Suid-Afrika se boere sit met ’n mieliesurplus van 4 miljoen ton wat hulle bitter graag
sou uitvoer.
Die antwoord lê egter nie daarin om markte buite Suid-Afrika te
vind nie. Die regering moet intree, die mielies teen internasionale pryse koop
en dit as voorsorg teen ’n volgende tekort hou.
Dit is al jare nie meer regeringsbeleid om die mielieprys te
stabiliseer nie, want die regering glo aan ’n “vry
mark” vir die landbou. Maar Suid-Afrika is omtrent die enigste land ter wêreld
wat dié beleid volg; in die wêreld se rykste lande word landbou sterk
gesubsidieer, wat dit vir Suid-Afrika moeilik maak om mee te ding.
Die Suid-Afrikaanse graanbedryf het by die Mededingingskommissie
aansoek gedoen om ’n vergunning wat hom in staat sal stel om ’n poel vir die
uitvoer van mielies, ter waarde van net meer as R6 miljard, saam te stel.
Graan SA, die liggaam wat die meeste van Suid-Afrika se produsente
van mielies, koring en soja verteenwoordig, het die kommissie genader om ’n
mening oor samewerking vir uitvoer, maar is meegedeel dat ’n poel
teenmededingend sou wees.
In sy aanvanklike voorlegging het Graan SA gesê: “Normale
vryemark-uitvoerbedrywighede wat ingevolge ’n vryemarkbestel uitgevoer word waar
produsente as individue optree en vir die bemarking en verkoop van hul eie
produkte verantwoordelik is, kan nie die surplus goed genoeg wegwerk en vir
produsente genoeg produksieruimte skep sodat hulle in daaropvolgende seisoene
winsgewend kan boer nie.
“Die huidige mededingingswetgewing verbied klasgedinge, wat
produsente benadeel en die landboubedryf verhinder om saam te staan,
skaalbesparing te bewerkstellig en koste laer te dwing om in die internasionale
mieliemark te kan meeding.”
Tot dusver het die Mededingingskommissie gesloer met ’n antwoord
aan die boere.
Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê boere gaan nie in
die volgende seisoen mielies plant nie en dit gaan ’n rimpeluitwerking op die
ekonomie hê as boere hulle na ander gewasse wend of lande braak laat lê.
Ferreira het ’n beroep op die departement van handel en nywerheid en van
landbou, bosbou en visserye gedoen om tussenbeide te tree. Hy sê boere het
dringend ’n oplossing nodig.
Hy meen die regering moet ook weer die debat oopstel oor die verbod op die
gebruik van mielies vir biobrandstof wat in 2008 ingestel is toe die
mielievoorraad wêreldwyd laag was en dit voedselsekerheid in die gedrang kon
bring.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer,
sê ook die regering moet die gesprek oor die gebruik van mielies vir
biobrandstof heropen.
Ek dink dit sou dom wees om mielies vir biobrandstof te gebruik.
Wat buite rekening gelaat word, is dat mens nie op surplusse kan staatmaak nie.
Wanneer dit wel op groot skaal soos vanjaar voorkom, behoort die regering die mieliesurplus
vir die doeleindes van voedselsekerheid op te koop.
Is ons geheue so kort oor wat in 2007 en die eerste helfte van 2008
gebeur het?
Mosambiek en 30 ander arm lande het in 2007-’08 met
voedselprysbetogings te kampe gehad toe die prys van mielies, koring, rys en
ander stapelvoedsel die hoogte ingeskiet het. Daar is oor en weer vinger gewys:
Ryk lande het beweer China se groeiende middelklas eet beter en verbruik meer
van die wêreld se voedselbronne en China het gesê Amerika verbruik steeds meer
kalorieë per capita as enige ander land ter wêreld.
Biobrandstofprogramme het in die slag gebly toe mense besef
voedselsekerheid is in gevaar. Dit is belaglik dat Suid-Afrika weer vra dat die
biobrandstofprogramme afgestof moet word.
Suid-Afrika het dalk nou ’n mieliesurplus, maar wie weet wat die toekoms inhou? As
die regering nou die mielies vir voedselsekerheid
opgaar, kan dit afwaartse druk op voedselpryse en inflasie uitoefen as daar
later ’n tekort ontstaan.
Deel van boere se probleem om hul mielies te verkoop, is die sterk
rand, wat mieliepryse in randwaarde laer gedruk het. Dit is nie deur
laer brandstofpryse en ander insetkoste
geneutraliseer nie.
’n Afvaardiging onder aanvoering van die minister van landbou, me.
Tina Joemat-Pettersson, het China onlangs besoek om die surplus daar te probeer
verkoop. Dit is nie duidelik waarom die Chinese Suid-Afrika se aanbod van die
hand gewys het nie. Blykbaar wou China nie die mielies onverwerk aanvaar nie.
’n Ander afsetgebied, Suid-Afrika se buurlande, lyk geslote weens
kwellings oor geneties gemanipuleerde gewasse al het hulle chroniese
voedseltekorte.
Daar is reeds berigte internasionaal dat ’n nuwe voedselkrisis
broei.
’n Bloomberg-verslag bespiegel
dat voedselinvoer wêreldwyd vanjaar die vlak van $1 triljoen kan verbysteek, na
aan die rekord van die 2008-krisis, as kommoditeitspryse sou begin styg.
As die Mededingingskommissie toestemming gee, sal die mieliesurplus sekerlik die een of ander tyd opgeraap
word. Maar dan het die regering ’n gulde
geleentheid verlore laat gaan om terug te keer na ’n beleid wat hy nooit moes
laat vaar het nie.
Onbestendigheid in voedselpryse raak alle Suid-Afrikaners, en dit
sal tot boere en verbruikers se voordeel strek as ’n proaktiewe regering bestendiger voedselpryse verseker.