Die oordadige klem op sentrale bedinging in
arbeidswetgewing was in die 1990’s met die opstel van die Wet op
Arbeidsverhoudinge een van die kwessies waaroor die arbeidsektor botweg geweier
het om toegewings te doen.
Dít, gepaardgaande met die oordadige partydigheid vir meerderhede
in die wet, skuil agter die staking by Impala Platinum (Implats) se Rustenburg-afdeling.
Net om die omvang daarvan in perspektief te stel: Implats, naas Anglo American Platinum (Amplats) die
grootste platinumprodusent, ontgin sowat 1,82 miljoen onse platinum per jaar.
Dit is 25% van die wêreldproduksie.
Die Rustenburg-afdeling, waar die staking sedert verlede Maandag
woed, produseer omtrent die helfte daarvan. Dis 12,5% van die wêreldproduksie –
genoeg om prysskommelinge tot gevolg te hê indien die staking veel langer
voortduur.
Implats het in Oktober 2011, ná
moeisame onderhandelinge met die National Union of Mineworkers (NUM),
ooreengekom op loonverhogings van tussen 8,5% en 10% in dié jaar en tussen 8% en
10% later vanjaar.
Die probleem is dat Implats in 2007
met die NUM ooreengekom het om die drempel vir vakbondverteenwoordiging te
verhoog tot 50% plus een. Daarmee het Implats en
die NUM die deur vir die ander twee vakbonde in die mynbedryf, Solidariteit en
Uasa, gesluit om enige seggenskap by Implats te
hê.
Vir die NUM beteken dit eerstens volle seggenskap namens die
werkmag van sowat 25 000, maar ook die bykomende voordeel van ’n
agentskapsooreenkoms. Dit verplig Implats om
vakbond-lidmaatskapsgeld van elke werknemer af te trek en aan die NUM oor te
betaal, ongeag of hulle lede van die vakbond is of nie – een van die mees
omstrede bepalings in arbeidswetgewing.
Solidariteit en Uasa verteenwoordig gewoonlik die meer geskoolde
beroepskategorieë, wat vroeër as amptenare en ambagslui bekend gestaan het, maar
deesdae selfs hoër posvlakke insluit. Die NUM het deesdae ook heelwat lede op
dié posvlakke danksy regstellende aksie, maar nog lank nie genoeg om die ander
twee vakbonde uit te knikker nie.
Implats het die ooreenkoms gesluit
omdat hy gedink het dit sal sy transformasie-oogmerke beter dien om die twee
oorwegend wit vakbonde uit die maatskappy te boender.
Die tekort aan geskoolde arbeid, veral aan tegnici en ambagslui,
het selfs in die ekonomiese insinking die afgelope jare nie verbeter nie.
Die platinumsektor is die blomgedeelte van Suid-Afrika se
mynbedryf, al gaan dit op die oomblik baie sleg weens lae pryse en kostedruk.
Dis veral elektrisiteitspryse en arbeidskoste wat dinge moeilik maak.
Veral die junior rolspelers is in ’n oorlewingstryd, maar almal
weet dit sal mettertyd weer heelwat beter gaan met die land se platinummyne. Dan
gaan dié rolspelers wat reg is om produksie vinniger te verhoog as die ander,
munt slaan daaruit.
Daarom is die mededinging tussen die groter rolspelers, soos Implats, Amplats en Lonmin, uiters straf. Hulle rokkel
mekaar se tegnies geskoolde personeellede genadeloos af.
Uit dié oogpunt was dit nie baie slim van Implats om met die NUM saam te sweer om Solidariteit en
Uasa by Implats se myne uit te werk nie. Want om
sy geskoolde personeellede te behou, het Implats
besef hy sal hulle groter verhogings as 8,5% tot 10% moet gee. Werknemers in die
myner-poskategorie, wat deesdae ook ambagslui en tegnici insluit, is laat
verlede jaar meegedeel dat hulle verhogings van 18% kry.
Op ’n myn versprei sulke nuus soos ’n veldbrand en teen Kersfees
was die res van Implats se personeel in rep en
roer van woede. Hul vakbond, die NUM, was egter soos die bestuur onversetlik:
Hul verhogings is klaar beding en vasgepen vir die volgende twee jaar.
Die NUM ontken vandag dat hy enigiets daarvan geweet het. Implats sê die vakbond is daaroor ingelig.
Die rotsbooroperateurs in ondergrondse myne is altyd ’n eiesinnige
groep wat dit dikwels aan die NUM duidelik maak dat die vakbond veronderstel is
om húlle te dien – nie andersom nie.
Op 18 Januarie het die rotsbooroperateurs in skag 14 begin staak.
Hulle het geëis om oor hul lone te onderhandel sonder die hulp van die NUM.
Implats het geweier omdat sy erkenningsooreenkoms
met die NUM bepaal dat onderhandelinge net met die vakbond gevoer mag
word.
Hy verander nie sy houding nie ten spyte daarvan dat die staking
eers na al 7 000 rotsboorders in Implats se 19
skagte in Rustenburg en toe na alle ondergrondse werkers uitgebrei het.
Die probleem is dat die NUM by heelwat myne deesdae mededinging kry
van die Association of Mine and Construction Union (Amcu). Amcu het voor die
staking nie veel steun gehad by Implats nie, maar
die staking het dié prentjie heeltemal verander.
Die werkmag wil nou niks van die NUM weet nie en dring daarop aan
dat Amcu hulle verteenwoordig. Implats mag glad
nie met Amcu onderhandel nie – die erkenningsooreenkoms van 2007 verbied
dit.
Intussen gaan die staking voort. Dis taamlik duidelik dat die
staking nie sonder die hulp van Amcu beëindig sal word nie. Dit beteken Implats sal sy erkenningsooreenkoms met die NUM moet
opsê – ’n proses wat maande kan duur, want die NUM
het nie die erkenningsooreenkoms oortree nie. Daarom sal hy waarskynlik etlike
maande lank kennisgewings moet kry voordat die ooreenkoms opgesê kan word. Tot
dan is kommunikasie tussen Implats en Amcu buite
die kwessie.
Dis ook onwaarskynlik, maar darem nie onmoontlik nie, dat die
staking beëindig sal word sonder dat die res van die werkmag ook verhogings van
18% kry. In die huidige omstandighede in die platinumsektor gaan dit ’n baie
duur les vir Implats
wees.
Die partydigheid vir sentrale bedinging het in die staatsdiens
daarop uitgeloop dat die beroepspesifieke bedeling wat in 2007 ná ’n uitgerekte
staking beding is, misluk het.
Daar is R8 miljard begroot om vir skaars beroepe soos dokters,
regsgeleerdes, gespesialiseerde verpleërs en onderwysers groter verhogings as
die res van die staatsdiens te gee.
Maar die staat kon ná ’n uitgerekte staking nie anders nie as om
dié geld wyer te versprei. Die beoogde beter diensvoorwaardes vir skaars
vaardighede het op niks uitgeloop nie.
Die probleem is dat die oordadige klem op sentrale bedinging
daartoe gelei het dat groepe werknemers met uiteenlopende belange in ’n enkele
bedingingsforum moet onderhandel.
Die belange van die minderheidsgroepe gaan heeltemal verlore onder
die eise van die meerderheid.