Andreas van Wyk
Verhoor deur gelykes "dien as demokrasie"
Die Amerikaanse gehegtheid aan juries in strafsake het weer na vore gekom met die onlangse verhoor van die pop-gril Michael Jackson op aanklagte van onsedelike aanranding van 'n jong seun.
In der waarheid gaan dié gehegtheid verder as strafsake en word juries ook in sommige siviele sake gebruik, met interessante gevolge.
Vir buitestanders is die juriestelsel soms vreemd en selfs lagwekkend, maar 'n mens moet die historiese konteks daarvan in die Angel-Saksiese regsgeskiedenis in ag neem om te begryp waarom die reg op verhoor deur 'n jurie selfs in die Amerikaanse grondwet van 1787 veranker is. Die juriestelsel is ook nie beperk tot die Engelssprekende lande nie en word in 'n mate ook in lande soos Duitsland en Frankryk gebruik.
Magna Carta
Die idee dat 'n beskuldigde verhoor moet word deur sy gelykes het ou wortels in die Germaanse stamme waaruit die meeste bewoners van die Britse eilande en ook die meeste Afrikaanssprekendes afkomstig is. Dit het 'n rol gespeel in die opstand van die Engelse baronne teen koning John wat in 1215 op die historiese skikking bekend as die Magna Carta uitgeloop het.
Die Engelse herlei vandag nog sekere basiese beginsels van hul ongeskrewe grondwet, soos die reg om onmiddellik ná inhegtenisname in 'n hof te verskyn en deur gelykes verhoor te word, na die Magna Carta.
Koninklike absolutisme
Soos die Engelse konings sedert die 16de eeu probeer het om hulle as absolute heersers te vestig, het hulle ook koninklike howe sonder juries gestig. Die berugste van dié koninklike howe was die sogenaamde Star Chamber, genoem na die saal met 'n ster-versierde plafon waarin dit vergader het. Uit reaksie teen sulke koninklike absolutisme, veral onder die outokratiese Stuart-konings, is die Star Chamber-hof in 1641 afgeskaf en het die ideaal van regspraak deur verteenwoordigers van die volk al hoe sterker gevestig geraak.
Die Engelse kolonies in Noord-Amerika het hierdie ideaal oorgeneem en selfs versterk uit reaksie teen wat die koloniste as outokratiese regering en regspraak deur Engelse goewerneurs beleef het.
Ná die suksesvolle opstand teen die bewind van koning George III in die laat 18de eeu is die beginsel dat 'n vrye burger deur 'n jurie van sy gelykes verhoor moet word, dus grondwetlik veranker. Deur die daaropvolgende twee eeue het die reg op 'n jurieverhoor amper 'n geloofsbelydenis in die VSA geword.
Britse kolonies
Ook die latere Britse kolonies in die nuwe wêreld het die juriestelsel oorgeneem, ten minste vir hul nuwe inwoners van Europese afkoms. In Australië en Kanada byvoorbeeld is die inheemse mense gou kant toe geskuif en het die gebruik van juries in strafsake die norm geword.
Aan die Kaap de Goede Hoop is die juriestelsel in 1831 ingevoer, waarvandaan dit mettertyd in 1910 deel van die reg van die verenigde Unie van Suid-Afrika geword het. Alle beskuldigdes het die keuse gehad om verhoor te word deur 'n jurie bestaande uit nege blanke mans. Se we ja-stemme was nodig vir 'n skuldigbevinding.
Dit moet besef word dat 'n jurie slegs oor feitevrae bevindings mag doen. Omdat die jurielede geen regskennis het nie, moet die regter enige regskwessies, soos die toelaatbaarheid van getuienis, beslis. In baie lande moet die jurie se besluit ten gunste van skuldigbevinding eenparig wees, terwyl ander 'n groot meerderheid vereis. Die straf wat in die geval van 'n skuldigbevinding opgelê word, is ook in die hande van die regter en nie van die jurie nie.
Die juriestelsel het nooit diep wortels in Suid-Afrika geskiet nie. Nie-wit beskuldigdes was nie juis geneig om 'n jurie bestaande slegs uit wit mans te vertrou nie. Wit vroue was nog meer geneig om dit te doen. Dit is egter veelseggend dat geen vrou ooit gebruik gemaak het van die moontlikheid om sedert 1931 te vra vir 'n jurie van wit vroue nie.
Allerlei uitsonderings
En dan was daar allerlei uitsonderings waar die reg om op 'n jurieverhoor aan te dring, nie gegeld het nie omdat die minister van justisie in 1935 die mag gekry het om 'n verhoor deur 'n regter en assessore te gelas.
Misdade oor die kleurgrens heen was een so 'n geval. Nog een was onwettige diamanthandel. Mens kan jou nogal voorstel hoe 'n staatsaanklaer sou sukkel in 'n verhoor van 'n beweerde diamantsmokkelaar in Upington of Warrenton voor nege mans uit die omgewing.
Die gebruik van juries was dus in die praktyk al dood toe die formele afskaffing daarvan in 1969 deur die parlement gevoer is. Die redes daarvoor was egter grotendeels te vinde in Suid-Afrika se verdeelde samelewing, eerder as in inherente eienskappe van die stelsel.
Duidelike oorblyfsels daarvan bestaan ook vandag nog in ons reg. In ernstige misdade kan die regter of landdros besluit dat hy die hulp van twee assessore wil hê. Sulke assessore, wat meestal 'n regsagtergrond het, beslis saam met die regter oor feitevrae en kan hom selfs oorstem. Dis nes 'n verhoor deur 'n jurie van drie, hoewel dit gewoonlik nie mense uit die algemene publiek is nie.
Demokratiese erfenis
Vir Britte en veral vir Amerikaners is die juriestelsel 'n kernbestanddeel van hul demokratiese erfenis. Om dit af te maak as 'n euwel waar besluite bloot op grond van die emosies van jurielede geneem word, soos onlangs weer na aanleiding van die Jackson-saak gedoen is, toon 'n gebrek aan insig in die werking van die stelsel in die betrokke lande.
'n Mens sou wel aanneem dat professionele regsprekers op grond van hul ervaring vinniger tot gevolgtrekkings kan kom, maar doeltreffendheid is nie die enigste maatstaf waarmee regsprekende prosedures beoordeel kan word nie.
Die gebruik van juries verhoog die legitimiteit van die betrokke howe se beslissings in die wye bevolking, iets wat nie gering geskat kan word nie, soos ook die Suid-Afrikaanse Regskommissie in 1997 uitgewys het.
En daar is geen empiriese bewys dat 12 mense met al hul vooroordele, maar met gesonde verstand en met duidelike opdragte van 'n bekwame regter, meer dikwels foute maak as 'n enkele opgeleide regspreker met al sý moontlike vooroordele nie.
In Suid-Afrika se ontwikkelende en kultureel diep verdeelde samelewing is daar min steun vir die herinvoering van juries. Dit beteken nie die stelsel is per definisie dom nie.
Van Wyk is 'n voormalige professor in handelsreg en oudrektor van die Universiteit van Stellenbosch.