Ons Grondwet verbied enige diskriminasie op
grond van onder meer geslag, ras, taal, geboorte en “seksuele oriëntering”. Terselfdertyd beskerm dit
“vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging
en mening”.
In vele gevalle kan ’n botsing tussen hierdie twee beginsels
ontstaan. Ortodokse Joodse gemeentes het slegs manlike rabbyne. En die meeste Christelike
kerke is nie bereid om homoseksuele in kerklike ampte aan te stel nie. Die taak om vir hierdie emosionele kwessies ’n middeweg
te vind, berus in moderne samelewings by die
howe.
In Suid-Afrika het regter Dion Basson van die Transvaalse hooggeregshof in Augustus 2008 uitspraak
gegee oor die destyds opspraakwekkende regstwis
tussen die NG gemeente Moreletapark in Pretoria
en mnr. Johan Strydom, die gemeente se deeltydse orrelis. Strydom se kontrak
met die gemeente is weens ’n homoseksuele
verhouding beëindig.
Hy dagvaar daarna die gemeente vir
skadevergoeding op grond van onbillike diskriminasie.
Regter Basson het sonder veel moeite ten gunste van Strydom bevind.
Die bewyslas dat die diskriminasie teen Strydom billik en dus toelaatbaar was, het op die kerk gerus.
Die kerk kon dit nie bewys nie.
R75 000 is as troosgeld aan Strydom toegeken, plus R12 000 as vergoeding vir
verlies aan inkomste. Die kerk moes ook sy
regskoste betaal en apologie aanteken.
Die hof het soos volg geargumenteer:
Die reg op gelykheid
is ’n soort “superreg” wat die onderlinge afweging
van die verskillende grondwetlike regte betref.
Regter Basson verwys wel na die reg op godsdiensvryheid en
na godsdienstige denomi- nasies se outonomie om self oor hul leerstellings te
besluit as ’n noodsaaklike vereiste vir godsdiensvryheid. Maar dan beperk hy
hierdie outonomie tot die hantering van geestelike
leiers in die betrokke denominasie. Omdat Strydom
as deeltydse musikus omtrent die laagste rang in
die gemeente beklee het, kan die regter geen rede sien waarom sy seksuele gedrag
die gemeente behoort te interesseer nie.
Miskien die sterkste argument in
die uitspraak was dat Strydom nie eens ’n lidmaat
van die NG Kerk was nie, maar wel van die Hervormde Kerk. Dit het hom buite die bestek van die gewone
kerklike tug geplaas. Maar beteken dit dat ’n sinagoge nie mag optree teen ’n
Christen-skoonmaker wat hamtoebroodjies op die
perseel geniet nie?
Die eindresultaat van die Strydom-uitspraak was ’n eng en oppervlakkige siening van die funksie van geloofgemeenskappe.
Dit het ook die veel deegliker
analise van die Witwatersrandse hooggeregshof in
die uitspraak in Taylor vs. Kurtstag NO in September 2004 om onoortuigende
redes onderskei.
In ’n vergelykbare geval het die
hoogste Amerikaanse hof op 11 Januarie vanjaar meer lig op die onderwerp verskaf met ’n uitspraak wat nog meer
twyfel oor die Strydom-uitspraak laat
ontstaan.
Die feite van die geval voor die regbank
van nege regters in die Amerikaanse hooggeregshof
in die Hosanna-Tabor Evangelical Lutheran Church v Equal Employment
Opportunity Commission was eenvoudig. Me. Cheryl Perich was sedert 1999
as kindertuinonderwyseres in diens van ’n klein laerskool in Redford, Michigan.
Die skool word deur die Hosanna-Tabor-gemeente van die Missouri-sinode van die Lutherse kerk, een van die VSA se grootste Protestantse kerke, bedryf. Dit bied
“Christus-gesentreerde onderwys” aan.
Perich het middel 2004 siek geword met narkolepsie (slaapsiekte).
Aan die begin van 2005 laat sy die skool weet dat sy haar werk kan hervat.
Die skool lig haar egter in dat haar
pos reeds deur iemand anders gevul is. Sy weier om te bedank en daag op 22 Februarie 2004 by die skool op, waar sy toegang geweier word.
As gevolg hiervan begin sy met ’n aksie teen die gemeente, ondersteun deur die Amerikaanse kommissie vir gelyke geleenthede (EEOC).
Sy beweer dat daar teen haar gediskrimineer is op grond van haar
ongeskiktheid en eis aanvanklik herindiensneming
en later skadevergoeding.
Die kerk se argument was dat die geval gedek word deur die sogenaamde “ministerial exception” wat oor jare deur
die federale howe ontwikkel is, maar nog nie deur
die hooggeregshof bevestig is nie.
“Minister” verwys hier na ’n kerklike leraar. Op grond van die verbod op ’n staatskerk in die Amerikaanse grondwet en die gepaardgaande reg op vrye godsdiensbeoefening behels hierdie
“uitsondering” op die normale regte op gelykheid,
nie-diskriminasie, ens. dat geloofsgemeenskappe outonoom oor hul strukture en prosedures en ook oor
die keuse van hul leraars kan besluit.
Dit is deel van die Lutherse
geloofsoortuigings dat gelowiges hul onderlinge geskille op ’n Christelike wyse
moet hanteer en hulle nie tot die howe behoort te wend nie.
Die hof aanvaar dat dit die rede was waarom Perich se kontrak beëindig is.
Die moderne VSA het groot interne
ideologiese verdelings oor etiese en sosiale
kwessies soos vrugafdrywing, enkelgeslag-huwelike en die rol van geloof in
die samelewing.
Hierdie polarisasie kenmerk ook hul hoogste hof. Nietemin kom die hof in hierdie geval tot ’n seldsame eenparige
gevolgtrekking ten gunste van so ’n uitsondering tot voordeel van
geloofsgemeenskappe. Daardie uitsondering word ook breed uitgelê.
Hoofregter John Roberts konsentreer sy uitspraak op die vraag of Perich as ’n leraar (“minister”) beskou kan
word.
Die betrokke gemeente onderskei twee
tipes onderwysers: dié wat ook basiese teologiese onderrig ontvang het
(geroepenes) en diegene met ’n suiwer “wêreldse”
opleiding (leke).
Slegs eersgenoemdes hoef Lutherane te wees en word deur die kerkraad
aangestel. Hulle behartig die godsdiensonderrig.
Perich was so ’n geroepe onderwyser, al het sy die meeste tyd aan wêreldse onderrig afgestaan. Regter
Roberts bevind dat sy duidelik deur die
uitsondering gedek word en wys haar eis van die hand.
Nog meer eksplisiet is die
afsonderlike ondersteunende uitsprake van regters Thomas en Alito. Thomas beklemtoon dat die vraag of iemand ’n leraar is, op sigself ’n
godsdienstige besluit is.
Alito wys daarop dat daar gelowe is wat nie die begrip van ’n leraar ken nie en al hulle lidmate as “profete” beskou.
Dit lê dus nie op die weg van ’n hof
om, soos in die Strydom-saak, te bevind dat ’n
“blote” orrelis nie ’n verkondiger van die
betrokke kerk se boodskap kan wees nie. En daarom
is dit moeilik om te dink dat die homoseksuele me.
Lulani Vermeulen van die Stellenbosse teologiese
fakulteit sou kon slaag met haar beweerde hofeis dat die NG Kerk haar as predikant moet legitimeer.
- Prof. Van Wyk, ’n regsgeleerde, is ’n voormalige
rektor van die Universiteit van
Stellenbosch.