SA moet goed besin oor Olimpiese Spele

Suid-Afrika het so pas die Wêreldbeker-sokkertoernooi suksesvol aangebied.

Wat kan jý doen met 'n miljoen?

Woeker met jou aandele in Sake24 en Sanlam iTrade se Wat kan jý doen met ’n miljoen?-kompetisie en jy is dalk R100 000 ryker.
Waar's ek? Sake24.com

Gaan die howe uitvoerende vergoeding begin reguleer?

Aug 25 2009 09:19 Andreas van Wyk Druk hierdie artikel  |  Stuur artikel via e-pos

Verwante Artikels

 

’n Regstryd met groot moontlike gevolge vir die netelige kwessie van hoë vergoeding in die private sektor het in die VSA ontstaan en gaan in die herfs van die Noordelike Halfrond voor die hoogste Amerikaanse hof in Washington DC, dien.

In die uitsprake in die geding tot dusver het dit nie regstreeks oor die vergoeding van maatskappydirekteure en -bestuurders gegaan nie, maar oor die geld wat die trustees van effektetrusts aan die institusionele batebestuurders van sulke fondse betaal.

In die uitsprake is egter telkemale na die duidelike analogie met betalings aan maatskappye se grootbase verwys.

Die struktuur van sulke fondse in die VSA is dieselfde as by ons, waar die Wet op die Beheer van Kollektiewe Beleggingskemas van 2002 hierdie skemas reël. Klein beleggers dra by tot ’n effektetrust ingevolge ’n kontrak wat die beleggers toelaat om hulle geld te eniger tyd met ’n wins of verlies terug te vra.

Die geld word deur die trustees van die skema op advies van ’n kundige bestuurder in genoteerde aandele belê. Die trustees vergoed die bestuurder op ’n ooreengekome grondslag vir die advies.

In Suid-Afrika, soos in die VSA, is baie van hierdie trusts juis in die lewe geroep deur professionele batebestuurders wat aan groot finansiële instellings gekoppel is.

So het die groot versekeraars soos Liberty, Ou Mutual en Sanlam almal filiale wat bestuursdienste lewer aan effektetrusts wat deur die versekeraars geskep is.

Op 19 Mei 2008 het die sewende afdeling van die Amerikaanse hof van appèl in Chicago in Jones v Harris Associates uitspraak gelewer in ’n geskil tussen drie beleggers in ’n effektetrust en die bestuurder van die fonds. Harris Associates is die bestuursmaatskappy vir verskeie fondse met die handelsnaam Oakmark. Histories is daar ’n noue band tussen Harris en dié fondse.

Die eisers beweer Harris se vergoeding vir die bestuursdienste is te hoog en dat dit artikel 36(b) van die federale Beleggingsmaatskappye-wet van 1940 soos gewysig in 1970 oortree.

Dié artikel bepaal dat so ’n bestuurder ten opsigte van sy vergoeding geag word in ’n vertrouensverhouding met die effektetrust te staan.

Volgens die eisers impliseer vertrouensplig dat die bestuurder nie buitensporige vergoeding mag vra nie en dat enige ooreenkoms wat daarvoor voorsiening maak ongeldig is.

Gesag vir dié standpunt vind hulle in ’n uitspraak van die tweede afdeling van die hof van appèl, wat verantwoordelik is vir New York-staat en omgewing. In 1982 het dié hof in Gartenberg v Merrill Lynch Asset Management beslis: “To be guilty of a violation of section 36(b)... the adviser-manager must charge a fee that is so disproportionately large that it bears no reasonable relation-ship to the services rendered and could not have been the product of arm’s-length bargaining”.

Die kontrak tussen die Oakmark-fondse en Harris Associates bepaal dat Harris as bestuurder per jaar geregtig is op 1% van die eerste $2 miljard se fondsbates, ’n persentasie wat trapsgewyse daal tot 0,75% van enigiets oor $5 miljard. Volgens die hof is dit vergelykbaar met die vergoeding wat ander batebestuurders vir fondse met soortgelyke doelwitte vra.

Die probleem is dat Harris ’n laer tarief vir onverwante institusionele beleggers het. Vir vergelykbare pensioenfondse buite die “Harris-stal” begin dit byvoorbeeld met 0,75% vir die eerste $15 miljoen, wat daal tot 0,35% vir bedrae bo $500 miljoen.

