Veranderinge kan KMO’s tot hul reg laat kom

Dit is verbasend dat die regering nie daarin kon slaag om ’n ondersteuningstelsel vir KMO’s op die been te bring nie.

Wat kan jý doen met 'n miljoen?

Woeker met jou aandele in Sake24 en Sanlam iTrade se Wat kan jý doen met ’n miljoen?-kompetisie en jy is dalk R100 000 ryker.
Waar's ek? Sake24.com

Regspunte:(Byna) alle (regs)paaie lei van Rome af

Mei 11 2005 23:47 Andreas van Wyk Druk hierdie artikel  |  Stuur artikel via e-pos

Verwante Artikels

 
Die Kerk van Rome is sekerlik die oudste instelling met 'n deurlopende bestaan in die Westerse wêreld.

Met die onlangse dood van pous Johannes Paulus II en sy opvolging deur Benedictus XVI is die wêreld se aandag opnuut gevestig op hierdie eeue oue instelling. Mense is egter nie altyd bewus van die groot rol wat dit ook in die ontwikkeling van die Westerse reg gespeel het nie.

Tot met die Protestantse Hervorming in die vroeë 16de eeu n.C. was die Kerk van Rome in Wes-Europa inderdaad Katoliek in die oorspronklike Griekse sin van die woord, "algemeen" of "universeel".

Die Kerk van Rome het sedert sy verheffing tot staatskerk in die laat-Romeinse ryk nie net aanspraak gemaak op die lojaliteit van alle mense nie, maar later ook op die oppergesag oor die wêreldlike heersers van die tyd.

Ná die groot skeuring in die 11de eeu n.C. tussen die Ooste se Ortodokse kerk met sy setel in Konstantinopel (die huidige Istanboel ) en die Weste se Katolieke kerk met sy setel in Rome, was hierdie aansprake in die praktyk tot Wes-Europa beperk.

Hulle is nietemin met groot vasberadenheid en dikwels met vervolging en geweld teen twyfelaars en afwykendes verdedig.

Vir baie eeue was daar dus van skeiding tussen staat en kerk in vele opsigte nie sprake nie. Benewens die doop en die nagmaal het die kerk vyf verdere sakramente erken, waarvan die huwelik een was.

Dit het meegebring dat die kerk aanspraak gemaak het op alle wetgewende en regsprekende gesag oor die huweliksreg en regskwessies wat met die huwelik verband hou, soos die egtelikheid van kinders.

Só is openbare kennisgewing van die voorneme om te trou algaande vereis en is egskeiding van die laat-Middeleeue af totaal verbied. Vandag nog toon ons huweliksreg duidelik die invloed van die Kanonieke reg (so genoem na die canones, die besluite van die kerkvergaderings).

Ook onderwerpe wat ons vandag as deel van die gewone private reg beskou, is deur kerklike voorskrifte bë?nvloed. Só het die kerk die Bybelse verbod op woeker uitgelê as 'n verbod op die hef van enige rente, met allerhande gevolge vir die kontraktereg. Ook belangrike beginsels soos pacta sunt servanda (geen formaliteite is nodig om 'n kontrak bindend te maak nie) kom uit die kerkreg van die Middeleeue, om nie te vergeet van aspekte van ons verjaringsreg nie.

Voeg hierby die feit dat die kerk regstreeks (en onregstreeks deur sy kloosters) verreweg die grootste grondeienaar van die tyd was en dus ook 'n groot invloed op kwessies soos eiendomsreg gehad het.

In die chaotiese oorgangstyd ná die finale verval van die Romeinse ryk in die Weste in die vyde eeu n.C. het barbaarse Germaanse stamme hulle oral in die geromaniseerde Wes-Europa gevestig.

Hulle het uiteraard hul eie primitiewe regsreëls saamgebring en daar volgens geleef. Die kanse was dus goed dat die gesofistikeerde Romeinse reg saam met die staat wat dit geskep het, sou verdwyn. Dit is egter juis hier waar die kerk 'n eerste sleutelrol in ons regsontwikkeling gespeel het.

Die kerk het homself as 'n voortsetting van Rome beskou en het daarom gefunksioneer volgens die beginsel
ecclesia vivit secundum legem Romanam (die kerk leef ooreenkomsig die Romeinse reg).

In sy hantering van sy eiendomme en sy kontrakte met huurders, in die neerlê van prosedures in sy howe, kortom in al sy regshandelinge, het die kerk die Romeinse reg probeer toepas, dikwels in 'n vereenvoudigde vorm.

Dit het daartoe gelei dat ook baie van die skriftelike regsbronne in die kloosters en kerkargiewe behoue gebly het terwyl ander Romeinse tekste verlore gegaan het.

Toe die Middeleeue verby was en die eerste regsfakulteite hul verskyning in Noord-Italië en Suid-Frankryk gemaak het, kon die regsprofessore begin met die akademiese studie van die Romeinse regsbronne wat só behoue gebly het.

Hul studente het dwarsdeur Europa in die staatsadministrasie en regsberoep hul kennis van die Romeinse reg toegepas, 'n proses wat vandag die resepsie van die Romeinse reg genoem word en waarvan ook ons Romeins- Hollandse reg 'n produk is.

Slegs in Engeland en in mindere mate in Skandinawië was daar nie so 'n omvattende aanvaarding van die Romeinse reg nie en het groot dele van die primitiewe Germaanse regstelsels behoue gebly.

Daaruit het die moderne Engelse reg ontwikkel, hoewel ook die Romeinse invloed van die kerklike howe neerslag gevind het.

Van vroeg af is die bronne van die kerkreg (pouslike dekrete, besluite van kerkvergaderings, kerklike gewoonte en beginsels van die Romeinse reg) versamel .

In 1582 word 'n omvattende versameling bekend as die Corpus Juris Canonici deur pous Pius V gepubliseer, wat in 1917 juis deur die vorige Benedictus vervang is deur die nou nog geldende Codex Juris Canonici (deeglik hersien in 1983).

Van regstreekse toepassing is die Kanonieke reg lankal nie meer in Suid- Afrika en in ander lande met 'n Protestantse tradisie nie. In Katolieke lande het dit egter tot in die tweede helfte van die 20ste eeu regstreekse toepassing op veral die familiereg van lande soos Italië, Spanje en baie state in Suid- Amerika gehad.

Selfs vandag nog word van gelowige Katolieke verwag om hulle in onder meer hul huwelikslewe aan die kanonieke reg te hou. Hulle mag dus nie skei nie, hoewel 'n kerklike hof skeiding van tafel en bed kan toestaan. Die hoogste kerklike hof, die Sacra Rota Romana in Rome, kan 'n huwelik ook nietig verklaar op gronde soos impotensie by huweliksluiting of oortreding van die verbode grade van verwantskap.

Was dit nie vir die vele voorgangers van Benedictus XVI oor amper twee millennia nie, sou die reg van groot dele van die moderne wêreld, waaronder Suid-Afrika, nie gelyk het soos dit vandag lyk nie.
   

  •  Van Wyk is 'n voormalige professor in handelsreg en oudrektor van die Universiteit van Stellenbosch.
    • page

     

    Lewer kommentaar

    (Geen kru taal of haatspraak nie, asb.)
    Kommentaar vir hierdie artikel is toe

    Indekse

    Laas Opgedateer: Dond 17:44

    Kyk na datablaaie

    Maatskappye-Kitsblik

    Compare and Buy

    Compare and apply for hundreds of financial products from many suppliers.

    Credit cards Medical aid Current accounts Think Money
    Loading...