklike ampte aan te stel nie. Die taak om vir hierdie emosionele kwessies ’n middeweg te vind, berus in moderne same­lewings by die howe.

In Suid-Afrika het regter Dion Basson van die Transvaalse hooggeregshof in Augustus 2008 uitspraak gegee oor die destyds opspraakwekkende regstwis tussen die NG gemeente Moreletapark in Pretoria en mnr. Johan Stry­dom, die gemeente se deeltydse orrelis. Strydom se kontrak met die gemeente is weens ’n homoseksuele verhouding beëindig.

Hy dagvaar daarna die gemeente vir skadevergoeding op grond van onbillike diskriminasie.

Regter Basson het sonder veel moeite ten gunste van Strydom bevind.

Die bewyslas dat die diskriminasie teen Strydom billik en dus toelaatbaar was, het op die kerk gerus.

Die kerk kon dit nie bewys nie. R75 000 is as troosgeld aan Strydom toegeken, plus R12 000 as vergoeding vir verlies aan inkomste. Die kerk moes ook sy regskoste betaal en apologie aanteken.

Die hof het soos volg geargumenteer: Die reg op gelykheid is ’n soort “superreg” wat die onderlinge afweging van die verskillende grondwetlike regte betref.
Regter Basson verwys wel na die reg op godsdiensvryheid en na godsdienstige denomi- nasies se outonomie om self oor hul leerstellings te besluit as ’n noodsaaklike vereiste vir godsdiensvryheid. Maar dan beperk hy hierdie outonomie tot die hantering van geestelike leiers in die betrokke denominasie. Omdat Strydom as deeltydse musikus omtrent die laagste rang in die gemeente beklee het, kan die regter geen rede sien waarom sy seksuele gedrag die gemeente behoort te interesseer nie.

Miskien die sterkste argument in die uitspraak was dat Strydom nie eens ’n lidmaat van die NG Kerk was nie, maar wel van die Hervormde Kerk. Dit het hom buite die bestek van die gewone kerklike tug geplaas. Maar beteken dit dat ’n sinagoge nie mag optree teen ’n Christen-skoonmaker wat hamtoebroodjies op die perseel geniet nie?

Die eindresultaat van die Stry­dom-uitspraak was ’n eng en oppervlakkige siening van die funksie van geloofgemeenskappe.
Dit het ook die veel deegliker analise van die Witwatersrandse hooggeregshof in die uitspraak in Taylor vs. Kurtstag NO in September 2004 om onoortuigende redes onderskei.

In ’n vergelykbare geval het die hoogste Amerikaanse hof op 11 Januarie vanjaar meer lig op die onderwerp verskaf met ’n uitspraak wat nog meer twyfel oor die Stry­dom-uitspraak laat ontstaan.

Die feite van die geval voor die regbank van nege regters in die Amerikaanse hooggeregshof in die Hosanna-Tabor Evangelical Lutheran Church v Equal Employment Opportunity Commission was eenvoudig. Me. Cheryl Perich was sedert 1999 as kindertuinonderwyseres in diens van ’n klein laerskool in Redford, Michigan. Die skool word deur die Hosanna-Tabor-gemeente van die Missouri-sinode van die Lutherse kerk, een van die VSA se grootste Protestantse kerke, bedryf. Dit bied “Christus-gesentreerde onderwys” aan.

Perich het middel 2004 siek geword met narkolepsie (slaapsiekte). Aan die begin van 2005 laat sy die skool weet dat sy haar werk kan hervat.

Die skool lig haar egter in dat haar pos reeds deur iemand anders gevul is. Sy weier om te bedank en daag op 22 Februarie 2004 by die skool op, waar sy toegang geweier word.

As gevolg hiervan begin sy met ’n aksie teen die gemeente, ondersteun deur die Amerikaanse kommissie vir gelyke geleenthede (EEOC).

Sy beweer dat daar teen haar gediskrimineer is op grond van haar ongeskiktheid en eis ­aanvanklik herindiensneming en later skadevergoeding.