Vir die eisers beteken die bestaan van twee tariefstrukture dat daar geen werklike mededinging ten opsigte van die vasstelling van Harris se tarief vir die Oakmark-fondse was nie. Dit is dus geheel en al buite verhouding, soos in die Gartenberg-uitspraak gemeen is.

Die Chicago-hof, by monde van regter Frank Easterbrook, verwerp die eisers se argument omdat dit nie genoeg kennis van die werking van die vrye mark neem nie.

Die tariewe wat Oakmark moes betaal, is dié wat algemeen in die markplek deur bestuurders gevra word.

Beleggers wat die tariewe te hoog vind, kan hulle beleggings na goedkoper fondse skuif. Buitendien kom die Gartenberg-benadering neer op regulering deur die howe: “A fiduciary duty differs from rate regulation. A fiduciary must make full disclosure and play no tricks but is not subject to a cap on compensation. The trustees (and in the end investors, who vote with their feet and dollars), rather than a judge or jury, determine how much advisory services are worth”.

Regter Easterbrook het hom beroep op ’n analogie met maatskappydirekteure se vertrouensverhouding met die maatskappye in wie se direksies hulle dien. Geen Amerikaanse hof het hom nog afgevra of hul gelde onredelik is nie. ’n Latere poging deur die eisers om die Harris-saak te heropen, het aan ’n minderheid regters die kans om ’n afwykende mening uit te spreek, gegee. Hulle spreekbuis is regter Richard Posner, gesiene voormalige regsprofessor aan die Universiteit van Chicago en bekend vir sy werk oor die toepassing van ekonomiese beginsels in die regspraak.

Vir Posner gaan dit nie soseer om ’n vergelyking van Harris se Oakmark-tarief met die tariewe wat ander effektetrust-bestuurders húl kliënte vra nie, maar om ’n onderlinge vergelyking van die verskillende Harris-kliënte se tariewe. Die meeste se benadering het ongewenste gevolge: “The governance structure that enables mutual fund advisers to charge exorbitant fees, is industry-wide, so the majority’s comparability approach would if widely followed allow those fees to become the industry’s floor”.

Wat die analogie met die vergoeding van maatskappydirekteure betref, kap Posner terug: “The majority opinion points out that courts do not review coporate salaries for excessiveness. That misses the point, which is that unreasonable compensation can be evidence of a breach of fiduciary duty.”

Dié standpunt van regter Posner is sedertdien gesteun deur die agtste afdeling van die hof van appèl in St Louis in die saak van Gallus v Ameriprise Financial Inc (op 8 April 2009).

Die kernvraag of die beding van buitensporige vergoeding strydig kan wees met ’n vertrouensplig gaan nou deur die nege lede van die hoogste Amerikaanse hof beantwoord word. Die onlangse aanstelling in dié hof van Sonia Sotomayor, ’n vrou met ’n Puerto Ricaanse agtergrond uit ’n arm buurt van New York, kan die besluit ten gunste van die meer intervensionistiese Posner-benadering swaai.

Suid-Afrikaanse sakeleiers moet van sodanige verwikkelinge kennis neem. Ons Maatskappywet van 2008, wat waarskynlik op 1 Julie 2010 in werking tree, sal die Posner- benadering aanhelp.

Dit herbeklemtoon direkteure se vertrouenspligte en skep nuwe remedies vir ontevrede aandeelhouers (byvoorbeeld groepeise). Dit vereis veral in artikel 158(a) dat die howe “die gemene reg na behoefte moet ontwikkel om die realisering en genot van regte wat deur hierdie Wet gevestig word, te verbeter”.

– Prof. Van Wyk, ’n regsgeleerde, is oudrektor van die Universiteit Stellenbosch.

  • page

 

Lewer kommentaar

(Geen kru taal of haatspraak nie, asb.)
Kommentaar vir hierdie artikel is toe

Indekse

Laas Opgedateer: Dins 16:07

Kyk na datablaaie

Maatskappye-Kitsblik

Compare and Buy

Compare and apply for hundreds of financial products from many suppliers.

Credit cards Medical aid Current accounts Think Money
Loading...