Londen. – Mnr. Tony Hayward, uitvoerende hoof van BP, onderhandel glo met die maatskappy oor ’n
skeidingspakket.
Mense na aan die proses sê ’n aankondiging sal waarskynlik môre
gemaak word wanneer die maatskappy sy resultate vir die tweede kwartaal
aankondig.
Daar word bespiegel dat mnr. Rupert Dudley, die man wat die
probleem met die olielekkasie in die Golf van Mexiko moet oplos, as Hayward se
opvolger aangewys kan word.
Die bronne het egter gewaarsku dat die finale besluit oor Hayward
se toekoms en oor wie sy opvolger gaan wees nog nie geneem is nie.
Die direksie van BP gaan vandag
vergader om ’n besluit oor Hayward se toekoms te neem.
’n Woordvoerder van BP het gister
gesê Hayward geniet nog die steun van die direksie.
Kenners meen Hayward se aansien in Amerika het so laag gedaal dat
hy eintlik ’n risiko vir die maatskappy geword het.
Sedert die ontploffing op 20 April by die Deep Horizon-olieput in
die Golf van Mexiko het BP se markwaarde met sowat
$77 miljard gedaal.
Elf mense is in die ontploffing dood en miljoene liters olie het in
die see ingestroom ,ondanks verskeie pogings om die lekkasie te stop. Die
maatskappy word ook deur eise van $33 miljard in die gesig gestaar.
Die lekplek is nou geseël. BP beplan
om die put teen aanstaande maand permanent met sement toe te maak.
Hayward het die Amerikaanse publiek teen hom laat draai met sy
stelling dat die lekkasie relatief klein in ’n baie groot oseaan is.
Hy het ook gedurende die krisis ’n seiljagvaart onderneem.
The New York Times het Hayward as die mees gehate
man in die VSA bestempel, terwyl pres. Barack Obama van Amerika gesê het hy sou
Hayward afdank.
Dudley, wat as sy moontlike opvolger beskou word, is op 23 Junie
aangestel om die krisis op te los.
Intussen verwag ontleders BP gaan dié
week aankondig dat sy wins vir die tweede kwartaal van $4,4 miljard tot
$5 miljard gaan styg. Die $4 miljard wat BP bestee
het om die olielekplek toe te stop is nie ingereken nie.