Die kerk se argument was dat die geval gedek word deur die sogenaamde “ministerial exception” wat oor jare deur die federale howe ontwikkel is, maar nog nie deur die hooggeregshof bevestig is nie.

“Minister” verwys hier na ’n kerklike leraar. Op grond van die verbod op ’n staatskerk in die Amerikaanse grondwet en die gepaardgaande reg op vrye godsdiensbeoefening behels hierdie “uitsondering” op die normale regte op gelykheid, nie-diskriminasie, ens. dat geloofsgemeenskappe outonoom oor hul strukture en prosedures en ook oor die keuse van hul leraars kan besluit.

Dit is deel van die Lutherse geloofsoortuigings dat gelowiges hul onderlinge geskille op ’n Christe­like wyse moet hanteer en hulle nie tot die howe behoort te wend nie.

Die hof aanvaar dat dit die rede was waarom Perich se kontrak beëindig is.

Die moderne VSA het groot interne ideologiese verdelings oor etiese en sosiale kwessies soos vrugafdrywing, enkelgeslag-huwelike en die rol van geloof in die samelewing.

Hierdie polarisasie kenmerk ook hul hoogste hof. Nietemin kom die hof in hierdie geval tot ’n seldsame eenparige gevolgtrekking ten gunste van so ’n uitsondering tot voordeel van geloofsgemeenskappe. Daardie uitsondering word ook breed uitgelê.

Hoofregter John Roberts konsentreer sy uitspraak op die vraag of Perich as ’n leraar (“minister”) beskou kan word.

Die betrokke gemeente onderskei twee tipes onderwysers: dié wat ook basiese teologiese onderrig ontvang het (geroepenes) en diegene met ’n suiwer “wêreldse” opleiding (leke).

Slegs eersgenoemdes hoef Lutherane te wees en word deur die kerkraad aangestel. Hulle behartig die godsdiensonderrig.

Perich was so ’n geroepe onderwyser, al het sy die meeste tyd aan wêreldse onderrig afgestaan. Regter Roberts bevind dat sy duidelik deur die uitsondering gedek word en wys haar eis van die hand.

Nog meer eksplisiet is die afsonderlike ondersteunende uitsprake van regters Thomas en Alito. Thomas beklemtoon dat die vraag of iemand ’n leraar is, op sigself ’n godsdienstige besluit is.

Alito wys daarop dat daar gelowe is wat nie die begrip van ’n leraar ken nie en al hulle lidmate as “profete” beskou.

Dit lê dus nie op die weg van ’n hof om, soos in die Strydom-saak, te bevind dat ’n “blote” orrelis nie ’n verkondiger van die betrokke kerk se boodskap kan wees nie. En daarom is dit moeilik om te dink dat die homoseksuele me. Lulani Vermeulen van die Stellenbosse teologiese fakulteit sou kon slaag met haar beweerde hofeis dat die NG Kerk haar as predikant moet legitimeer.

 - Prof. Van Wyk, ’n regsgeleerde, is ’n voormalige rektor van die Universiteit van Stellenbosch.
 

 
 
OuBaas Julio

Ek het dit al voorheen genoem op hierdie blog: ek hou van rose. Maar rose is nie NET die blom nie: dis die hele pakket: wortel, stam, dorings, blare en blom. En dit gaan oor hulle interaksie met die grond, lug en lig, wind, water en jou sintuie. Want rose kan jy sien, voel en ruik…dalk selfs... Lees hulle blog...

Onlangs opgedateer

Regstellings

Sake24.com is daartoe verbind om joernalistiek van hoë kwaliteit te lewer. Indien ons 'n fout begaan, lig ons asb. in deur 'n e-pos te stuur na regstellings@sake24.com.

Ons sal die fout regmaak, en onderworpe aan redaksionele diskresie, die regstelling in dié boks plaas en lesers na die regte berig verwys.
Loading...