Die jaarlikse arbeidsregkonferensie van die regsuitgewers
LexisNexis is al 15 jaar lank ’n spieëlbeeld van onderstrominge in die land se
werkmag.
Die sprekers en die gehoor van sowat ’n duisend is ’n unieke
vermenging van top-regslui, gewone regspraktisyns, kwasi-regslui wat werk vir ’n
wye verskeidenheid organisasies wat insluit vakbonde en bedingingsrade en senior
bestuurders van mensehulpbron-afdelings van al die land se grootste
maatskappye.
’n Mens wil nie negatief wees nie. Ons het immers al lank ’n
oordosis aan slegte nuus, maar die stemming op verlede week se konferensie kon
’n mens nie miskyk nie: Die land se mensehulpbron-strategie is besig om te
misluk.
Aan die bopunt is die vergoeding van maatskappy-hoofde besig om
buite beheer te raak. ’n Gesamentlike voorlegging deur twee arbeidsprokureurs
wat hierin spesialiseer, mee. Debbie Collier en Kathy Idensohn, het die
belaglikheid uitgewys van ekonome wat eis dat vakbonde se looneise met
inflasiekoerse moet tred hou.
“Die salarisse van uitvoerende direkteure het verlede jaar met
gemiddeld 11,6% gestyg. Uitvoerende hoofde se salarisse het met gemiddeld 14%
toegeneem en nie-uitvoerende direkteure se vergoeding het met 15% gestyg. Die
gemiddelde loon van lae loon-werkers het met 10,1% gestyg,” het Collier
gesê.
Die gemiddelde vergoeding van ’n uitvoerende direkteur was
R6,4 miljoen per jaar. ’n Uitvoerende hoof s’n was R10,4 miljoen en ’n
nie-uitvoerende direkteur het gemiddeld R522 000 huis toe geneem.
Die gemiddelde loon van laags besoldigde werkers was R31 704 per
jaar, het Collier gesê.
Apartheid was ’n stelsel wat enorme ongelykhede geskep het. Daarom
is post-apartheid Suid-Afrika onherroeplik daartoe verbind om ongelykheid te
verminder, maar 16 jaar later is die boodskap uit die gemeenskap van
professionelemensehulpbronpraktisyns soos op dié arbeidsreg-konferensie
baie ondubbelsinnig: Ons verloor hierdie stryd.
Ongelykheid word trouens groter,
nie kleiner nie.
Die afgelope 16 jaar is ’n miljoen werkers in een of ander vorm van
informele werk – soos arbeidsmakelary – met minder sekuriteit ingestoot, het
mnr. Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse hoofsekretaris van Cosatu, op die kongres
gesê.
Volgens hom was dié vorm van indiensneming in ’n ekonomiese sin en
in praktyk ’n terugkeer na slawe-arbeid.
Die taamlike sinnelose debat oor ’n algehele verbod op
arbeidsmakelary moet dalk die skuld kry daarvoor dat die gevolge van dié
werkvorm nooit werklik in die sakegemeenskap oorweeg word nie.
Dié werkvorm is dalk geskep om die koste van sake doen te verminder
deur uit die gewaande “duur” arbeidswetgewing uit te kontrakteer.
Dit sou hopelik lei tot groter winsgewendheid en vinniger
ekonomiese groei wat op sy beurt meer werkgeleenthede skep.
Maar arbeidstatistieke wys dat dit nie gebeur het nie. Die
werkgeleenthede wat wel geskep is, het blitsvinnig tot niet gegaan in die
resessie, al is Suid-Afrika in ander opsigte minder erg deur die afswaai getref.
Maar die uitwerking van die informele werkvorm op die maatskaplike weefsel van
werkergemeenskappe was vernietigend.
“In ’n land met ’n effektiewe werkloosheidskoers van 40% met bitter
skraal vooruitsigte op indiensneming op die kort termyn, lê daar ’n verskriklike
las op werkers wat wel salarisse verdien. ’n Loonverdiener het nie net sy
onmiddellike gesin vir wie hy moet sorg nie – sy uitgebreide familie is ook van
hom afhanklik. Wanneer só iemand se inkomste verminder word deur ’n verskuiwing
van formele na informele indiensneming, het dit ’n vernietigende uitwerking – op
sy onmiddellike familie maar ook op sy uitgebreide familie.
“Die maatskaplike uitwerking daarvan is enorm. Ons voeg nou by die
leër van werkloses nóg ’n groep met minder veilige werk, wat nie meer in staat
is om te begroot en te beplan vir hul naasbestaandes nie. Soos werkloses kan
hulle nie meer op ’n betekenisvolle manier aan die ekonomie deelneem nie,” sê
Ehrenreich.
Hy meen dít is die rede waarom ongelykheid in die land toegeneem
het sedert die einde van apartheid, soos die gini-koëffisiënt (’n manier om die
ongelyke verdeling van inkomste te meet) toon wat verlede jaar op 0,679 gestaan
het. Suid-Afrika dra daarmee die brandmerk dat hy nou die mees ongelyke
gemeenskap ter wêreld is. Dis ook die grondliggende oorsaak van die tekens van
maatskaplike onstabiliteit en oproer oor gebrekkige dienslewering wat nou in
gemeenskappe gesien word. (Tien jaar gelede sou niemand dit gewaag het om enige
protesaksie in townships te loods sonder Cosatu se medewerking nie. Deesdae is
dit taamlik algemeen.)
Dis die simptome van die revolusiedroom wat nie waar geword het
nie, die werkers wat die winste van die revolusie
misgun word en die droom van maatskaplike
verandering wat nie waar word nie.
Dit moet onvermydelik tot stryd lei. Op die oomblik is die howe en
ander instellings nog die terrein van dié stryd, maar dis geleidelik besig om
dié instellings te verswak.
Daarom klink daar toenemend eise op soos die verbod op
arbeidsmakelaars, die nasionalisering van myne en eise vir grondbesettings. Dis
ook die rede vir ’n toename in stakingsyfers, ná meer as ’n dekade waarin
stakings ál minder geword het.
Sestien jaar van ekonomiese groei het nie die maatskaplike wonde
laat genees nie. Pleks daarvan het hebsug die maatskaplike akkoord en die
Grondwet en ander wetgewing losgetorring.
“Ons het ’n nuwe visie nodig wat die reg in lyn bring met ons
maatskaplike werklikhede,” het Ehrenreich gesê.